NVG maak deurbraak in Guptas se Optimum-myn

Ajay en Atul Gupta. (Foto: ANA)

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het ʼn groot deurbraak gemaak toe ʼn bewaringsbevel in die saak teen die Optimum-steenkoolmyn (OCM) toegestaan is.

Adv. Rabaji-Rasethaba, adjunk- nasionale direkteur van openbare vervolging: batebeslagleggingseenheid, het gesê die Gautengse hooggeregshof het ʼn bewaringsbevel goedgekeur vir die NVG teen diegene wat in 2016 betrokke was om die aankope van die Optimum-steenkoolmyn te “finansier”. Die myn is vir R2,1 miljard aangeskaf deur die Gupta-maatskappy Tegeta Resources.

Die bevel verhoed dat enige verdere stappe gedoen word om die myn se bates te verwyder of te verkoop, omdat dit nou geag word as aankope met die opbrengs uit kriminele aktiwiteit.

“ʼn Kurator is deur die hof aangestel om ʼn behoorlike waardasie van OCM te verskaf. Die kurator sal ook ʼn koper vind wat die myn teen markwaarde sal aanskaf. Dit is goeie nuus vir almal wat besorg was oor die lot van die myn en die gemeenskap waar dit geleë is.”

Rabaji-Rasethaba sê die omvang van die “diefstal” by OCM is ongekend en dit word bevestig deur die grootte van die bewaringsbevel – minstens R3,4 miljard. “Dit is die grootste bewaringsbevel in die geskiedenis van die NVG.”

Die NVG het ʼn weldeurdagte saakstrategie gevolg wat deur ʼn span kundige staatsaanklaers geïmplementeer is en die twee aansoeke gebring het. Die eerste hou verband met alle Gupta-beheerde Tegeta-aandele in OCM en Optimum Coal Terminal, en die hele OCM-onderneming. Die tweede hou verband met ʼn eis van R1,3 miljard van Templar Capital Limited met betrekking op OCM. Templar is ʼn internasionale beleggingsfirma in Bermuda en die grootste onafhanklike krediteur in Optimum.

In die tweede aansoek het Templar se eienaar, Daniel McGowan, onder eed beken dat die geld wat vir sy maatskappy beskikbaar gemaak is, “afkomstig is van geld wat van die Suid-Afrikaanse regering gesteel is”. Die betrokke fondse is toegestaan deur Griffin Line – ʼn maatskappy wat deur Ajay Gupta se seun Kamal Singhala en, in McGowan se eie woorde, “via mnr. Singhala gewas is namens sy pa en ander familielede”.

“Die geld was in effek deel van die ‘wasmasjien’ wat die Gupta-familie en hul vennote gebruik het om miljarde rand te was wat van die mense van Suid-Afrika gesteel is en die aankope van OCM te finansier,” voeg Rabaji-Rasethaba by.

Die uitspraak deur die hooggeregshof verhoed dat ʼn sogenaamde sakereddingsplan in werking gestel kan word by OCM.

Rabaji-Rasethaba sê die uitspraak is deurslaggewend vir verskeie redes. Dit bevestig onder andere die sentrale rol wat die Gupta-familie gespeel het om verskeie “lenings” en transaksies deur verskeie sake-entiteite te struktureer. Die hofdokumente is ook oortrek deur name van Gupta-beheerde maatskappye en vennote en hulle word aangedui as die ontvangers van miljoene rand wat uit die staatskas gesteel is. Dié maatskappye sluit in Sahara Computers, Islandsite Investments en Oakbay Investments.

“Dit bevestig ook die grootskaalse diefstal van staatsgeld om die Gupta-ryk te bou, insluitend die korrupsie en bedrog wat by Eskom plaasgevind het, waar reëls gebreek is om staatsgeld te steel deur kontrakte te bespoedig en Tegeta in staat te stel om die aankope van die Optimum-steenkoolmyn gedeeltelik te finansier. Dit bevestig ook die wanaanwending van geld uit die Transnet-pensioenfonds, gefasiliteer deur die Guptas via Trillian en Regiments.”

Rabaji-Rasethaba sê dit is ook ʼn bewys van die doeltreffendheid van die batebeslagleggingseenheid van die NVG wat saam met ondersoekbeamptes van die ondersoekdirektoraat werk.

Die saak is aan die NVG se ondersoekdirektoraat oorhandig vir verdere ondersoek en vervolging.

Die ondersoekdirektoraat wou hê die aansoeke moet voor 28 Maart 2022 aangehoor word aangesien dit die sperdatum is vir die implementering van die Optimum-sakereddingsplan.

Maroela Media het vroeër berig die ondersoek kom vyf jaar nadat adv. Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer, haar staatskapingverslag uitgereik het waarin uiteengesit is hoe Tegeta Resources, ʼn maatskappy wat deur lede van die Gupta-familie besit en beheer word, Optimum Coal Holdings van Glencore vir R2,1 miljard verkry het.

Tegeta het ʼn maand voor die transaksie nie die R2,1 miljard gehad om die myn te koop nie. Kort daarna is geld van verskeie Gupta-beheerde entiteite, insluitend Oakbay Investments, Albatime en Centaur, na Tegeta se rekening as lenings oorgeplaas.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Lida ·

Wonder wanneer hulle die werkers se agterstallige salarisse gaan betaal?? Dit is nou darem al jare overdue????

Jacobus ·

Wanneer gaan hierdie Guptas aan Suid Afrika uitgelewer word? Wanneer gaan almal insluitend alle ministers en Zuma aangekla en toegesluit word?

Wondermaarnet ·

Dit draai net stadig as jou van zuma of gupta is of as jy ‘n ANC kader is.

Wondermaarnet ·

Hoe moeilik kan dit wees om hulle vas te trek? Interpol is seker onder ANC mag en WIL nie die Guptas vang nie.

Wallace ·

There are many people,including myself that have worked years for Optimum.Many of us have lost everything,Policies,cars,houses,even our dignity.We can’t find work due to our age ,so what are we to do?The state official’s that were implemented with the Guptas walk freely!

Stofdonkie ·

Net jammer hulle gaan nooit ‘n koper kry vir die myn teen die bedrae wat hier genoem word nie. Die winsgewindheid van die myn was direk afhanklik van die prys waarteen Eskom die steenkool aankoop. Eskom gaan nie aan die volgende eienaar van die myn dieselfde prys betaal as wat hulle betaal het toe dit onder gupta-beheer was nie.

Kensy ·

Die Gutas was INSTAAT gestel deur IEMAND in die regering.
KOM ONS BEGIN BY DIE PUPPET MASTER!!!
Die Guptas sal vry bly totdat die puppet master sy kop neerlê… want hulle is bang vir wat hulle gaan bekend maak.

Swerwer ·

Nou eers? Nee genade dit moes heel eerste plaasgevind het. Maar nou ja, aan wie het ons dit te danke? Die ANC.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.