NVG tevrede met vonnis vir Johann Botha se moordenaars

Johann Botha. Foto: Reint Dykema

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het gesê hy is tevrede met die vonnis wat Johann Botha se twee moordenaars opgelê is.

“Die vonnis is ʼn weerspieëling van die erns van die regstelsel in die stryd teen geweldsmisdade,” het Phindi Louw-Mjonondwane, woordvoerder van die NVG, aan Maroela Media gesê.

Louw-Mjonondwane het bevestig Thembi Mbatha (20) en Maqhawe Moyo (31) is Woensdag in die hooggeregshof in Johannesburg gevonnis vir die moord op Botha, televisie- en radiopersoonlikheid, en sy goeie vriend, Werner “Swazi” Perchtold (76).

Mbatha is tot 25 jaar tronkstraf gevonnis op elk van die twee aanklagte van moord, tien jaar vir roof met verswarende omstandighede, tien jaar vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en vyf jaar vir die onwettige besit van ammunisie. Haar vonnisse sal gelyklopend uitgedien word.

Moyo is tot lewenslange tronkstraf gevonnis op die twee aanklagte van moord, 20 jaar vir roof met verswarende omstandighede, 15 jaar vir die besit van ʼn ongelisensieerde vuurwapen en vyf jaar vir die onwettige besit van ammunisie. Sy vonnisse sal ook gelyklopend uitgedien word. Mbatha en Moyo is in Oktober skuldig bevind.

Maroela Media het vroeër berig Botha en sy goeie vriend, Werner “Swazi” Perchtold (76), die eienaar van Zebra Inn-restaurant in Jeppestown, Johannesburg, het die aand van 7 Junie 2017 in die restaurant gekuier waar hulle doodgeskiet is. Die restaurant was een van Botha se gunsteling-kuierplekke.

Die verdagtes het omstreeks 19:20 by die restaurant ingestap en iets bestel om te drink. ʼn Ruk later het van die verdagtes vuurwapens uitgepluk en Botha en Swazi voor omstanders koelbloedig doodgeskiet. Die rowers het met ʼn onbekende bedrag geld en twee vuurwapens van die toneel gevlug.

Ntobeko Hlatshwayo (33) het in April saam met 15 ander verdagtes uit die Johannesburg- Medium A-tronk, oftewel Sun City, ontsnap. Die Valke het hom kort hierna doodgeskiet tydens ʼn poging om hom weer in hegtenis te neem. Nkosiyazi Phungula (27), wat ook ontsnap het en ook een van die beskuldigdes in Botha se saak is, is steeds op vrye voet.

Die vyfde verdagte, ene “DJ” is nooit aangekeer nie.

Botha, ʼn bekende in natuurbewaringskringe en die voormalige uitvoerende regisseur van die natuurprogram 50/50, was sedert begin verlede jaar die aanbieder van Pretoria FM se Sondagaandprogram Nagmusiek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

John ·

Aai Johann… Johann… ons mis jou musiekkennis en die natuurprogram. Party ouens het dit maar net… styl en outydse sjarme en klassieke tydloosheid… RSG doef-doef nou al die pad…

anni ·

Ag Wat de hel help dit of hul lewenslank gevonnis is, di MOORDE en aanranding gaan aanhou en aanhou. BRING TERUG DI DOODSTRAF!!!!!!

Hoe nou..... ·

Het julle werklikwaar soveel vertroue in ons reg stelsel dat julle die doodstraf wil terug he?

Geregtigheid ·

Al wat moordenaars sal afskrik, is die doodstraf. Wanneer mense weet dat hulle sal sterf vir hulle dade wat hulle gepleeg het, sal hulle 2 keer dink. Hierdie euwel ding van die regstel waar vonnisse gelyktydig uitgedien word, is die onnoselste ding wat bestaan. Mense wat moor het nie bestaansreg nie. Einde.

Alida ·

Wat n wonderlike omroeper en mens was hy nie. Hy het dit nie verdien nie die Here weet.

Hendrik ·

Daar is nie ‘n swaar genoeg straf op aarde vir die skuim wat wat Johann Botha en Swazi so koeëlbloedig vermoor het nie. Maar ek moet sê, ek vertrou ook nie die SA regstelsel meer om die doodstaf regverdig te kan toepas nie.

IK ·

Ek glo nie dat tussen Johann en hulle ‘n vergelyksom tussen die ore gemaak kan word.

Elred Ferreira ·

As julle jul huiswerk behoorlik doen,sal julle agterkom dat mense wat lang vonisse vir moord kry in die Piesang Republiek van Suid Afrika,na tussen 6 en 8 jaar vrygelaat word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.