“Dit is werklik ʼn wonderwerk wat plaasvind.”
Só vertel Talitha Niemand, die vrou van Hennie Niemand (30) wat verlede Vrydagaand tydens ʼn aanval op hul plaas in die Oudedorp-omgewing, Noordwes, geskiet is.
Maroela Media het vroeër berig ʼn enkele aanvaller het Vrydag omstreeks 18:30 ʼn plaaswerker op die Niemands se plaas oorrompel en sy voertuig se motorband stukkend geskiet. Hy het glo dié werker gedwing om Hennie te gaan roep, onder die voorwendsel dat hy ʼn pap band het.
Hennie is gevolglik in die bors geskiet en is die aand na die hospitaal gehaas. Die koeël is by sy bors in, het sy hart en longe gemis en is by die heup uit.
Hennie sterk tans aan in die Mediclinic Potchefstroom se waakeenheid. Talitha het Maandag aan Maroela Media gesê haar man is van die ventilator afgehaal en kan nou op sy eie asemhaal.
“Hy kan al ʼn bietjie praat, maar ʼn mens kan nie mooi hoor wat hy sê nie,” vertel Talitha.
Hennie is Vrydagaand kort ná die aanval in die teater ingestoot waar sy milt verwyder is. Hy was Sondagoggend weer in die teater om die watte te verwyder wat in sy wonde geplak is om die bloed te absorbeer.
“Die dokters het in die teater gesien hy het ook ʼn gaatjie in sy dikderm wat hulle toe weer geheg het,” vertel Talitha.
Talitha beskryf Hennie se oorlewing en spoedige herstel as ʼn wonderwerk. Sy sê dit is ʼn wonderwerk dat die koeël nie een van sy ander organe geraak het nie.
“Dit gaan baie goed met hom. Ons vra dat almal nog steeds vir hom bid sodat hy so gou moontlik huis toe kan kom,” vertel Talitha. “As ek met hom praat, wil hy net heeltyd weet hoe dit met my en die kinders by die huis gaan.”
Talitha en Hennie het ʼn tweejarige dogtertjie, Nina, en eenjarige seuntjie, Johan.
“Nina vra waar haar pappa is en stuur vir hom prentjies oor WhatsApp.”
Hennie is na bewering met ʼn polisiebeampte se gesteelde dienspistool geskiet.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
17 Kommentare
Geseënd is jy, dat jy so ‘n sluipmoord-poging oorleef het. In jou afwesigheid waak die Skepper oor jou gesin al is jy nie tuis nie, net soos Hy oor jou gewaak het selfs toe jy in die lokval ingeloop het. Gaan terug en dien Hom soos Hy in Sy Wet sê en nie soos ons afrikaanse samelewing in die algemeen leer nie. Dan sal jy nog groter wonders beleef en selfs minder gedeerd (gekwes) daaraan af kom.
Spoedige herstel en vereniging met jou gesin jou toegebid.
Jippie. Dis wonderlike nuus. Herstel gou!
Dankie liewe Vader!!!
God bly goed, goed oorwin altyd kwaad.
So verskriklik dankbaar. Dankie Liewe Vader! Sterkte vorentoe Hennie.