NVG sal opnuut Aggett se dood ondersoek

(Foto: Johnnic Library/Google Arts and Culture)

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) sê hy neem kennis van ʼn uitspraak deur regter Motsamai Makume wat ʼn vorige uitspraak in ʼn geregtelike doodsondersoek van die aktivis dr. Neil Hudson Aggett in 1982, tersyde stel. Die geregtelike doodsondersoek in September 1982 het bepaal dat Aggett sy eie lewe geneem het.

Aggett se liggaam is op 5 Februarie 1982 in sy sel in die John Vorster-gevangenis in Johannesburg aangetref. Sy familie was oortuig dat daar vuilspel betrokke was. Aggett was ʼn mediese dokter en vakbondaktivis.

“Regter Makume het landdros Kotze se bevinding omgekeer en bevind dat Aggett se afsterwe veroorsaak is deur optrede van lede van die veiligheidstak wat by John Vorster-plein gestasioneer was, onder andere lt. Stephen Whitehead en maj. Arthur Cronwright,” sê Phindi Mjonondwane, streekwoordvoerder vir die NVG.

Makume het sy uitspraak na die NVG verwys vir moontlike vervolging. “Die NVG onderneem om die uitspraak te bestudeer en te bepaal watter stappe gedoen moet word.”

Die regter sê landdros Kotze het destyds die polisie se weergawe aanvaar, ondanks “oorweldigende teenstrydige getuienis”. Tydens die geregtelike ondersoek is daar aangevoer Aggett het sy eie lewe geneem omdat hy skaam was dat hy inligting oor sy kamerade aan veiligheidsbeamptes bekendgemaak het.

“Die NVG loof die spanwerk van ondersoekbeamptes kol. Mathipa en ao Frank Kgamanyane, afgetrede adjunkdirekteur van openbare vervolging adv. Jabulani Mlotshwa en senior staatsadv. Shubnum Singh. Dié span het onverpoosd saam met die regsfirma Webber Wentzel gewerk om seker te maak dat die getuies opgespoor word en dat hulle kon getuig, ná die voormalige minister van korrektiewe dienste, Ronald Lamola, in 2019 toestemming gegee het dat die verhoor mag voortgaan.”

Mjonondwane sê die NVG erken die pyn en lyding van die Aggett-familie, sy lewensmaat dr. Elizabeth Floyd en talle ander wat geliefdes tydens die apartheidsera aan die dood afgestaan het. “Die NVG benadruk dat ongeregverdigde vertraging om die oortreders te vervolg is ʼn ongeregtigheid aan die families van hierdie slagoffers. Ons sal vinnig werk om die aanbevelings van regter Makume te implementeer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Hoekom

“Hunting ghosts”

Realis Thailand

Ek is rerig moeg virdie NVG wat altyd net die polisie uitsoek vir moord klagtes
Waarom nie agter zuma en sy lot aangaan vir hulle moorde nie
Die polisie het net hulle werk gedoen en agett en die klomp is nie vermoor nie. Hulle was buitendien terroriste wie teen die land en regering van daardie tyd gedraai het en geweet het hulle oortree die wet

Misky

Hulle kan nie eers huidige sake en moorde oplos nie, maar wil sake van 40 jaar terug oplos!!!!