NVG se Jiba, Mrwebi seëvier in appèlhof

Adv. Nomgcobo Jiba. Foto: GovernmentZA/Flickr

Die appèlhof het Dinsdag ʼn hofbeslissing dat Nomgcobo Jiba en Lawrence Mrwebi van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) van die rol van advokate geskrap moet word, tersyde gestel.

In ʼn meerderheidsuitspraak het die appèlhof Jiba en Mrwebi se appèl teen ʼn 2016-beslissing van die Pretoria-hooggeregshof met koste toegestaan.

Jiba en Mrwebi is op 15 September 2016 deur regter Francis Legodi van die rol van advokate geskrap.

Die appèlhof het bevind die Algemene Balieraad van Suid-Afrika het egter versuim om te bewys dat Jiba, die nasionale adjunkdirekteur van openbare vervolging, skuldig was aan wangedrag in haar hantering van die Richard Mdluli-saak.

Die Balieraad se klagte teen Mrwebi, die spesiale direkteur van openbare vervolging, het ook verband gehou met die Mdluli-saak. Daar is spesifiek aangevoer dat hy ʼn wanvoorstelling gemaak het van die omvang van sy konsultasie met die NVG se adv. Sibongile Mzinyathi voordat daar ʼn besluit geneem is om aanklagte van bedrog en korrupsie teen Mdluli, die voormalige hoof van die polisie misdaadintelligensie-eenheid, terug te trek.

Die appèlhof het bevind dat die Balieraad wel kon vasstel dat Mrwebi hom aan wangedrag skuldig gemaak het, maar dat die straf om hom van die rol te skrap nie geregverdig is nie omdat sy gedrag nie tot sy eie persoonlike voordeel was nie.

“Die uitspraak bepaal verder dat die hooggeregshof gefouteer het deur Mrwebi van die rol te skrap en dat die hof versuim het om te oorweeg of skorsing nie ʼn gepaste straf sou wees nie. Die uitspraak bepaal die gepaste sanksie is vir Mrwebi om geskors te wees as ʼn advokaat vir ʼn tydperk van ses maande vanaf 15 September 2016,” het die appèlhof beslis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Eish ·

” versuim om te bewys”
Kapasiteitsprobleem dus.
Markus Jooste gaan ook loskom.

tamboti ·

Die een hof bevind die ander hof het fouteer, jare verloop en geen einde aan die vermorsing van geld nie.
Nou wil ek graag weet, is die Grondwet Hof nie ook in staat om te fouteer nie? En as hul doen, wat dan?
Soos met die uitspraak in die vervalde vuurwapen lisensies: die hof neem maande om uitspraak te lewer, en dan volg so kort beslissing en baie vrae bly onaangespreek en onbeantwoord.
‘n Mens sou verwag die GW hof sou darem die SAPD aanspreek om hul sake in orde te bring, mense wat voorheen baie moeite en onkoste aangegaan het om lisensie te bekom en heelwaarskynlik BAIE LANK daarvoor gewag het darem tegemoet te kom, en om soos met alle ander lisensies en registrasies ook kennisgewings uit te stuur.
Wat van om wapens vir selfverdediging op ander manier te behandel: die feit dat dit elke 5 jaar hernu moet word, beteken die WET diskrimineer tussen jagters en gewone mense en dat jag belangriker is as om jouself of familiese lewe te beskerm, in teendeel behoort selfverdediging lisensie weer lewenslank van toepassing te wees!
Ten minste het ek verwag die GW hof sal SAPD versoek om die amnestie dadelik aan te kondig om die indiening van vuurwapens dan sonder gevolge vir die eienaar te verseker.
Nee wat: dit is net mense wat as regters dien, hulle kan ook subjektief en onredelik wees, nie eers om te noem dat hul voorgeskryf kan word nie! O is ek verkeerd????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.