NW-munisipaliteite: Slegs 49% van finansies-personeel het regte kwalifikasie

Argieffoto (Foto: stevepb, Pixabay)

Die Demokratiese Alliansie (DA) in Noordwes neem kennis van die LUR vir die departement van finansies, Motlalepula Rosho, se verslag oor die kapasiteitsbeoordeling oor munisipaliteite se begroting en tesourie-kantore (BTK), wat daarop dui dat slegs 49% van alle munisipale finansiële personeel in die provinsie oor die relevante kwalifikasie beskik.

Die vlak van vaardighede van finansiële personeel, die hoë koste van konsultante en die vakante poste onder sleutel- senior bestuurders soos munisipale bestuurders, finansiële hoofde en finansiële tegniese en korporatiewe diensdirekteure, het deel gevorm van die kriteria van die assessering.

Onder die munisipaliteite met die laagste kwalifikasiesyfer van minder as 40% tel Matlosana (Klerksdorp); Lekwa-Teemane (Christiana) en Ditsobotla (Lichtenburg) op 36%; Mamusa (Schweizer-Reneke) en Moses Kotane (Sun City/Mogwase) op 35%; en Tswaing (Delareyville/Sannieshof/Ottosdal) op ‘n laagtepunt van 30%.

Die verslag het aangedui dat Madibeng, Ditsobotla, Bojanala, Ratlou, Ramotshere Moiloa en JB Marks sonder enige sleutelbestuurders werk, en dat ʼn totaal van ses munisipale bestuurders tans geskors is.

Die verslag het verder aangedui dat die gebruik van konsultante ondoeltreffend blyk te wees op die gebied van rekords en dokumentasie, monitering en projekbestuur.

Van die tien munisipaliteite wat R122 miljoen op konsultante spandeer het om finansiële bestuur te bevorder en verslae by die Ouditeur-generaal (OG) in te dien, het niemand in die 2019/20 boekjaar ‘n skoon oudit gekry nie.

Die verslag van die OG het aangedui dat Noordwes-munisipaliteite ongeveer R4,7 miljard aan onreëlmatige uitgawes aangegaan het, R2,6 miljard aan ongemagtigde uitgawes en R422 miljoen aan vrugtelose en verkwistende uitgawes.

“Dit is nog ‘n bewys van die ANC se onvermoë om openbare befondsing effektief toe te pas op dienslewering en die verbetering van lewens deur gesonde finansiële praktyke,” sê Freddy Sonakile, die DA in Noordwes se woordvoerder oor samewerkende regering. “Munisipaliteite is duidelik nie in staat om die dienste te lewer waartoe hulle grondwetlik verplig is nie, en totdat die worteloorsake van hierdie ineenstorting effektief aangespreek word, sal die LUR vir samewerkende regering, menslike nedersettings en tradisionele sake, Mmoloki Cwaile, se voorneme om sewe munisipaliteite te ontbind, nie volhoubare verandering bring nie.

“Die jongste OG-verslag bewys weer dat munisipaliteite wat deur die DA bestuur word, die toppresteerders in die land is,” het Sonakile bygevoeg. “Die komende verkiesing vir plaaslike regering is ‘n geleentheid vir burgers om vir die DA te stem sodat dinge gedoen kan word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Nie Verbaas ·

Mooi so ANC BEE 30%ter kader aanstellings. So betaal mens die prys vir oningeligte besluite.

Thelsa ·

Hou aan met Kader-ontplooiing totdat iemand die ligte moet afsit as die laaste persoon om die land te verlaat.

Surfer ·

Ja, solank hy/sy net in areas van my keuse bestuur…………………….?

Pieter ·

Hoe wil hulle nog staak as daar reeds nie Niks gewerk word nie. Elke jaar word kwalifikasies hersien maar steeds bly onbevoegde aanstellings in hulle poste dis om van Naar te word

Blomme ·

Al die naamsveranderinge! Geld mors in die ergste graad. Wonder hoekom verander ANC nie hulle naam sommer na Onbevoegde Nasie Leiers ( ONL) toe nie! Hoop ons kan eendag uit die nagmerrie wakker word waarin ons tans ons bevind.

Tanniepetoors ·

Die saak het twee kante. Baie mense met kwalifikasies doen heeldag boggerol. Baie mense sonder kwalifikasies het ‘n magdom kennis van hul werk, kan dit toepas en doen hul werk behoorlik en uiters professioneel en produktief.

Moedeloos ·

Ek stem saam, sien dit hier by ons ook. Almal het deesdae Grade (verpligtend) maar as dit by die uitvoering kom het hul nie n clue wat moet gedoen moet word nie. Diegene sonder Grade, maar met jare se ondervinding, bly sit in lae posisies juis omdat hul nie Grade het nie en kwalifiseer nie vir bevordering nie, maar doen op die einde van die dag die werk. Vele amptenare neem waar in vakante poste vir maande, maar kan nie aangestel word nie juis omdat die persoon nie na-skoolse opleiding het nie, maar is goed genoeg om intussen , totdat hul iemand met n Graad kry, die werk ordentlik en akkuraat te doen.

SjN ·

Die bewyse is daar en duidelik sigbaar, pateties, tree op teen die kaders, maak skoon, veral elke dag net verder.

Surfer ·

Daai 49% se sertifikate is nog op Google ook gekoop of hulle het ernstige brein krag probleme.

Moedeloos ·

Ek het al n paar jaar gelede genoem dat ons wat n gesonde DA Munisipalteit is, sukkel om behoorlik volgens die OG se standaarde alles te handhaaf. Ons het baie kundige personeel maar as jy die UP TO DATE is met al die eise en voorskrifte van die OG en Stelselwet nie, trap jy klei. So hierdie Munisipaliteite wat nie kundige personeel het nie sal nooit die standaard van die OG/Grap/Stelselwet kan handhaaf nie.

Jakes ·

Niks is meer skookend of verbasend nie. Ons sit in n land wat binne 2 dekades verval het in ashoop wat regeer word deur n party wat totaal onbevoeg is om n nasie te regeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.