NWK dra fondse by ná reeks plaasaanvalle in Noordwes

Heinrich Krüger, voorsitter van NWK (Foto: NWK)

NWK van Lichtenburg het vandag ʼn kontantbedrag van R25 000 beskikbaar gestel ter ondersteuning van Agri NW se landelike veiligheidsinisiatiewe in Noordwes. Dit volg na altesaam vyf landbouprodusente in die afgelope drie maande weens plaasaanvalle in Noordwes gesterf het.

“Name soos BC Greyling (Sannieshof), Hanno Steyn (Lichtenburg), Patrick Itumeng (Vryburg), Elsa Erasmus (Schweizer-Reneke) of Dries Botha (Brits) kan moontlik vir die breë publiek nie spesifieke betekenis hê nie, maar vir ons in landbou is dit die name van produsente, eggenote of iemand se ma, pa, buurman of werkgewer wat in die bestek van die afgelope 12 weke koelbloedig in Noordwes vermoor is.” Só het Heinrich Krüger, voorsitter van NWK, gesê in reaksie op die nuus van Dries Botha (58) wat gister aan skietwonde beswyk het na hy verlede Dinsdag op sy plaas buite Brits oorval is.

Volgens Boeta du Toit, uitvoerende hoofbestuurder van Agri NW, sal die skenking deur NWK direk aangewend word vir landelike veiligheidsinisiatiewe en in belang van produsente in Noordwes.

NWK is sedert 2008 aktief betrokke by fondsinsamelingsaksies ten bate van die Agri Securitas Trustfonds. Laasgenoemde trust is deel van die Agri SA groep en beywer hom vir die bevordering van landelike veiligheid oor Suid-Afrika heen. NWK is ondermeer as borg betrokke by ʼn jaarlikse fondswerwingsgeleentheid tydens die Agri SA jaarkongres asook ʼn gholfdag ten bate van die trustfonds. Dié gholfdag word weer in Oktober vanjaar op Parys aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Realis ·

NWK het sedert 2011 soveel mense afbetaal baie mense wie enigste broodwinners was in die huis weens plattelandse dorpie om geld te spaar en nou het hulle miljoene rande aan verbeterings werk aan die hoofkantoor wat nie nodig was nie spandeer en dan beland hulle in die media vir so ‘n klein skenking aan die mense wie die rede is vir die bestaan van die maatskappy? Belaglik!

Jaco ·

R25000 dit is belaglik NWK jul maak miljoene uit die boere en dit is al wat hul vir jul werd is?

Yster ·

Regtig NWK. Is dit die beste wat julle kan doen. Is die berig nie dalk verkeerd nie. Moet dit nie R 250,000 lees nie. Die gemeenskap is seker meer as dit werd. As my somme reg is is dit n skamele R5,000 per boer.

Boer ·

Is dit al wat die boere vir NWK werd is R25000? Dit is ‘n klap in die gesig van elke boer.

Eish ·

Ek lees NWK se finansiële state die afgelope 5 jaar reeds. n Paar uiters swak bestuursbesluite asook voortdurende droogtetoestande het hul wins marges onder geweldige druk geplaas. Die droogte kan niemand iets aan doen nie. Bestuursbesluite wel. NOORDFED het hul oor 4 jaar n opgehoopte wins van ongeveer R147m gegee en was verlede jaar die enkele faktor wat die hele groep in n verlies situasie gedruk het. Dit is intussen verkoop vir next to nothing. Hul poging om te probeer boer was die ander faktor wat miljoene in verliese gegenereer het. Die ekskursie is genadiglik ook gestop. Die betrokke beamptes wat die instansies bestuur het, is intussen of afgedank, of of op vroeë pensioen geplaas. Myns insiens was hier heeltemal te min aandeelhouersaktivisme aangesien die uitgawes om die hoofkantoor op te gradeer en te omskep in n glaspaleis juis tydens n tydperk gedoen is toe winsmarges reeds onder druk was. Die mense in die voorste linie is gewoonlik die wat sneuwel in sulke situasies. Ander landboukooperasies het eenvoudig hul ondernemings beter bestuur. Onder die omstandighede dus, is die skenking n baie goeie gebaar.

Eish ·

Verskoning, moet lees Noordfed het verlies gerealiseer van R147m.

Drones ·

Hier was n artikel oor drone wat opgebou word om plase in noordwes te patrolleer. Plaas NWK dit help doen want dit gaan werklik help.

Theresa ·

Soos mense al vele kere gesê het: Daar is ‘n direkte aanslag op die lewens van sekere mense die afgelope paar jaar in ons land. Die kenners moet ‘n taakmag op die been bring wat sorg dat die mense beskerming geniet. Die moordenaars en eiendomoortreders moet vasgevat word met als wetlik moontlik. Dit moet baie moeilik gemaak word om op eiendom te oortree en baie mislik gemaak word as jy skuldig bewys word aan ‘n misdaad wat ‘n ander se lewe eis. Dit moet tog moontlik wees – of droom ek van kiewiet eiers in London?

Bartman ·

Gebruik die geld om daardie vlieende dinge te bou met nagvisie in, dan is die plaasaanvalprobleem opgelos.

Scalla ·

Hoekom altyd negatiewe kommentaar, baie dankie NWK bestuur vir die bedrag wat u vrywillig beskikbaar gestel het, dit gaan nie om die randwaarde nie maar die idee, indien ander landbouverskaffers dieselfde doen sal dit n groot bydrae lewer tot die veiligheid in die gebied,
nogmaals dankie. Ek is n NWK lid.

JJ ·

Nwk jul maak jul naam nou lekker krater…. Wat ‘n belaglike bedrag. Hoeveel geld gaan jul die jaar uit die boere maak met die groot oes wat op die lande is? En dis al wat jul kan bekostig? Daar is privaat persone wat groter skenkings as julle gee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.