NVG versoek om op te tree teen Gigaba, Molefe

Glynnis Breytenbach
(Foto: Jacques Naude/African News Agency/ANA)

Die Nasionale Vervolgingsgesag moet die ‘eksplosiewe getuienis’ voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gebruik om dringend op te tree teen voormalige minister Malusi Gigaba en senior beamptes by Eskom en Transnet, het die Demokratiese Alliansie Vrydag gesê.

DA-LP Glynnis Breytenbach het die NVG daaraan herinner dat hy sterker gemaak is deur ʼn presidensiële proklamasie wat hom direkte toegang gee tot die inligting wat aan die kommissie verskaf word, en die NVG hoef dus nie te wag vir sy bevindings nie.

Veiligheidspersoneel het Donderdag aan die kommissie gesê Gigaba, die voormalige hoof van Eskom Brian Molefe, voormalige hoof- finansiële beampte van Eskom Anoj Singh, en voormalige hoof van Transnet Siyabonga Gama, sou die Saxonwold-huis van die Gupta-broers besoek en dan wegstap met sakke vol kontant.

“Die eksplosiewe getuienis van voormalige veiligheidsbeamptes en bestuurders van ministers en uitvoerende lede van staatsbeheerde instansies, skets ʼn prentjie van ʼn regerende elite se absolute minagting vir diegene wat hulle veronderstel is om te dien,” het Breytenbach gesê.

“Nou dat die NVG direk toegang het tot hierdie inligting, en nie meer hoef te wag dat die kommissie se prosesse afgehandel is nie, moet hulle optree, en dadelik optree. Hierdie blatante gruweldade kan nie langer ongestraf bly nie en die NVG moet nou, nie later nie, bewys dat daar ernstige gevolge is vir dié tipe minagting van die wet.

“Hierdie mense moet vervolg word, en as hulle skuldig bevind word, moet hulle swaar gevonnis word.”

Die proklamasie wat pres. Cyril Ramaphosa verlede maand onderteken het, laat die NVG, die Valke en ander wetstoepassers toe om getuienis voor die kommissie te gebruik om ondersoeke van stapel te stuur na die verdagtes wat die staatskoffers tydens die Zuma-administrasie geplunder het.

Breytenbach het gesê dit is aanstootlik dat diegene, wat geïmpliseer word, in luukse bly leef terwyl wetsgehoorsame burgers kriminele rekords kry indien hulle die regulasies oortree wat ingestel is in reaksie op die Covid-19-pandemie. “Dit is belaglik dat hulle vry en luuks leef, uit die opbrengs van misdaad, terwyl wetsgehoorsame burgers kriminele rekords kry weens sinnelose Covid-19-afsonderingsregulasies of van honger sterf as ʼn direkte gevolg van dié Gupta-kaders se aksies,” het sy gesê. “Dit is tyd dat ons optrede sien teen diegene soos Molefe, Gigaba en kie oor die bewerings teen hulle.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Cornelius ·

“Wishful thinking”. Daar gaan niks van die Zondo kommissie se ondersoeke kom nie.

Juffrou ·

Nou toe NVG wys ons julle het murg in julle pype. Slaan NOU toe op hierdie diewe. Eers dan sal ons weer vertroue in julle én die president hê.

gatgogga ·

Die NGV nogal! Ek glo die skuldiges bewe nou in hulle broeke.
Persoonlik sou ek eerder ‘n kleuterskool gevra het om op te tree.

Alleen Wolf ·

Dit gaan nie gebeur nie, nog NIEMAND in die ANC is vervolg nie en niemand sal ook vervolg word nie, wensdenkery

Elsa ·

Straf hul swaar – vat alles wat hulle, die Vrouens, en kinders besit. Was nie hulle s’n om mee te begin.

Bertus ·

Dit bly steeds ongelooflik dat sulke mense geskors word MAAR jarelank volle salarisse ontvang. Vir wie bluf die ANC

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.