NVG ondersoek ‘huurmoordenaar’ se vrylating op borgtog

hof-hamer

Argieffoto

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het bevestig dat hy die vrylating van ʼn vermeende huurmoordenaar op borgtog gaan ondersoek. Die huurmoordenaar is verlede Dinsdag in die Athlone-landdroshof in Kaapstad op borgtog van R1 500 vrygelaat.

Die vermeende huurmoordenaar, Mustakim Scullard (20), staan tereg op aanklag van moord. Die landdros het verduidelik dat hy geen vorige veroordelings het nie en dus op borgtog vrygelaat kan word.

Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir gemeenskapsveiligheid, het gesê sy departement het ʼn brief aan die waarnemende direkteur van die NVG geskryf en gevra of die NVG teen die beslissing van die landdros sal appelleer.

Scullard het glo in Julie twee bendelede genader en op hulle losgebrand. Een van die bendelede kon daarin slaag om weg te kom terwyl die 19-jarige Moegamat Brits doodgeskiet is.

“Scullard is deur oorgetuies geïdentifiseer. Hy is in hegtenis geneem en het twee dae later in die Nellie-hof verskyn,” het Fritz gesê. “Hy is in die besit van ʼn 9 mm-pistool en ammunisie gevind.”

Volgens Fritz het sy departement ondersoek ingestel en vasgestel dat Scullard vier aanklagte teen hom het, waaronder moord, poging tot moord en die onwettige besit van ʼn vuurwapen en ammunisie.

Scullard het op 20 Julie sy eerste hofverskyning gemaak, waarna sy hofsaak tot 27 Julie uitgestel is. Op 27 Julie is inligting oor die borgtogaansoek aan die staat verskaf. Die hof is meegedeel dat die saak ʼn skedule 6-oortreding is wat vereis dat buitengewone omstandighede deur die beskuldigde ingedien moet word om op borgtog vrygelaat te word.

Die saak is uitgestel tot 11 Augustus waar Scullard formeel om borgtog kon aansoek doen. Sy borgtogaansoek is op 25 Augustus voortgesit. “Borgtog is op albei datums deur die staat teengestaan. Die ondersoekbeampte het tydens die borgtogaansoek getuig.”

Op 25 Augustus was die hof tevrede dat die beskuldigde buitengewone omstandighede getoon het en hy is op borgtog van R1 500 vrygelaat. Die hof is meegedeel dat die beskuldigde geen vorige veroordelings het nie en hy het ʼn vaste adres aan die hof verskaf.

“Hoewel dit belangrik is om in ag te neem dat dit die oortreder se eerste oortreding is, moet die konteks en aard van die misdaad in ag geneem word,” sê Fritz.

“Scullard is ʼn bekende bendelid en hou ʼn bedreiging vir die veiligheid van ons gemeenskappe in. Dit is ongelooflik kommerwekkend dat hy op borgtog vrygelaat is.”

Fritz sê bendes dra aansienlik by tot geweldsmisdaad in die Wes-Kaap.

“Ons polisiebeamptes se harde werk moenie met swak vervolging of die vrylating van ʼn bekende huurmoordenaar in ons strate gepaardgaan nie. Sodoende word die lewe van onskuldige en weerlose mense in gevaar gestel.”

Fritz sê die saak gaan steeds ondersoek word om te verseker dat Scullard op 28 Oktober na die hof sal terugkeer.

“Ek doen ʼn beroep op enigiemand wat die polisie kan help met hul ondersoek om onmiddellik na vore te kom.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
AndréS

Absoluut belaglik

Persheks Adri

Regtig R1 500 vir moord en besit van wapen en ammo? Mal verby

Jack

So al die aanklagte is nie verswarend nie. Lyk my die landros moet sy werk gaan voortsit in die tronk.