NW-boer sterf dae ná plaasaanval

Dries Botha. Foto: Facebook

Dries Botha (57), die boer van Noordwes wat verlede week op sy plaas buite Brits deur minstens ses aanvallers oorval en geskiet is, is oorlede.

Kobus van Rensburg, Botha se swaer, het aan Maroela Media bevestig Botha het in ʼn hospitaal in Johannesburg aan sy wonde beswyk. Volgens Van Rensburg is Botha Sondag per helikopter van ʼn hospitaal in Brits na die hospitaal in Johannesburg oorgeplaas. “Ek glo die dokters het alles gedoen wat hulle kon, maar die skade wat die koeël aangerig het, was net te groot. Dries was sedert die aanval in die waakeenheid van die hospitaal en hy was baie swak,” het Van Rensburg gesê.

Maroela Media het vroeër berig Botha het Dinsdag omstreeks 20:00 op sy plaas in die Kleinfontein-gebied uitgegaan om ʼn alarm aan te skakel toe die aanvallers hom oorval het. Van Rensburg het vroeër gesê minstens vyf skote is afgevuur waarvan drie Botha getref het. Botha het terugbaklei en die aanvallers het op die vlug geslaan sonder om enigiets te roof. Botha se vrou het tydens die voorval in die huis geskuil en is gelukkig ongedeerd.

Van Rensburg het Dinsdag gesê volgens sy kennis is sewe verdagtes in verband met die aanval in hegtenis geneem en is ʼn vuurwapen wat vermoedelik tydens die aanval gebruik is tydens die inhegtenisneming in hul besit gevind.

Ao. Mpeile Talane, woordvoerder van die polisie, het bevestig sewe mans het Vrydag in die plaaslike landdroshof verskyn op aanklagte van poging tot moord en onwettige besit van ʼn vuurwapen. Talane het gesê die saak is tot 28 Julie uitgestel en die verdagtes bly in aanhouding tot hul volgende verskyning. Hy het gesê die aanklag van poging tot moord sal nou na moord verander word.

Volgens Van Rensburg was die verdagtes nie aan Botha bekend nie. “Hulle het hom nie geken nie en dit was nie ʼn kwessie van ontevrede werkers of so iets nie. Hulle het hom net doodgeskiet. Daardie hele boerdery is nou tot niet en al die mense wat al jare lank daar werk sit nou sonder werk en ʼn heenkome,” het hy gesê. “Ek weet nie wat nie, maar êrens sal iemand iets moet begin doen. Dit kan nie so aangaan nie.”

Hy het gesê begrafnisreëlings sal eers getref word sodra die nadoodse ondersoek afgehandel is. Botha word oorleef deur sy vrou, twee dogters, seun en kleinkinders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Genieve ·

Ai man maar dis hartseer sjoe..baie sterkte aan sy families met die verlies.

LS ·

So jammer vir die familie en vriende, dit is vreeslik hartseer !!!
Gaan ons almal die 28ste Julie ook hof toe om ons boere wat so vermoor word te ondersteun? Wanneer gaan ons opstaan vir ons boere ???

Jennifer ·

Die hofstorie gaan nie werk nie, daar word blatant misbruik van blankes se tyd gemaak. Boer en 2 werkers het vandag heeldag in die hof gesit om die dief wat ons plaasheining gesteel het, te verhoor.die saak is uitgestel, en so sal dit aangaan totdat boer besluit, die kool is nie die sous werd nie!

al ·

Sterkte aan sy familie. Dis so hartseer.
Nog ñ familie sonder ñ broodwinner en nog mense wat werkloos is.
Waar is die Noorwes premier nou? Gaan hy vergoeding kompenseer?

Tina du Toit ·

Tragies. My hart pyn vir al ons Boere wat deurloop, vir hulle mense wat agter bly. Ons dink aan die familie. Sterkte.

Ansie ·

Baie hartseer … ek bid dat ons Vader julle familie styf in Sy hand sal vashou in die moeilike tyd!!

Rubic ·

Nou gaan hier nou niks aan hierdie situasie gedoen word nie?

Mielie ·

Innige simpatie met al die families. Dit kan nie so aangaan nie. Hoe gaan of kan dit gestop word? Die mense werk met n plan. Mans word summier geskiet. Wapens en konant word gebuit. Ek is vas oortuig hier is iets aan die kom.

Mars ·

My simpatie aan die naasbestaandes. Jammer oor julle tragiese verlies. Baie sterkte.

Hoeveel plaasaanvalle was daar in 2017 to dusver? Dit wil vir my voorkom of 2017 die ergste ooit is. Elke dag word daar berig oor een of meer plaasaanvalle en nog mense wat dood is hetsy tydens die aanval of na die tyd aan hul beserings en verminkings. Dit voel of mense op plase en afgelee gebiede maar net moet sit en wag vir die aaanvallers om op te daag want daar is geen afname in hierdie aanvalle nie, wel ‘n toename soos die vir my lyk. Ek wonder hoevel nog word beplan vir die res van 2017.

jakoba ·

Nog ‘n familie uitmekaar geskeur deur ‘n onsinnige moord wat aangeblaas is deur BFLF en EFF en die ANC. ‘n Familie in rou gedompel agv haat en gierigheid, mag God vertroosting bring aan ‘n familie wat nooit weer heel sal wees nie.

FM ·

Daar is baie plase wat deur die boere te koop aangebied is, maar die regering wil baie min of niks daarvoor betaal nie. Nou hoop die regering die plaasmoorde sal boere van hul plase af verdryf en dan kan die goverment mos die plase verniet in die hande kry. Probeer asb tog dat iemand anders op die plaas gaan bly of die wat agterbly moet eerder die plaas verhuur of aan iemand anders verkoop. Baie sterkte aan die familie. Dit kan nie maklik vir julle wees nie. Mag ons Liewe Vader spoedig uitkoms gee.

Zuzu ·

So bitter jammer vir die groot verlies… baie sterkte aan die hele familie!!

Johan ·

Wanneer gaan dit ophou? Boere as hulle besorgd is oor hulle veiligheid gaan hulle op n melitêre wyse hulle self moet beskerm…hulle gaan hoogs gewapende private sekuriteits maatskapye toegerus met R1 gewere 24 n dag moet aanstel om hulle gesinne en hulself te beskerm….daar moet nie n paarkeer gemaai word onder die skelms…..om daadwerklik aandag te vestig dat genoeg is genoeg……

foxi ·

So gedink my kommentaar sal nie gelewer word nie. Maar ons was by die hospitaal toe die helikopter die pasient kom aflaai het. Julle weet net nie hoe hartseer dit was om hom so te sien nie. Geen onskuldige mens verdien dit nie……..jy wens jy kon help…..jy wens jy kon sy hand vashou en vir hom bid…….maar jou hart op daardie oomblik voel so stomp met wraak wat in jou kop omgaan. Dis vreeslik mense………

John ·

Miskien moet die grondwethof uitspel watter bestaansreg boere het en watter aanspraak hulle as staatsburgers het op beskerming deur die staat. Die situasie gaan nie verbeter nie voordat betreding van eiendom sonder toestemming nie aan die groot klok gehang word nie. Joernaliste is nou gevrywaar van bloot teistering, maar boere moet voor die voet voor geweervuur swig. Agtergeblewens moet groot eise teen die staat begin instel. Waar is Gerrie?

GERRIE?? ·

Jammer om te se mense, maar Gerrie is DOODSTIL deesdae. Ek het Afriforum so tydjie gelede gekontak om my by te staan met ‘n saak en wat het hulle vir my telefonies gese… Jammer maar ons staan nie individuele persone by nie. Ek betaal nog getrou elke maand my ou bydraetjie en hoop en bid dat hulle met my swaarverdiende geld wel die lig sal sien om iemand anders te help! Nodeloos om te se ek is absoluut ANTI-AFRIFORUM op hierdie oomblik!

Swannie ·

Nog `n persoon wat agtergekom het Afri Forum stel nie belang in jou as lid nie — slegs jou ledegeld is welkom !

Mars ·

Ek lees elders dat daar nou reeds 5 boere in die Noordwes Provinsie die afgelope 3 maande vermoor is.

Hoekom lees n mens nie dat van die miljoene Afrikane wat in Europa woon daagliks doodgemaak, vermink en verkrag word nie? Hulle lewe ‘n goeie en voorspoedige lewe daar en word nie daagliks aangerand en vermoor nie. Dit hoort immers nie so nie. In Afrika is dit andersom – 5 boere in een provinsie in slegs 3 maande vermoor om nie eens te praat van diegenes wat die afgelope drie maande aangerand, verkrag en vermink is nie.

hendrik ·

Mars, kan jy my gou reghelp asb. Ek lees dit so dat daar daagliks Afrikane in Europa doodgemaak word en dat geen nuus daaroor berig word nie. Nou vra ek of daar ooit van hul sommer net vermoor word.

Elna Stapelberg ·

Dit was seker weer ‘n geval van werkloosheid en honger (soos wat altyd ter versagting as rede aangevoer word) wat hul tot die daad laat oorgaan het, moord en diefstal is mos nooit die motief nie.

Justice ·

Die pragtige foto van Dries Botha en sy vrou spreek `n duisend woorde.

Pat ·

Weet enige iemand waar dit tans die veiligste plek is om ons kinders op te bring. Die hele land verval en ons kinders word dag en nag in huise toegesluit. Dit sal so lekker wees om my kinders te sien kinders wees. Dit s nie regverdig om net elke dag aan die gevaar te dink nie. Hoe moet n kind eendag kan terug kyk en se wat hy/sy van kind wees kan onthou. Al wat hulle lees en hoor is die Boere wat vermoor word en geboue wat afgebrand word. Waar sal dit ophou. Ek is te bang om my kinders te laat fiets ry, winkels toe te stuur en selfs na skool te bly vir enige sport. Wat moet ons doen?

Ronelle ·

My hart pyn. Hoe lank Moët ons net stilsit en alles rondom ons sien gebeur. Ons kosbare boere word non-stop uitgewis.

LMF ·

My hart bloei my hart is stukken wat is vlg kampe waar weduwees en kinders aangehou gaan word vrede vir family en vriende ons is saam julle. Grote God ons het U so nodig Amen

AMANDA ·

VERVLOEK IS JULLE WAT BOOS IS EN BOSE DADE DOEN. HAATLIK. AL TROEF WAT EK HET IS MY GOD WAT SAL KOM OM TE OORDEEL DIE WERKERS VAN satan…. WOORDE VAN TROOS IS DAAR NIE. SLEGS TYD GENEES WONDE. RUS IN VREDE EN BAIE STERKTE AAN ELKEEN VAN DIE FAMILIE. ♥♥

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.