‘NW-spookwerkers se salarisse verdwerg Nkandla’

Pres. Jacob Zuma se privaat woning in Nkandla, KwaZulu-Natal Foto: @power987news, Twitter

Pres. Jacob Zuma se privaat woning in Nkandla, KwaZulu-Natal Foto: @power987news, Twitter

Die koste van die 36 000 spookwerkers in die provinsie Noordwes se salarisse is in een maand sowat 3,5 keer meer as wat pres. Jacob Zuma se Nkandla-woning tot dusver gekos het, het die vakbond Solidariteit gesê.

Volgens dr. Eugene Brink, politieke ontleder by Solidariteit, verdien die gemiddelde amptenaar in die provinsie sowat R25 000 per maand. Dit is R900 miljoen as dit met 36 000 vermenigvuldig word. Die Nkandla-woning het tot dusver R246 miljoen gekos en dus word hier in ’n enkele maand sowat 3,5 keer meer geld vermors. Die ouditeur-generaal se ouditverslag vir 2013-’14 toon die provinsie het R1 miljard nodig om sy agterstand in te haal. Een maand se spookwerker-salarisse sou dus bykans die provinsie se huidige begrotingsagterstand kon uitwis.

Brink het daarop gewys dat salarisse tans 58% (R18,3 miljard) van die begroting opslurp, terwyl die orige 42% (R13,5 miljard) al is wat vir besteding aan goedere en dienste asook kapitaalbesteding oorbly.

Die jongste OG-verslag toon ook ander onrusbarende tendense ten opsigte van wanbesteding en onreëlmatige besteding. Slegs een provinsiale entiteit – die tesourie – het ’n skoon oudit ontvang. Sestien entiteite se ouditmening was “ongekwalifiseerd met bevindinge”, agt s’n was “gekwalifiseerd met bevindinge” en ses s’n was nie betyds voltooi nie weens gebrekkige verslaglewering. Volgens die OG is 59% van die provinsiale entiteite se finansiële gesondheid kommerwekkend en 34% s’n verg ingryping. “Dus is slegs 7% finansieel gesond,” sê Brink.

Daarbenewens is R343,6 miljoen se ongemagtigde uitgawes tydens 2013-’14 aangegaan en alles was weens oorbesteding op die begroting. Die premier se kantoor het die meeste vrugtelose en vermorste uitgawes aangegaan, naamlik R22,8 miljoen. “Dit is skokkend dat die premier en sy personeel van die voorbokke is wanneer daar belastinggeld vermors word en allesbehalwe verantwoordelike leiding gee,” sê Brink.

Een van die groot sondaars was die provinsiale departement van onderwys wat bykans R256 miljoen se ongemagtigde uitgawes aangegaan het. Daarteenoor het die departement van gesondheid R725 miljoen se onreëlmatige besteding aangegaan. Die departement van openbare werke, paaie en vervoer het hom aan meer as R161 miljoen se onreëlmatige besteding skuldig gemaak.

Brink het gesê dit is ironies dat hierdie departemente se dienslewering van die swakste in die provinsie is. “Die hospitale en paaie in die provinsie is juis in ’n klaaglike toestand en dan word honderde miljoene boonop vermors. Ten spyte daarvan wil die provinsiale regering boonop ook die provinsie se naam amptelik verander. Daar is geen regverdiging vir ’n naamsverandering nie as hierdie soort vermorsing in ag geneem word. Dit sal bykomende miljarde rande kos wat eerder vir broodnodige dienslewering aangewend kan word,” volgens Brink.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Remondo ·

kan die spookwerkers dan nie ophou betaal word nie as hulle dan navraag doen kan hulle ondervra word en geplaas word , as hul nie navraag dien nie is dit outomatiese besparing

Dave ·

Spookwerkers is oor die algemeen nie bestaande mense nie maar spoke wat geskep is deur kriminele wat betrokke is by werkskepping en personeelstate. Mense wat uitbetalings doen. Hulle vul tydstate in op denkbeeldige name en kanaliseer dan die geld na hulself.

Andre ·

Ek wonder nou net of daar van die spookwerkers belasting, pensioenbydraes, ens verhaal is en wasrheen dit oorbetaal is. Gaan die spoke dalk nog iets uit die pensioenfonds ook kry. Ek wonder ook of almal nou net so ywerig gaan aandring op terugbetaling van die geld. Mens dink byvoorbeeld aan die brigade in rooi…

HEVW ·

dit is die rede waarom Nkandla vir zum so n nietigheidjie is. Kan nou nog nie verstaan waarom die land daarom so huil nie.

Dave ·

Miskien is diè storie geskep om die aandag weg van Nkandla te kry.

Peet Schabort ·

Wat my egter die meeste hinder is dat die spookwerker ook nadoods as spook sal voortgaan om ‘n salaris te kry . . .

George ·

Die spookwerkers sal seker op ‘n stadium ook aandring om as voorheen benadeelde werkers behandel word.

Pietertjie ·

Diefstal deur die Staat en sy werknemers neem baie vorme aan. Nkandla, spookwerkers en vals kwalifikasies vorm deel van die direkte kriminele vorm van diefstal. Dít word egter verdwerg deur sg. “wettige” diefstal: hoe kan ‘n Staastsdepartement se diensstaat in 15 jaar “groei” van 460 tot 3200 (wat 280 Direkteure insluit), terwyl sy dienslewering met 95% krimp? Ek het by daai Departement gewerk! En dis net één van vele. Dink ook maar hoeveel geld maak die Staat uit krimineel-verwante bedrywe soos die belasting op vervanging van gesteelde goedere, brandstof-heffings wat in die niet verdwyn, voorkeur-tenderaars, die lys is lank!

Fanie ·

Goeie genugtig, as daar soveel miljoene verdwyn, hoe kry ons land dit nog reg om ekonomies te funksioneer. Daar is maar ‘n handjievol belastingbetalers maar miljoene rande verdwyn net. Dit lyk baie rampspoedig vir die hele land en bevolking!!!

Jan maak n Plan ·

Julle verstaan nie so mooi nie. Om aan bewind te bly kos geld – baie geld!!! Dis stemme wat so gekoop word. Gaan kyk n bietjie hoeveel mense in die NW staats diens doen werklik produktiewe werk – net n handjie vol.

Bruno Stef ·

Swak dienslewering begin sommer as n mens n kragonderbreking by die plaaslike klagte kantoor gaan aanmeld en jy aangekyk word of jy iets is wat n kat ingesleep het.Dit is nutteloos om die verwaandheid en arrogansie te rapporteer want dit word eenvoudig net ontken deur die betrokkene alhoewel die persoon al verskei male deur verskeie mense gerappoteer is.In een geval het n aantal Swart vroue saam met die klerk in die klein klagte kantoor gestaan en gesels almal met ANC T- hemde aan en die publiek net eenvoudig geignoreer.Dit is een van die redes waarom NW provinsie in so n toestand beland het ons blanke mense betaal vir ons dienste gelewer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.