NVG mag wel miljard van Regiments bevries

geld 4 kontant rand

Foto ter illustrasie. (Argieffoto)

Die ondersoekdirektoraat van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) mag wel nou die Regiments-groep se bates, ter waarde van meer as R1 miljard, bevries. Dit nadat die appèlhof die aanvanklike magtiging, wat later omgekeer is, bekragtig het.

Die beperkingsbevel is boonop vermeerder van R1,1 miljard tot R1,6 miljard.

Dié groep, wat bande met die omstrede Gupta-familie het, is aanvanklik ondersoek vir sy beweerde betrokkenheid by bedrog en korrupsie met die toekenning van tenders en/of kontrakte vir die aankope van lokomotiewe, sowel as spoorinstandhoudingswerk by Transnet tussen 2010 en 2019.

Die hooggeregshof in Johannesburg het in 2019 ʼn beperkingsbevel van meer as R1 miljard toegestaan, maar die besluit is in 2020 omgekeer omdat die direktoraat versuim het om wesenlike inligting oor die maatskappy bekend te maak.

Die direktoraat het hom egter tot die appèlhof gewend en die regter het Dinsdag beslis dat die bates nie net gevries kan word nie, maar dat die bedrag ook opgestoot moet word tot R1,6 miljard.

Luidens ʼn verklaring van die direktoraat het die hof in sy besluit in ag geneem dat Regiments reeds meer as R600 miljoen aan Transnet se vastevoordeelsfonds terugbetaal het.

Dit bring die totaal bates wat bevries mag word, af tot net meer as R1 miljard.

Adv. Andrea Johnson, direkteur van die direktoraat, beskryf hierdie bevel as ʼn oorwinning vir geregtigheid.

“Dit was ʼn taai stryd, maar dit is ʼn oorwinning in die lang stryd teen staatskaping. Dit is ook net die begin van wetstoepassers se pogings om die staat uit die kake van staatskaping terug te eis,” sê sy.

Benewens die Regiments-saak het die direktoraat tot dusver 82 ondersoeke na soortgelyke sake van stapel gestuur.

“Dit is ʼn duidelike aanduiding dat die direktoraat hard aan die werk is om diegene wat verantwoordelik is [vir hierdie soort misdade] tot verantwoording te roep.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.