NW-plaasaanval: Boer ná 13 dae in hospitaal tuis

Hennie saam met sy vrou, Talitha, en hul twee kinders (Foto: Verskaf)

Die jong boer wat in Augustus tydens ʼn aanval op sy plaas in die Oudedorp-omgewing in Noordwes geskiet is, is uit die hospitaal ontslaan en sterk tans tuis aan.

Hennie Niemand (30) is verlede Donderdag na 13 dae in die Mediclinic Potchefstroom ontslaan. Hy sê dit gaan elke dag fisiek en emosioneel beter met hom.

“Ek voel al stukke beter. Ek is nog ʼn bietjie seer en styf en moet snags op my een sy slaap. Maar ek is net dankbaar om by die huis by my vrou en kinders te kan wees.”

ʼn Enkele aanvaller het op 21 Augustus omstreeks 18:30 ʼn plaaswerker op die Niemands se plaas oorrompel en sy voertuig se motorband stukkend geskiet. Hy het glo dié werker gedwing om Hennie te gaan roep, onder die voorwendsel dat hy ʼn pap band het.

Niemand is tydens die voorval in die bors geskiet. Hy kon egter steeds terugvuur en die aanvaller is doodgeskiet.

Die koeël is by Niemand se bors in, het sy hart en longe gemis en is by die heup uit.

Hy is dieselfde aand van die aanval in die teater ingestoot waar sy milt verwyder is. Hy was die Sondagoggend weer in die teater om die watte te verwyder wat in sy wonde geplak is om die bloed te absorbeer. Dit is toe dat die dokters in die teater gesien het dat hy het ook ʼn gaatjie in sy dikderm het wat hulle toe geheg het.

Hennie haal al self asem (Foto: Verskaf)

Niemand vertel sy maag is ook raakgeskiet en die dokters moes ʼn deel daarvan verwyder. Hy sê die koeël het sy pankreas ook skrams geraak en ’n merk gelaat wat toe ’n abses gevorm het en wat ook in die teater herstel moes word.

Talitha, Niemand se vrou, het vroeër gesê dit is ʼn wonderwerk dat haar man leef en so vinnig herstel het. “Dit is ʼn wonderwerk dat die koeël nie een van sy ander organe geraak het nie,” het sy gesê.

Niemand is na ʼn bietjie meer as twee dae ná die aanval van die ventilator afgehaal en kon op sy eie asemhaal. Hy kon toe reeds ʼn bietjie praat en het heeltyd vir Talitha gevra hoe dit met haar en die kinders tuis gaan.

“Oorwinning behoort aan die Here,” sê Niemand oor sy vinnige herstel.

“Toe ek Maandag weer vir ʼn opvolgbesoek in die hospitaal was, het die waakeenheid se personeel my nie eens herken nie omdat ek so vinnig herstel het.”

Niemand sê hy lê nog meeste van die tyd en raak gou moeg.

“Ek probeer so 15 minute per dag buitekant stap, dan gaan slaap ek weer, want my liggaam voel maar gou pap en moeg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hannahoekom ·

Prys die Here virj ou herstel!! Nou moet die emosionele letsels ook net genees. Julle bly in ons gebede!

saggiespraat ·

Die Here het nog n plan met jou…Sterkte aan julle.

Persheks Adri ·

Beste nuus vir die dag! Dankie liewe Heer dat U steeds na U kinders om sien!!!

Gato ·

Dankbaar saam met jou vir die vinnige herstel. Mag jy ten volle herstel en hou maar daai skietyster byderhand.

Casper ·

Jy het gedoen wat jy moes doen.Jy het jou en jou gesin verdedig.Dank aan die Hemelse Vader dat Hy jou gespaar het en jou herstel sal speeding wees.Oppas net vir weerwraak maar dit lyk of jy parraat is.Ek drink ‘n Bells.

agnes ·

Baie gaaf dat hy so gou herstel het, Hy is n sterk man en die Here het hom gespaar vir sy gesin. Prys God vir Sy genade.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.