NVG na persombudsman oor staatskaping-berigte

Voorblad van die staatskaping-verslag wat op 2 November 2016 bekend gemaak is.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het gesê hy sal hom tot die persombudsman wend nadat mediaberigte Sondag verskyn het oor die NVG se beweerde gebrek aan optrede rondom bewerings van staatskaping.

Luvuyo Mfaku, woordvoerder van die NVG, het in ʼn verklaring verwys na ʼn berig op die voorblad van City Press getiteld “Why NPA won’t act”, ʼn aanlynweergawe van die berig, asook ʼn berig wat in Rapport verskyn het.

City Press het Sondag berig twee senior aanklaers en ʼn senior beampte van die Valke, wat betrokke is by die ondersoek na bewerings van staatskaping, het glo gesê hulle dink nie die inligting wat in die gelekte “Gupta e-posse” vervat word sal as bewyse toegelaat word nie, omdat ondersoekers glo hierdie e-posse is gesteel.

Volgens City Press is drie spanne aanklaers van die NVG se gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid aangestel om vervolgingsleiding te gee aan die polisie se kubermisdaadeenheid en die Valke se teenkorrupsie-taakspan.

Daar word verder berig dat bronne aan City Press gesê het dat Shaun Abrahams, nasionale direkteur van openbare vervolging, tydens ʼn Valke-bestuursvergadering voorgestel het dat hierdie drie spanne ontbind word en dat ʼn “ondersoekdirektoraat” aangestel word om die e-posse te ondersoek. Die Valke se bestuur het na bewering hierdie voorstel afgeskiet omdat daar glo nie ʼn begroting is vir ʼn bykomende eenheid nie en omdat die ondersoek verder vertraag sou word deur hierdie besluit.

Volgens die berig het Abrahams ook ʼn vergadering met ministers in die veiligheidsgroepering gehad om hulle in te lig oor die vordering van die staatskapingondersoek.

City Press het berig die “houding van die senior aanklaers” kom te midde van verskeie senior ANC-lede, wat in die gelekte e-posse betrek word, en die egtheid van die e-posse bevestig het.

Mfaku het in sy verklaring gesê die joernalis wat die berig geskryf het, het nie met enige van die aanklaers, verbonde aan die span van die gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid wat aangestel is om die bewerings in die staatskapingverslag en die gelekte e-posse te ondersoek, gepraat nie.

Volgens Mfaku het die aanklaerspan wat leiding gee aan die ondersoekspan van die Valke nooit enige kwessies met die bestuur geopper oor die wettigheid van die gelekte e-posse nie. Hy beweer ook Abrahams het nooit enige Valke-bestuursvergadering bygewoon of enige van die ministers in die veiligheidsgroepering ingelig oor die vordering van die ondersoek na staatskaping nie.

“Die berig is sensasioneel en poog om die NVG en sy leierskap te diskrediteer en skade te berokken. Ons is van voorneme om die saak met die perswaghond [sic] op te neem,” het Mfaku gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Eish ·

Dit is al maande na die eposse aan die lig gekom het en die NVG kan nog nie eens bevestig of dit outentiek is, of die oorsprong daarvan bepaal het nie. Geeneen van die Gupta’s het enige koerant gedagvaar oor die inhoudelike van die eposse nie. Nie eens hul lelieblank prokureur spraak n enigsins n woord deesdae nie. Die doel van die ondersoek is dan juis om bewyse te vind soos n papierspoor van fondsbeweging, selfoonrekords, verklarings ens, ens sodat nie op die eposse as bewyse staatmaak hoef te word nie. n Epos is hoogstens n aanduidend van besluite en die bewyslewering bly die papierspoor.

Antjie ·

1. Die inligting sou nie gesteel gewees het as die teen-korrupsie eenheid van die valke dit aangevra het, soos hulle behoort het. Die “diefstal”, synde in openbare belang, moet dus wettig wees, hoeookal bekom.
2. Die kuberdiefstal eenheid het oor soortgelyke openbare belang kwessies regverdiging teenwoordig vir die diefstal, wat dit as klagte nie kan laat kleef nie.
3. Die enigste moontlike probleem is dus wat in openbare belang is en wat nie. En ons leiers by NVG is aangestel met dit in die oog. Die enigste wat hulle sien is Zupta privaatheid en hoe dit stilgehou moet word!

Louw ·

Nou wonder ek hoe die NVG die inligting kan ondersoek indien hulle nie eers ‘n afskrif het nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.