NVG ‘geregverdig’ deur hofuitspraak

Francis Antonie, direkteur van die Helen Suzman-stigting. Foto: ANA

Francis Antonie, direkteur van die Helen Suzman-stigting. Foto: ANA

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het Donderdag die hooggeregshof in Pretoria se besluit verwelkom om ʼn hofaansoek, wat ingedien is om pres. Jacob Zuma te verplig om NVG-hoof, Shaun Abrahams te skors, van die hand te wys.

Regterpresident Dunstan Mlambo het namens ʼn volbank van drie regters die Helen Suzman-stigting en Freedom Under Law (FUL) se aansoek met koste van die hand gewys. “Dit was onredelik van die applikante om hierdie aansoek oorhaastig te bring en sodoende die president se versoek vir meer tyd [om die saak te hanteer] te ignoreer,” het Mlambo gesê.

“Ons is oortuig daarvan en daar is genoeg regsgesag wat dit ondersteun, dat die hof net dringend optree in spesiale omstandighede, wanneer ʼn behoorlike saak bestaan daarvoor. Die saak voor ons behels belangrike grondwetlike kwessies wat in die openbare belang in die openbare domein is.”

Die Helen Suzman-stigting en FUL het gesamentlik ʼn dringende hofaansoek ingedien om Zuma te dwing om Abrahams, dr. Torie Pretorius, die hoof van die NVG se eenheid vir prioriteitsmisdaad en Sibongile Mzinyathi, die direkteur vir openbare vervolging in Noord-Gauteng, te skors hangende ʼn ondersoek na hul bevoegdheid om hul ampte te beklee. Die aansoek hou verband met die bedrogaanklagte wat teen Pravin Gordhan, minister van finansies, ingebring is.

Luvuyo Mfaku, woordvoerder van die NVG, het buite die hof aan verslaggewers gesê die NVG het die hofuitspraak verwag. “Dit is die uitspraak wat ons verwag het. Dit regverdig die posisie van die NVG in terme van onafhanklike vervolgingsbesluite. Die dag wat ʼn aanklaer geskors word omdat hy ʼn besluit in lyn met die grondwetlike mandaat geneem het, sal ʼn baie hartseer dag wees,” het Mfaku gesê.

Hy het gesê die feit dat die saak uit die hof gegooi is omdat dit nie as dringend beskou is nie, sonder om die meriete van die aansoek na te gaan, is nie van belang nie. “Ons wou gehad het die hof moet na die meriete van die saak kyk, sodat ons nou hierdie hele kwessie tot ruste kan lê. Ons is moeg vir die ongevraagde aanvalle op die persoon van die nasionale direkteur van openbare vervolging [Abrahams] en die instelling. Ons wil dit in die hof bespreek sodat ons afsluiting kan kry,” het Mfaku gesê.

Zuma het Abrahams, Mzinyathi en Pretorius verlede week versoek om redes te gee hoekom hulle nie geskors moet word nie. Die drie advokate het tot Maandag kans om redes te verskaf.

Francis Antonie, direkteur van die Helen Suzman-stigting, het Donderdag gesê hulle sal regsadvies inwin oor die pad vorentoe. “Ek dink nie ons het die howe onbehoorlik gebruik nie. Die regters het hul mening en ons respekteer dit. Ek dink nie die saak is nou verby nie. Daar is steeds meriete wat oorweeg moet word en ons sal dit oorweeg. Ons sal onmiddellik ons prokureurs hieroor spreek,” het Antonie gesê.

Adil Nchabeleng, leier van Transformation RSA, het gesê die howe moet nie gebruik word as ʼn instrument om die uitvoerende gesag te omseil nie. “Hierdie besluit berus by die president. Ons is hier om die NVG te ondersteun. Ons moet nie die howe op ʼn onvanpaste manier gebruik nie. Daar is ander sake wat fundamenteel in Suid-Afrika is en deur die howe ondersoek moet word. Ongelukkig word hierdie sake nie aangehoor nie en geniet dit nie die nodige prioriteit nie,” het hy gesê.

“Ons is gelukkig met die hof se besluit. Die volbankregters het saamgestem en ons sien uit na nog sulke verrigtinge in die toekoms.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Rocco ·

Het die hofsaak gevolg en dit was duidelik uit die hoofregter se vrae dat hy en die mederegters nie kon insien waarom die aansoek gebring is nie. Hulle kon eenvoudig nie verstaan dat die president nie die vraag aan Ahabrams en kie kon vra waarom hulle nie geskors moet word of waarom daar nie ‘n kommisie van ondersoek gehou moet word nie. Hulle kon ook nie verstaan dat die redes om nie geskors te word in die ondersoek sou uitkom sowel of hulle geskik is vir hul poste.

Dit is na my mening waarom die aansoek nie geslaag het nie.

jaco ·

die regters werk vir die Staat en die Staat (Regering) word tans deur die ANC beheer. So dis net logies dat hulle die versoek van die hand sou wys. Hoe kan die ANC dan die ANC vervolg?

Kaylie ·

Ons hele regsstelsel is glad nie meer so ‘onafhanklik’ en ‘onbevooroordeeld’ soos wat dit veronderstel is om te wees nie. Regters met die regte politieke konneksies word in strategiese plekke geplaas sodat hulle die ‘regte’ besluite moet neem. Dit is so obvious in meeste van hierdie hoë profiel sake.

Kobus 4e ·

Rocco en jaco, een manier om jou dag reg te begin, ruik die koffie , drink die koffie en word wakker.
Rocco, die vraag is gevra, die aansoek is te vroeg ingedien.
jaco die regters werk nie vir die staat nie, daar is teveel uitsprake teen die regering om jou gevolgtrekking verkeerd te bewys.
Lekker dag, begin dit met ‘n goeie koppie koffie :-)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.