NVG, Valke bekyk Zondo-verslag

Raymond Zondo handig die eerste gedeelte van die verslag aan pres. Cyril Ramaphosa oor. (Foto: Presidensie/Twitter)

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en die direktoraat vir prioriteitsmisdaadondersoeke (die Valke) is besig om die eerste gedeelte van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping se verslag noukeurig te bekyk.

Dít word gedoen met die oog op verdere ondersoek en die bou van sake vir kriminele vervolging teen diegene wat hulle aan staatskaping skuldig gemaak en die wet oortree het.

Adv. Mthunzi Mhaga, woordvoerder van die NVG, sê ʼn toegewyde taakspan is op die been gebring om al die sake in die verdoemende verslag te hersien, terwyl die NVG se ondersoekdirektoraat reeds besig is om ondersoek in te stel na verskeie sake wat in die verslag aandag kry.

“Die taakspan se hooffokus is op vordering en impak en voortbou op die werk wat reeds oor die afgelope paar jaar in die NVG gedoen is in samewerking met die Zondo-kommissie en ander wetstoepassingsvennote.”

Die NVG se ondersoekdirektoraat het op sy beurt met die nodige voorbereiding begin om later op gepaste wyse te reageer op die aanbevelings in die verslag wat binne sy mandaat val, sê Mhaga.

Van die aanbevelings in die verslag sluit in dat Dudu Myeni, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), vir korrupsie en bedrog ondersoek word en dat Tom Moyane, voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), strafregtelik van meineed aangekla moet word.

Brig. Nomthandazo Mbambo, woordvoerder van die Valke, sê ’n span senior beamptes van die Valke is tans besig om sake in die verslag te identifiseer wat moontlik reeds vóór die bekendmaking van die verslag by die Valke aangemeld en ondersoek is.

“Dit sal die Valke in staat stel om vas te stel watter van die kommissie se bevindinge en aanbevelings reeds deel vorm van die Valke se bestaande ondersoeke, terwyl die Valke ook op ander aanbevelings kan reageer wat moontlik binne sy mandaat val.”

Volgens Mhaga is dit egter belangrik om te let op die verskille tussen die getuienis wat voor ʼn kommissie van ondersoek aangebied word en getuienis wat voldoen aan die standaard van bewys vir vervolging.

Kriminele ondersoeke sal dus eers gedoen moet word sodat getuienis in kriminele sake aangebied kan word, in in ooreenstemming met die Suid-Afrikaanse bewysreg.

Die NVG verwelkom intussen “stappe wat gedoen is om ʼn toegewyde taakspan op die been te kry om staatskapingsake te hanteer, aangesien dit sal verseker dat die sake vinniger afgehandel word en verkwiste bates herstel kan word”.

Implisering van NVG in verslag

Mhaga sê voorts die NVG neem kennis van die Zondo-kommissie se bevinding dat dié instelling nie voldoende op staatskaping gereageer het nie en dat die NVG se institusionele swakhede aandag moet kry.

Volgens Mhaga is daar al aansienlike vordering gemaak nadat die vervolgingsgesag jare lank deur diegene betrokke by staatskaping ondermyn is.

“Die NVG sal aanhou om interne prosesse te prioritiseer om te verseker dat enige aanklaers wat betrokke is by dade van misdadigheid of onbehoorlike gedrag, insluitend staatskaping, doeltreffend en regverdig hanteer word.

“Die NVG en die Valke is daartoe verbind om straffeloosheid vir hoëvlakkorrupsie en ander misdade in Suid-Afrika te beëindig.

“Ons verkeer onder geen illusie oor die omvang van die taak op hande en die uitdagings wat ons in die gesig staar nie, maar sal, gelei deur die bewyse en die waardes wat in ons Grondwet vasgelê is, nie rus totdat die oppergesag van die wet weer ons pad in Suid-Afrika verlig nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Pablo ·

Daar gaan net mooi niks van die “ondersoeke” en “sake” kom nie.

Nie Verbaas ·

Praat hulle van dieselfde NVG wat besluit om nie te vervolg nie en dan deur ander politieke partye gedwing moet word om te vervolg? Sterkte.

casper ·

Ek almal bekyk dit net en NIEMAND GAAN TRONK TOE NIE !!!
HOEKOM ????????

Willem ·

Die hele land se regsgeleerdes gaan nie genoeg wees om hierdie katnes te ondersoek en geregtigheid te laat geskied nie! Nou sien ek daarbis mense wat Albert Luthuli se dood wéér wil laat ondersoek – sekerlik ‘n poging om die aandag van die staatskaping kriminele af te trek.

SlinkseKoljander ·

Al hoe hierdie reg gedoen kan word is as Cybil alles goedkeur en opvolg op die aanklagte, die probleem is hy is deel van die gemors so niks sal gebeur nie en alles word onder die mat in gevee.

Gelukkig met n nuwe regering in die toekoms kan die mense behoorlik vervolg word en tronk toe gaan soos Zuma.

Die wiel draai en daar is niks wat hulle aan dit kan doen nie.
Pappa wag vir jou.

Samuel ·

Zuma tronk toe? Cyril moet by hom aansluit. Staatskaping floreer steeds en CR weet dit.

Di ·

O genade, die NVG kan nie eers allerdaagse sake hanteer, sekere partye moet op ‘n gereelde basis die NVG aanvat omdat hulle nie sake vervolg nie. Die spul as useless! Dit gaan nog 10 jaar vat voor hulle DALK iets hieraan gaan doen.

SwartBees ·

Verkoop die verslag by CNA onder die fiksie afdeling… dis al waar hy oop gemaak gaan word om gelees te word.

Johann ·

Ons kan…maar.ons mag nie. Ons moet…maar.ons hoef nie. Miskien dalk wie weet wanneer…KLUG! AFSTEL EN UITSTEL. Nóg tyd en geld om te mors.

JohanR ·

En daar val ek van my stoel af toe ek lees NVG, Valke bekyk Zondo-verslag!

Samuel ·

Die Zondo-verslag sal wel bekyk word. Dit is waaragtig al. Volgende jaar hierdie tyd kyk hulle steeds en op dieselfde bladsy.

007 ·

As enige van die top kaders in die tronk beland eet ek die grootste hoed wat ek kan kry op met eise!

Corne123 ·

En na moet miljoene gemors is gaan wat gebeur NIKS niks sal verander nie kyk maar hoe lank gaan die zuma ding aan.Ai ons n niwe boek gekry kom ons koop n R5 miljoen se boekrak wat eindlik R30 kos om hom op te sit.Klugspul

wessel ·

nog n klomp whawhawha..en miskien drie houe met die houtlepel op die palm…alles waaraan hulle vat verander in drek

Swerwer ·

Dit kan noukeurig na geskyk word maar nogsteeds sal niks gebeur of opgetree word nie want die ANC sal sorg daarvoor. Korrupte ……………………………..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.