Die afdanking van Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi sal die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in staat stel om hom weer op te bou sonder dié senior aanklaers se “korrupte invloede”, het die regsorganisasie Freedom Under Law (FUL) Vrydag gesê.
Dít volg nadat die presidensie vroeër vandag bevestig het dat pres. Cyril Ramaphosa Jiba, adjunkdirekteur van nasionale vervolging, en Mrwebi, spesiale direkteur van openbare vervolgings, die trekpas gegee het.
Dit kom nadat ʼn kommissie van ondersoek onder voorsitterskap van oudregter Yvonne Mokgoro bevind het dat albei deur Ramaphosa uit hul poste ontslaan moet word.
“Onder die leiding van die nuwe nasionale direkteur van openbare vervolging, Shamila Batohi, kan die NVG vandag ernstig begin met die herstel van dié instelling, vry van die korrupte invloede van Jiba en Mrwebi,” het die organisasie in ʼn verklaring gesê.
Luidens die verklaring wys Mokgoro se verslag daarop dat Jiba en Mrwebi nie net onbevoeg was om hulle ampte te beklee nie, maar het hulle ook gewys dat hulle nie “die integriteit, pligsgetrouheid en nougesette eerlikheid het wat van senior amptenare vereis word in ’n instelling wat so belangrik is vir ons grondwetlike demokrasie nie.”
FUL erken in die verklaring dat Jiba en Mrwebi wel nie die enigstes te blameer is vir oortredings in die NVG nie, maar is van mening dat hulle tog die middelpunt was van oortredings by die instelling.
“Bevry van hul teenwoordigheid, kan mense in die NVG nou met hul werk en die take wat deur ons Grondwet vereis word, voortgaan,” lui die verklaring.
Mokgoro het in Februarie verdoemende bewyse teen die twee staatsprokureurs gedurende die kommissie van ondersoek aangehoor. Ramaphosa het Mokgoro se verslag, gegrond op dié bewyse, vroeër vandeesmaand aan Jiba en Mrwebi gestuur en hulle versoek om by wyse van skriftelike vertoë op dié bevindinge te reageer.
In die verslag het Mokgoro bevind dat inmenging met die werk van die NVG ʼn misdaad is. Sy het ook bevind dat albei ongeskik vir hul poste is, dat hulle oneerlik is, dat hul integriteit bedenklik is en dat hul werk nie van die nodige vlakke van professionele etiek, deursigtigheid en verantwoordbaarheid getuig nie.
Dit is bevind dat Jiba en Mrwebi versuim het om aan hofprosedures te voldoen.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
29 Kommentare
?
Ons almal het ‘n prys, party mense is goedkoop, die twee geleerdes is nie 1c werd.
Ons sal maar sien
Geloofwaardigheid voor kundigheid. Daar het ons nou regstellende aksie in sy volle glorie! Wonder wat nou van die miljoene rande se salarisse, wat die twee narre verdien het, gaan word? Seker maar niks.
Rampspoedige storie met n mooi einde!!!
Amen.