NGV: SA medici reeds op pad landuit

Bykans geen gesondheidswerker ondersteun die regering in sy plan om die NGV in werking te stel nie. (Foto: Maroela Media)

Gesondheidswerkers is amper deur die bank gekant teen die instelling van die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en waarsku daar sal ʼn grootskaalse uittog van medici uit die land wees, sou dié beleid in werking tree.

Die Solidariteit Beweging se Navorsingsinstituut het Donderdag sy jongste verslag oor die gevolge van die NGV bekend gemaak. Volgens die verslag ondersteun bykans geen gesondheidswerker die regering in sy plan om die NGV in werking te stel nie.

Altesaam 448 gesondheidswerkers landwyd het aan die studie deelgeneem, waarin hulle gevra is om hul kennis, insig en mening met betrekking tot die NGV te deel.

Meer as 85% van gesondheidswerkers in Suid-Afrika het gesê dat die instelling van die NGV daartoe sal lei dat gesondheidswerkers die land verlaat.

Luidens die verslag het 13,7% van gesondheidswerkers aangedui dat hulle reeds in die proses is om te emigreer en ʼn verdere 35,9% het gesê hulle sal stappe doen om te emigreer wanneer die NGV in werking gestel word.

“Slegs omtrent 15% is seker daarvan dat hulle nie sal emigreer wanneer die NGV ingestel word nie,” het Nicolien Welthagen, navorsingsielkundige by Solidariteit, gesê.

“Suid-Afrika sal dus met ʼn nóg groter tekort aan mediese personeel gelaat word, wat impliseer dat die gehalte- en spesialisgesondheidsdienste bitter skaars sal wees. Elke Suid-Afrikaner sal daaronder ly en toegang tot gesondheidsorg sal gevolglik afneem, eerder as dat dit meer toeganklik raak, soos wat die doel van die NGV is.”

Nicolien Welthagen, navorsingsielkundige by Solidariteit. (Foto: Maroela Media)

Volgens die verslag is die vertrouensverhouding tussen gesondheidswerkers en die regering ook geknak ná die regering se powere hantering van die Covid-19-pandemie en die inentingsveldtog.

“Gesondheidswerkers het veral daarop gewys dat die regering onbevoeg is en dat iets soos die NGV net nog ʼn geleentheid vir korrupsie sal skep. Die Covid-19-pandemie het juis bevestig dat die regering nie oor die vermoë beskik om ʼn stelsel van hierdie omvang te bestuur nie.”

Byna al die respondente (93,4%) het saamgestem dat dié bekommernis gewig dra. Daarby is die meeste (86,6%) gesondheidswerkers bekommerd oor die algehele staatsbeheer wat op hul sektor uitgeoefen sal word indien die NGV verwesenlik word.

“Algehele staatsbeheer impliseer dat daar beheer uitgeoefen word oor die tariewe wat per konsultasie gevra kan word, en dat die staat die toerusting, medikasie, diagnostiese toetse en plek van werk vir medici kan voorskryf. Indien daar byvoorbeeld te veel oogkundiges in ʼn bepaalde gebied is, kan die regering spesialiste verbied om in die einste gebied ʼn praktyk oop te maak,” het Welthagen gesê.

“Die moontlikheid bestaan dat die instelling van die NGV Suid-Afrika se gesondheidstelsel heeltemal sal destabiliseer. Die toekoms van mediese sorg is tans in gedrang.”

Volgens Connie Mulder, hoof van die Solidariteit Navorsingsinstituut, sal die instelling van die NGV veroorsaak dat Suid-Afrikaners nie net armer word nie, maar ook sieker.

“Solidariteit oorweeg maniere waarop belastingbetalers hul gewig kan begin rondgooi sodat die regering luister wanneer ons geld praat. Die regering lewe in ʼn droomwêreld en Solidariteit sal alles in sy vermoë doen om die belange van sy lede en dié van die publiek te beskerm.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

17 Kommentare

Swerwer ·

Natuurlik ondersteun normaal denkende mense nie die Regering se NGV nie. Dit is absoluut KOMMUNISME en hul dink ons moet val daarvoor. Ek staan 100% agter die gesondheidswerkers wat daarteen gekant is.

Elinette ·

Húlle (die ‘regering’) worry nie – hoe meer gekwalifiseerde gesondheidslui uit die land gaan, hoe groter geleentheid is daar vir hul Kubaanse eweknieë IN die land. Ek wil begin sê dat die ANC-koekie besig is om te verkrummel – ek HOOP so – maar ons sal maar sien watse bedrogspul weer óf in Oktober vanjaar òf in Februarie volgende jaar by die stembusse gebeur.

JM ·

Asof die ANC die land nie alreeds verwoes het nie, wil hulle die gesondheidstelsel ook destabiliseer. Hulle begryp steeds nie dat die kommunistiese manier van doen tot ‘n totale ramp sal lei nie.

Esme ·

Wat ‘n reuse verlies? Gesondheidswerkers wat werklik hulle werk ken, verlaat die land en word vervang deur mense wat pasiente se lewens in die hospitale vergal. Ek kan ‘n boek daaroor skryf.

Keith ·

Dit sal seker die begin van Zim 2, Venezueala 2 en Hiati 3 , in Suid Afrika, beteken.
Die cANCer se 3 – in- 1 salf oplossing.

Marius ·

Die NGV is net nog n E-Toll , een groot ramp en wie moet betaal vir die foute van die regering?
Hulle word gewaarsku maar doen nogsteeds net wat hulle wil .

AmY ·

Gaan hierdie politici ook in die NGV hospitale lê? Of gaan hulle oorsee gaan vir behandeling?
Vra vir ‘n vriend. ;-(

Tiptol ·

Ja, Solidariteit, maak planne en reëlings dat die anc voel as daar geld weerhou word. Hulle ore spits net as daar geld gepraat word. Baie goeie plan.

jou gewete ·

die enigste kans wat die belastingbetaler het is belasting weerhouding

VaalDonkie ·

Dit werk nie eers in Engeland nie. Watter kans het ons?

jou gewete ·

net die hopelose dommetjies wat sal bly. wee die van ons wat nie kan bekostig om ook pad te gee

Nico ·

Dankie tog, my vrou wat ‘n kraamsuster is tree volgende jaar af na 27 jaar diens.

Jack ·

Die regering is in sy ideologiese wese nie bekommerd oor die uittog van kundiges nie. Die kubane is reeds gebruik vir hierdie doel terwyl die chinese reeds regstaan om die land se spesialis beroepe te oorstroom. So wat ookal gaan gebeur die proses sal net voortgaan om die huidige spesialiteite op alle gebiede te verdryf. Daar is geen toekoms vir jou of jou kinders in n land van anargie en korrupsie nie. Kom maar uit die bubble uit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.