NVG traag om kindermishandelaars te vervolg

Adv. Gerrie Nel. (Foto: Verskaf)

AfriForum se privaatvervolgingseenheid is toenemend bekommerd oor die hantering van kindermishandelingsake by die Brits-streekhof in Noordwes. Dit sluit in die spoed waarteen dit opgeneem en afgehandel word.

Die eenheid kon wel onlangs sukses behaal deurdat die beweerde verkragters van ʼn jong kind nou in die Pretoria Noord-landdroshof vervolg word. Dié voorval het egter reeds in 2018 plaasgevind.

“In hierdie spesifieke saak word die oupa en ma van ʼn jong dogtertjie, asook ʼn ander man, op aanklag van verkragting vervolg. Die misdade is glo in 2018 gepleeg toe die kind nog ses jaar oud was, maar die drie is eers in Junie vanjaar aangekla, nadat die eenheid ingetree het,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het nie destyds die beskuldigdes vervolg nie, ondanks die mediese getuienis wat op erge seksuele geweld gedui het én nadat die slagoffer die verdagtes geïdentifiseer het.

Die kind het glo beskryf hoe die oortreders ʼn skottelgoedwassponsie in haar mond gedruk het terwyl sy verkrag en gemolesteer is om te keer dat sy geraas maak. Sy het ook nog twee verdagtes, van wie een haar ouma is, geïdentifiseer, maar dié is nog nie in hegtenis geneem nie.

Die saak is eindelik aan senior aanklaers by die Pretoria-Noord-landdroshof oorhandig nadat die aanklaer in Brits aangedui het dat die saak nie ʼn goeie kans op ʼn suksesvolle vervolging het as dit in Brits voortgesit word nie.

Die voorstel is aan adv. Sibongile Mzinyathi, die direkteur van openbare vervolging (DOV) in Pretoria, oorhandig vir oorweging waarna vasgestel is dat daar wel ʼn prima facie-saak teen die beskuldiges is en dat die NVG hulle gaan vervolg.

“Alhoewel ons die DOV se besluit om wel vervolging in te stel, verwelkom, is dit kommerwekkend om te dink dat hierdie saak, asook ander sake van geweld teen vroue en kinders wat ons hanteer, waarskynlik sou verdwyn het indien ons nie ingegryp het nie,” sê Nel.

Verdere sukses in Pretoria

Die ma en pa van ʼn baba is ook onlangs in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria skuldig bevind nadat die NVG deur die privaatvervolgingseenheid se toetrede genoop was om die twee te vervolg.

Die baba het lewensgevaarlike beserings opgedoen nadat aanklagte by die polisie aanhangig gemaak is en die NVG geweier het om die ouers daarvoor te vervolg.

Nog ʼn saak van kindermishandeling in Brits sal by die Noord-Gautengse hooggeregshof verhoor word waar die eenheid namens belanghebbendes ingegryp het. Volgens die eenheid sou die NVG die saak teen die ma en pa van ʼn baba teruggetrek het indien dit nie vir die vertoë is wat AfriForum aan die DOV gerig het nie.

In dié saak het ʼn baba, wat toe net sewe weke oud was, ernstige brandwonde opgedoen. Die ma het aan ʼn kleuterskooljuffrou erken dat sy die kind in ʼn vrieskas gelos het as hy te veel gehuil het.

Die saak sal van 24 tot 28 Januarie in die hof aangehoor word.

“Alhoewel sake teen kinders moeilik is om te bewys, kan dit gedoen word indien die aanklaer met toewyding aan die sake aandag gee,” sê Nel.

“Die NVG is dit aan die gemeenskap verskuldig om hierdie tipe sake te prioritiseer en toe te sien dat spesialisaanklaers sulke sake hanteer.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

JohanR ·

NVG is traag om enigeiets te vervolg! Het gedink na die algehele mislukking van Shaun die Skaap, sou Shamila Batohi ‘n warm vuur wees. Was ek verkeerd! Meer soos ‘n muur van koue! Het nie van haar gehou by Hansie Cronje se verhoor nie, en hou nog niks van haar!

Johanna ·

Dit is so wreed dat die staat so slap-gat is oor die mishandling van vroue en kinders. Sekduele misdrywe van kinders verwoes lewens op n erge graad.. “promises, promises” die heel tyd en bitter min word gedoen..
Daardie misdadigers moet almal saam St Helena Eiland toe gestuur word sonder n “Return Ticket”
Wat erger is, is dat Maatskaplike werksters in die Platteland niks daaraan doen nie. Ons land se Maatskaplike en Regs dienste last ons kinders en vroue skandelik in die steek. Dikwels word kinders in pleegsorg geplaas net om daar verder gemollesteer te word. Die opvolg van pleegsorg val uit mekaar uit.

Tiptol ·

As mense in die regte posisie nie iemand wil vervolg oor kinder mishandeling nie, moet hul tronk toe, maar die tronk is heeltemal te ligte straf vir mense wat kinders mishandel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.