NVG lê beslag op Vincent Smith se bates

Die voormalige ANC-LP Vincent Smith. (Argieffoto: Henk Kruger/ANA)

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het ʼn beslagleggingsbevel teen voormalige ANC-LP Vincent Smith bekom. Daar is ingevolge die bevel op bates ter waarde van R46 miljoen, waaronder eiendom, ʼn maatskappy en ʼn familietrust, beslag gelê.

Daar is ook beslag gelê op eiendom van Smith se dogter, Brumilda Smith.

Sindisiwe Twala, ʼn woordvoerder van die NVG se ondersoekdirektoraat, sê Smith het Donderdag in die teenwoordigheid van sy prokureur ʼn afskrif van die beslagleggingsbevel ontvang.

Die bevel is reeds vroeër vandeesmaand deur die Johannesburgse hooggeregshof toegestaan en gee Smith opdrag om beheer oor sy bates aan ʼn kurator wat deur die hof aangestel is, te oorhandig.

Die beslagleggingsbevel is bekom om Smith se bates te bewaar hangende ʼn ondersoek na beweerde bykomende onwettige aktiwiteite waaruit die LP voordeel getrek het. Smith word saam met die voormalige hoof van die omstrede maatskappy Bosasa, Angelo Agrizzi, van korrupsie aangekla. Agrizzi het Smith glo telkemale omkoopgeld betaal.

Die beslagleggingsbevel wat ingevolge artikel 26 van die Wet op die Voorkoming van Georganiseerde Misdaad aan die nasionale direkteur van openbare vervolging toegestaan ​​is, strek nie net tot Smith se eiendom en dié van sy familietrust en sy maatskappy Euro Blitz 48 nie, maar ook tot sekere eiendom van sy dogter, Brumilda Smith, en die eiendom van enige ander persoon of entiteit wat ʼn betrokke geskenk kragtens artikel 12 van die wet ontvang het.

Smith en diegene wat vermeld is, word dus verbied om die eiendom te hanteer of te verkoop terwyl die bevel geld. Trevor Hills van PricewaterhouseCoopers (PwC) is as kurator aangestel.

Angelo Agrizzi en Vincent Smith vroeër in die hof. Foto: Verskaf

Maroela Media het vroeër berig Smith en Agrizzi word van korrupsie aangekla nadat Agrizzi opdrag gegee het dat daar betaal word vir veiligheidsopknappingswerk – in die vorm van ʼn elektriese heining om Smith se huis – wat in 2014 altesaam R200 000 beloop het.

In 2015 het hy volgens die klagstaat verseker dat R276 667 aan Smith betaal word.

In 2016 het ʼn bedrag van R345 076, deur Bosasa, glo ook in Smith se rekening beland. Dit is in drie paaiemente betaal.

Die betalings is volgens die staat gedoen as onbehoorlike aanmoediging vir Smith om aan te hou om sy posisie in die parlement – hy is ʼn voormalige voorsitter van die portefeuljekomitee oor korrektiewe dienste (DKD) – tot voordeel van Bosasa te gebruik.

Smith staan ook tereg op belastingbedrog vir betalings wat glo nooit verklaar is nie.

Smith se bates en dié van Euro Blitz 48 en Smith se familietrust bly in die beheer van ʼn kurator hangende die afhandeling van al die sake teen hom.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Karlahari ·

Eish…….hulle kom vir jou.
Hoe gouer hoe beter.
Die seekoei se ore is nou mooi bo die water…..

Dries ·

Mooi MAAR Smith is n klein vissie in die besoedelde water. Ons soek die groot visse in daai water

gatgogga ·

Vincent Smith was baie aktief en ‘n groot dryfveer om Ramaphosa te help om die onteiening sonder vergoeding te laat slaag.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.