NVG oorweeg om omstrede sakeman te vervolg

Joe Singh, uitvoerende hoof van Just Coal (Foto: ANA)

Joe Singh, uitvoerende hoof van Just Coal, se dossier, waarin hy van bedrog beskuldig word, is by die direkteur vir openbare vervolging ingedien vir oorweging.

Sake van bedrog is teen Singh aanhangig gemaak by die Witbank-polisiestasie en Sinoville-handelsmisdaadeenheid.

Singh het vroeër erken dat hy R500 000 aan die ANC-jeugliga oorbetaal het om politieke guns te bekom. Hy word daarvan beskuldig dat hy dokumente vervals het om sy voormalige sakevennoot, Ralston Smith, te ontsetel.

Anna Steyn, streekshof-toesighouer in Witbank, het gesê die saak word deur ao Albertus Rossouw van die bedrogtak ondersoek. “Die saak is met my bespreek. Dit is gevolglik na die kantoor van die direkteur vir openbare vervolging in Pretoria gestuur vir verdere hantering.”

Rossouw het Sondag bevestig die saak is na Pretoria verwys. “Ek kan dit egter nie verder bespreek nie, aangesien ek oor twee maande aftree. Julle kan navraag doen by die persoon wat aangestel is om die saak te hanteer. Ek weet nie watter speurder aan die saak toegeken is nie.”

Monica Nyuswa, woordvoerder vir die direkteur van openbare vervolging in Mpumalanga, het gesê daar is ondersoeke van bedrog teen Singh.

Singh is die afgelope paar maande verbind met ʼn verskeidenheid skandale. Regter Christelle Bassoon het verlede maand teen hom uitspraak gelewer en gesê die Kommissie vir Maatskappye en Intellektuele Eiendom (CIPC) kan namens sake-eienaars ingryp wat beweer hul maatskappye is “gekaap”.

Singh het die hooggeregshof in 2016 genader om ʼn interdik teen CIPC te bekom om die kommissie te verhoed om hom te ondervra oor bewerings deur Ralston Smith dat hy twee van sy maatskappye, Finishing Touch Trading 204, en Lahleni Lakes, gesteel het.

In nog ʼn saak eis Eskom R6,2 miljard van hom nadat sy maatskappy, Just Coal, swak gehalte steenkool ter waarde van R5,8 miljard aan die Tutuka-kragstasie verskaf het. Tutuka se bedrywighede is in gevaar gestel as gevolg van die swak gehalte steenkool. Eskom het intussen die kontrak met Just Coal gekanselleer.

Alhoewel Singh nie tans enige oproepe beantwoord nie, het uitvoerende bedryfshoof van Just Coal, Pierre Erasmus, gesê hy weet glad nie wat met die saak gebeur nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Mrs H ·

Wow, julle beter hom arresteer voor hy saam met die Guptas gaan wegkruip! Die bewyse is mos daar. Nou moet EK alweer opdok vir Singh se stelery en Eskom se swak huiswerk! A nee A!

Boerseun ·

Singh, Gupta , shaik . Deurlopende motief in die verhaal.

Piet Pompies ·

Die steenkoolbedryf in SA is ‘n kliek, ons land se beste steenkool van MPA word uitgevoer via Richardsbaai want dit is die groot kontrak, baie geld. Plaaslike verbruikers word oorgelaat aan swakker gehalte steenkool wat voorgegee word as ‘n goeie produk maar nie werklik die opbrengs lewer soos belowe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.