NVG stel sy visier op Guptas se Optimum-myn  

hof-hamer

(Argieffoto)

Die ondersoekdirektoraat van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het twee hofaansoeke gebring om die opbrengs van een van die “primêre misdadige skemas wat met staatskaping verband hou” aan die staat te verbeur.

Dit kom vyf jaar nadat adv. Thuli Madonsela, voormalige Openbare Beskermer, haar staatskapingverslag uitgereik het waarin uiteengesit word hoe Tegeta Resources, ʼn maatskappy wat deur lede van die Gupta-familie besit en beheer word, Optimum Coal Holdings van Glencore vir R2,1 miljard verkry het.

Volgens Sindisiwe Seboka, woordvoerder van die ondersoekdirektoraat, word daar met die eerste aansoek gepoog om al Tegeta se aandele in die Optimum Coal Mine (OCM) te bewaar, sowel as die aandele in die Optimum Coal Terminal en OCM se ondernemings. Die ondersoekdirektoraat voer aan dat al die bates verkry is met die opbrengste van misdade wat teen Suid-Afrikaanse staatsondernemings, insluitend Transnet en Eskom, gepleeg is.

Tegeta het ʼn maand voor die transaksie nie die R2,1 miljard gehad om die myn te koop nie. Kort daarna is geld van verskeie Gupta-beheerde entiteite, insluitend Oakbay Investments, Albatime en Centaur, na Tegeta se rekening as lenings oorgeplaas. Die ondersoekdirektoraat sal poog om die hof te oorreed dat amptenare in diens van Eskom op bedrieglike wyse die kragvoorsiener sover gekry het om op 13 April 2016 ʼn vooruitbetaling van R659 miljoen aan Tegeta te maak. Daar is glo op bedrieglike wyse aangevoer dat die vooruitbetaling nodig was vir die voorsiening van steenkool aan die Arnot-kragstasie terwyl die ware doel daarvan was om vir Tegeta die geld te gee om Optimum te kan koop.

Ajay en Atul Gupta. (Foto: ANA)

Volgens Seboka is ʼn verdere R104 miljoen aan Tegeta oorbetaal as lenings van Albatime en Trillian en kan die geld teruggespoor word na geld wat op in 2015 deur Regiments Fund Managers by Transnet gesteel is sowel as ʼn bedrag van R93 miljoen wat op korrupte wyse deur Transnet aan Trillian Asset Management betaal is.

“Hierdie geld is deur Albatime en Trillian gewas en as lenings aan Tegeta beskikbaar gestel. Kuben Moodley van Albatime is in Oktober 2021 in hegtenis geneem voordat hy ʼn reis na Dubai kon onderneem. Hy staan tereg op aanklagte wat met hierdie oortredings verband hou. Hy sal na verwagting op 28 Februarie 2022 in die handelshof in Palm Ridge verskyn.”

Die tweede aansoek word gebring teen Templar Ltd, ʼn internasionale beleggingsfirma in Bermuda en die grootste onafhanklike krediteur in Optimum. Die eis teen Templar beloop ongeveer R1,3 miljard. Die ondersoekdirektoraat voer aan dat die geld aan Templar verskaf is deur Griffin Line Trading LLC, ʼn maatskappy wat deur die Gupta-familie in Dubai besit word en nominaal deur Ajay Gupta se seun, Kamal Singhala, beheer word. Daniel McGowan, eienaar van Templar, het self onder eed verklaar dat die geld wat deur Griffin Line verskaf is, verkry is uit “geld wat van die Suid-Afrikaanse regering gesteel is en deur Singhala gewas is namens sy pa en ander familielede”.

Die ondersoekdirektoraat wil hê die aansoeke moet voor 28 Maart 2022 aangehoor word aangesien dit die sperdatum is vir die implementering van die Optimum-sakereddingsplan. “Die bewaringsbevel-aansoeke is nodig om te verhoed dat die sakereddingsproses nie misbruik word om die opbrengs van misdaad te wettig nie. Die doel is om ʼn regverdige en mededingende verkoop van die myn te verseker, in belang van die mynwerkers, krediteure en die breër publiek.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Lourens CFG ·

Nou eers, dit moes kort na Madonsela se verslag gedoen gewees het.
Gaan dit nou weer hofsake vir 10+ jaar wees en nie tot uitvoering kom nie?
Hoekom is die opposisie partye so stil daaroor?

Nie Verbaas ·

Deel van CR se klug om weer te probeer om steun te wen. Niks sal gebeur vir volgende 20 Jaar nie.

Alfred E Neuman ·

Ons wil nie die guptas se myne hê nie, ons wil die guptas in die tronk hê!

Nie Verbaas ·

En vat alles wat hulle nog hier beheer. Aan die ander kant, as die ANC staat dit oorvat is duisende binnekort sonder werk. Hulle het dit mos nou al telkens bewys.

Andries ·

Onteining, dan gaan een onbevoegde hoof aangestel word en binne ‘n jaar is al die werkers weereens werkloos en afhanklik van die staat se almoese.

annie ·

Die NGV? Die DBV is meer lewendig. En nou wil die antie weer ‘n ander vroulike onderdaan hê nadat Cronjé weier om te kwiek of kwaak oor hoekom sy die pad vat. Die CIA is meer deursigtig as SA se vervolgingsgesag. Gooi eerder nog geld. Hoeveel van die mense wat in Julie selfs voor kameras items weggedra het tydens die groot loslit-loslootjie-losvoor-kermisse onder die Zuma-vlag was al in ‘n hof? Human Rights ‘verhoor’ eerder die sake….

Lida ·

Net soos die regering is dink net aan hulle self in plaas van om reg te laat geskiet teenoor die honderde werkers wat maande se salarisse nog uitstaande het. Wat hulle karre, huise, lewens, gesinne en en verloor het as gevolg daarvan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.