‘NVG moet voortgaan met aanklagte teen Zuma’

Mmusi Maimane. Foto: DA

Mmusi Maimane. Foto: DA

Die DA het versoek dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) onmiddellik moet voortgaan met die 783 korrupsieaanklagte teen pres. Jacob Zuma ná Vrydagoggend se uitspraak in die hooggeregshof in Pretoria.

Die hof bevind dat die besluit van 1 April 2009 om die saak teen Zuma te laat vaar irrasioneel was en ter syde gestel moet word. “Zuma moet teregstaan op die aanklagte soos uiteengesit in die akte van beskuldiging,” het ʼn volbank regters eenparig beslis.

Mmusi Maimane, leier van die DA, het die uitspraak as ʼn oorweldigende oorwinning vir die oppergesag van die reg beskryf. “Die DA is in die afwesigheid van enige feitelike of wettige redes gelei om te glo dat hierdie aanklagte om politieke doeleindes laat vaar is. ’n Politieke oplossing moes gevind word om aanklagte te laat vaar teen ’n persoon wat op die punt was om president te word en die spioenasiebande was die gerieflike verskoning.”

Volgens Maimane moet Zuma besef dat hy nie bo die reg verhewe is nie. “Ten spyte van die feit dat pres. Zuma belastingbetalers se geld gebruik het om te verseker dat die spioenasiebande nie openbaar gemaak word nie, sal hy soos wat die wet vereis tot verantwoording geroep word. Die NVG moet, om weer die respek van mense terug te wen, spoedig optree en voortgaan met die 783 aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery teen Zuma.”

Die DA voer al ʼn sewe jaar lange stryd om weer die 783 aanklagte teen Zuma te laat instel. Die DA het die hof versoek om te beslis dat Mokotedi Mpshe, destydse hoof van die NVG, se besluit in 2009 om Zuma, toe net ANC-president, nie te vervolg nie irrasioneel was. Die hof het Vrydag toegegee.

Mpshe het die saak laat vaar nadat hy na die bandopnames, gesprekke tussen Bulelani Ngcuka, Mpshe se voorganger, en Leonard McCarthy, hoof van die Skerpioene, geluister het. Mpshe was na bewering van mening dat McCarthy die proses vir verskuilde doeleindes gebruik het, naamlik ʼn politieke komplot om glo te verhoed dat Zuma staatspresident word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Marietjie ·

Sjoe wat kan ek, wat amper 11jaar deur Intelligensie en Polisie agtervolg, gesprekke afgeluister
word sonder dat die betrokke persone hulself identifiseer, omdat ek n sindikaat in Alberton aan
die kaak gestel het (hulle loop skotvry) oor zuma se wat soveel klagtes teen hom gehad het. Arresteer hom en sit hom in n sel voordat hy land uit vlug.

Frederik ·

Mmusi leef in ‘n droomwêreld van sy eie. Zuma het onlangs vir Shaun Abrahams as hoof van die NVG aangestel met ‘n rede. Die spioenasieband affêre kom mos al ‘n lang pad en hy het voorsorg getref teen vervolging deur Abrahams aan te stel.

alida ·

Mooi so Mmusi. Hy is nie verhewe bo die wet nie. Roer sy gal !!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.