NW-premier se vroeë aftrede verwelkom

Supra Mahumapelo, voormalige premier van Noordwes. Foto: ANA

Die vroeë aftrede van Supra Mahumapelo, die omstrede premier van Noordwes, word uit talle oorde verwelkom.

Mahumapelo het Woensdag vanuit Luthuli-huis in Johannesburg aangedui dat hy oplaas as premier van Noordwes bedank en op vroeë aftrede sal gaan.

Solidariteit het Woensdag gesê dat die vakbond sy bedanking verwelkom, maar dat dit veels te laat kom. Mahumapelo se aftrede kom ʼn week nadat minister Zweli Mkhize, die minister van samewerkende regering en tradisionele sake, bekendgemaak het dat slegs 7% van munisipaliteite in Suid-Afrika goed funksioneer, terwyl feitlik al die munisipaliteite in Noordwes disfunksioneel is.

“Mahumapelo se termyn as premier was bevlek deur opeenvolgende skandale wat strek van protesoptogte in feitlik elke dorp in die provinsie sowel as in die hoofstad Mahikeng, swak dienslewering en die onregmatige toekenning van ʼn omstrede vliegskoolbeurs aan sy seun deur die staatsbeheerde Denel, soos wat Solidariteit onlangs onthul het,” het Connie Mulder, hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut, gesê.

Volgens Mulder is dit tragies dat Mahumapelo toegelaat is om voort te gaan in sy rol as premier ten spyte van jare lange wanbestuur. “Op die ou end is dit die arm mense in die provinsie wat die meeste swaarkry beleef het onder Mahumapelo, met die premier wat bloot voort gestoomroller het. Dit is dus duidelik dat politieke oorwegings vir jare lank swaarder geweeg het as die belange van die burgers in die provinsie,” het Mulder gesê.

“Benewens Mahumapelo se wanbestuur in die provinsie hang daar ook ʼn wolk van korrupsie oor die voormalige premier se kop én word hy met die omstrede Gupta-familie verbind. Mahumapelo het onder Jacob Zuma deel gevorm van die sogenaamde premierliga wat so te sê onaantasbaar was,” het Mulder bygevoeg.

Solidariteit het pres. Cyril Ramaphosa aangemoedig om “die daad by die woord te voeg en hierdie geleentheid te gebruik om verdere korrupsie in die provinsie hok te slaan”.

Michal Groenewald, die VF Plus se provinsiale leier in Noordwes, het gesê Mahumapelo se vroeë aftrede mag hom nie van vervolging red nie.

“Die nalatenskap van Mahumapelo as premier is gewelddadige betogings, wanbestuur, politieke binnegevegte, onstabiliteit, onreëlmatighede, bande met die omstrede Guptas, talle bewerings van korrupsie en die in duie stort van die provinsiale departement van gesondheid,” het Groenewald gesê.

“Die VF Plus verwelkom die bedanking, oftewel vroeë aftrede, maar sal nie toelaat dat die bewerings van grootskaalse bedrog en korrupsie wat hom betrek, nie steeds deeglik ondersoek word nie. Die bedanking van die premier mag hom nie kwytskel van vervolging nie.”

Groenewald het gesê die VF Plus het vandeesmaand ʼn klag by die Openbare Beskermer (OB) gelê en haar versoek om bewerings van omvangryke bedrog en korrupsie waarby Mahumapelo betrokke is, te ondersoek. Hierdie bewerings behels onder andere sakebelange van Mahumapelo wat na bewering deur implementeringsagente wat deur die provinsie gekontrakteer is, befonds is.

“Noordwes het die afgelope tyd onherstelbare ekonomiese en finansiële skade gelei weens gewelddadige betogings wat met die beskadiging van eiendom gepaardgegaan het. Die ANC se binnegevegte was direk vir hierdie geweld verantwoordelik,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Joe Olivier ·

En weereens word n onbevoegde vergoed deur lekker oud te word op n vet staatspensioen.

Riaan ·

Ja Supra. Jy het nes die res van jou kaders die provinsie in die grond in gery en leeg getap. Nou tree jy af met n lekker vet pensioen en jy bly anc voorsitter. Pensioen PLUS al die gewone voordele wat kommuniste so baie van hou.

Al ·

Om nie eens te praat van die rassehaat wat hy aangeblaas het met Coligny debakel nie. Sy PR ‘stunt’ om vir die oorlede beweerde slagoffers se ouers ñ huis te skenk nie, het hom niks in die sak gebring nie.

Gemaskerde Sopbeen ·

Vroeë pensioen? Op 49? (7 Junie 1968) Ek wil ook!!!!

Al ·

Jy is ongelukkig nie ñ ANC comrade nie, hoe sterker bewerings teen jou is, hoe voller is jou beursie met belastinggeld om sorgvry by die huis te bly.

Francois le Cochon ·

Dis wat ek ook wil weet. Geen PF laat aftrede toe jonger as 50, veral nie ‘n “public sector fund” nie. Is hierdie ook ‘n Brian Molefe geval, waar ‘n pensioen uitbetaling teenstrydig met die PF se reels uitbetaal word?

peet van breda ·

Ek sal die hele ANC , EFF en DA se aftrede ook waardeer.

Willie ·

Hy moet ondersoek word vir korrupsie… nou kry n goue handruk

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.