NVG swyg oor moontlike uitlewering van Bobroff uit Australië

Ronald Bobroff (Foto: SAJR)

Ronald Bobroff (Foto: SAJR)

Shaun Abrahams, die nasionale direkteur van Openbare Vervolging, wou Dinsdag nie uitwei of Suid-Afrikaanse owerhede Australië versoek om die omstrede Johannesburgse prokureur Ronald Bobroff en sy seun uit te lewer nie.

Abrahams het tydens ʼn perskonferensie deur die ministerie van justisie gesê die NVG hanteer die saak van die voortvlugtige bedrogverdagtes Ronald Bobroff en sy seun Darren, maar sal eers oor twee weke verdere besonderhede bekend maak.

“Ons is natuurlik baie besorg oor die feit dat mnr. Bobroff geregtigheid ontduik en na ʼn ander land gevlug het, maar ek kan die publiek verseker dat die saak die nodige aandag ontvang van my kantoor en ander wetstoepassingsagentskappe,” het Abrahams gesê. “Ek sal die saak oor ongeveer twee weke verder bespreek tydens ʼn perskonferensie oor die werk van die NVG.”

Bobroff, ʼn prokureur van Johannesburg wat persoonlike skadevergoedingseise hanteer het, het saam met sy seun na Australië gevlug nadat hulle in die Pretoriase hooggeregshof verskyn het toe die Prokureursorde van die Noordelike Provinsies geëis het dat hulle van die rol van prokureurs geskrap moet word. Dit het gevolg nadat die Bobroffs glo buitensporige fooie gehef het van slagoffers wat suksesvol van die Padongelukfonds (POF) geëis het.

Die Bobroffs het verdwyn voordat hulle hulself aan die Valke sou oorgee. Abrahams en die minister van justisie, Michael Masutha, wou nie vrae beantwoord of Suid-Afrikaanse owerhede Australië gaan versoek om die twee uit te lewer nie.

ʼn Korrespondent van Reuters het tydens die perskonferensie aan Abrahams gesê dit is onaanvaarbaar. “Daar is honderde mense [wat geraak word] en die moontlikheid dat miljoene rand verlore gegaan het… Dit is, durf ek dit sê, nonsens,” het die verslaggewer gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Tiger ·

So pas deur die land tydsame proses van ‘n POF eis gegaan en wag nou vir betaling.Daar is baie mense wat met skelmstreke hulself uit ander verryk so dit sal baie goed wees indien die Bobroffs tot verandwoording gebring kan word vir hul kriminele dade.Mag die NVG sukses he om hulle te laat uitlewer.

Speedguard ·

Ja Mnr Bobroff , die balk en die splinter storie is hier van toepassing, hoeveel mense se loopbane is daar mee heen terwyl jy self agter die deur staan , jou beurt is jou beurt!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.