NVG-hoë glo geskors na Breytenbach-dokument uitlek

Adv. Glynnis Breytenbach. Foto: Werner Beukes/SAPA

Adv. Glynnis Breytenbach. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) wil nie kommentaar lewer op berigte dat die hoof van sy integriteitsbestuurseenheid geskors is nadat ‘n dokument oor Glynnis Breytenbach, voormalige aanklaer van die NVG, aan die media uitgelek is nie.

“Geen kommentaar, ek sê ons lewer nie kommentaar oor hierdie kwessie, dit is ‘n interne aangeleentheid, nie ‘n openbare saak nie,” het Nathi Mncube, woordvoerder van die NVG, aan Sapa gesê.

The New Age berig dat Prince Mokotedi, hoof van die NVG se integriteitsbestuurseenheid, Vrydag ‘n skorsingskennisgewing ontvang het. Dit nadat The Star Donderdag berig het dat ‘n finale verslag deur die NVG glo aanbeveel dat Breytenbach strafregtelik aangekla word vir korrupsie, wangedrag, konflik van belange, bedrog en afpersing vir haar rol in ‘n aantal maatskappye.

In die verslag word daar beweer dat Breytenbach ʼn lening van R11 miljoen van die sakeman Nathan Kirsh bekom het. Kirsch was die klaer in twee sake wat deur Breytenbach ondersoek is. Breytenbach word ook daarvan beskuldig dat sy ʼn donasie van R6,3 miljoen van Kirsch via die F.W de Klerk-stigting aanvaar het om vir haar regskostes te betaal in haar arbeidsdispuut met die NVG.

Breytenbach het Vrydag aan Sapa gesê: “As hulle [die NVG] dink hulle het genoeg bewyse, dan moet hulle voortgaan en my vervolg.”

Breytenbach is in April 2012 uit die NVG geskors en later dissiplinêr verhoor. Sy is in Mei verlede jaar onskuldig bevind en daar is gelas dat sy mag terugkeer werk toe. Sy het egter met haar terugkeer uitgevind dat sy verplaas gaan word. Breytenbach het dit in die arbeidshof teengestaan maar was onsuksesvol. Sy het die NVG verlaat om as LP by die DA aan te sluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.