NVG moet sê oor vervolgings by Jhb-metro

Burgemeester van Johannesburg, Herman Mashaba. (Foto: ANA)

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het onderneem om teen Vrydag terugvoer aan die Johannesburgse metroraad te gee oor of hy voortgaan met die vervolging van ʼn aantal sake van beweerde misdadigheid wat die stad se teen-korrupsie-eenheid blootgelê het.

Die onderneming kom ná ʼn opdrag van die Gautengse direkteur van openbare vervolging, adv. Andrew Chauke, dat die uitstaande ondersoeke na die sake teen 30 April afgehandel moet wees.

“Ek het vanoggend aan adv. Chauke en die hoof van die nasionale vervolgingsgesag, adv. Shamila Batohi, geskryf dat die stad angstig op hulle besluit wag. Gegewe die historiese gebrek aan aandag wat die NVG vantevore aan die sake geskenk het, het ek ook my teleurstelling uitgespreek oor wat lyk soos net nóg ʼn vertraging in die vervolging van dié ernstige sake van korrupsie,” het Herman Mashaba, burgemeester van Johannesburg, gesê.

Mashaba het gesê die metroraad doen alles moontlik om die diefstal van openbare geld en eiendom in Johannesburg te stuit en is vasbeslote om toe te sien dat geregtigheid geskied.

Mashaba het ʼn aantal voorbeelde genoem van beweerde misdadigheid, maar waar die sake laat vaar of glad nie verder gevoer is nie.

“Die NVG het vantevore besluit om vervolging in ʼn hele aantal sake te staak. Dít ten spyte van oorweldigende bewyse teen die beskuldigdes. Een só ʼn saak is teen Mbali McClare, wat in hegtenis geneem is omdat sy [glo] doelbewus 22 eiendomme in die stad onderwaardeer het met ʼn geraamde waarde van R500 miljoen. Die NVG het die saak verlede jaar teruggetrek,” het Mashaba gesê.

“Ons is destyds ingelig dat die NVG geen ander keuse gehad het as om die saak terug te trek nie, omdat hy nie verklarings by die eienaars van die eiendomme wat onderwaardeer is, kon kry nie. Die spesiale misdaadeenheid van die NVG in Johannesburg word egter in ʼn gebou gehuisves wat deur een van dié individue besit word. Die stad se groep- forensiese en ondersoekeenheid kon ook dadelik ander gebou-eienaars identifiseer,” het Mashaba gesê.

Nóg ʼn voorbeeld van die NVG se beweerde onvermoë om ernstige misdaad vas te vat, is die terugtrek van die saak teen die direkteurs van Setheo Engineering.

Volgens Mashaba is die direkteurs in 2017 in hegtenis geneem nadat hulle glo saam met amptenare van City Power gekonkel het om betalings van meer as R88 miljoen te kry vir bouwerk aan die Eldorado Park-substasie wat nooit gedoen is nie, sowel as vir opknappingswerk aan die Hopefield-substasie.

“Saam met die vervalste bankwaarborg, het ek persoonlik die finansiële rekords van die nagenoeg 28 bedrieglike betalings in 2017 aan die destydse waarnemende hoof van die Valke oorhandig. Ten spyte van oorweldigende bewyse, is hulle steeds op vrye voet,” het Mashaba gesê.

“In nog ʼn bespotting van geregtigheid, het ons einde verlede jaar die terugtrek van die saak teen die voormalige burgemeesterskomiteelid in Johannesburg, Dan Bovu, gesien. Die saak hou verband met die beweerde onwettige verkoop van staatsgrond aan weerlose mense, deur ʼn trust wat Bovu gestig het.

“Dié saak is ook voorlopig teruggetrek omdat ʼn belangrike getuie nie meer bereid was om te getuig nie, omdat dieselfde trust hom glo omgekoop het.”

Mashaba het gesê die sake maak nie net ʼn bespotting van geregtigheid vir die stad nie, maar ook vir elke wetsgehoorsame en hardwerkende inwoner, omdat elke sent wat weens korrupsie verlore gaan, dienslewering belemmer.

“Ten spyte van ons ontevredenheid oor die manier waarop die sake hanteer is, gaan die stad voort om in goeder trou met die NVG saam te werk. Ons vertrou die sake kry die dringende aandag wat dit verdien en dat finale besluite teen 10 Mei hierdie jaar geneem sal word,” het die burgemeester gesê.

“Die stad is vol vertroue dat die bewyse teen die beskuldigdes in dié sake oorweldigend is. As die NVG dus besluit om nié met vervolging voort te gaan nie, is genl. Shadrack Sibiya gevra om te begin met die proses om aansoek te doen vir ʼn nolle prosequi-sertifikaat (weiering om te vervolg), sodat die stad met private vervolging kan begin.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Miskien moet Mashaba die nasionale vrot gesag nader. Dit wil voorkom of daar ‘n Parallelle liggaam is wat skynbaar die nvg heet? Die was volgens aanduidings vrot van die kop af ondertoe, maar terpentyn word nou aangewend om die ou dier op koers en ‘n gallop te kry!

Heksie ·

Mnr. Mashaba net soos jy wil ons ook geregtigheid sien geskiet, maar ek is bevrees dat jy baklei teen die engele van die donker, en geld is hul god.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.