NWU behoort kenner se taalverslag te verwelkom – AfriForum

Prof-Fernand-de-Varennes-taalverslag-2015

Profesor Fernand de Varennes het in ‘n verslag die bestaansreg van Afrikaanse universiteite onderskryf. Foto: Este Meyer Jansen, Maroela Media

Die aanname deur Theo Venter, spesiale raadgewer van prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die Noordwes-Universiteit, dat AfriForum en Solidariteit pas ’n taalverslag uitgereik het met die doel om die komende raadsvergadering te beïnvloed, is glo niks minder as belaglik nie.

Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê die werklike rede vir die bekendmaking van die verslag vandeesweek deur prof. Fernand de Varennes, internasionale taalregtekenner, is omdat dit die enigste tyd was wat hy beskikbaar was om na Suid-Afrika te kom om die voorlegging te doen.

Venter meen dit was “verwaand” om ’n verslag oor Afrikaans op te stel sonder om die NWU in die saak te ken. Hy voer aan dit is gedoen om die raadsvergadering op 20 Maart te beïnvloed.

Bailey het gesê De Varennes was in Augustus in Suid-Afrika toe hy AfriForum en Cerneels Lourens, taalaktivis, in die gelykheidshof in Kaapstad ondersteun het in die hofsaak om die regering te dwing om alle wetgewing wat deur die parlement gaan, in al 11 amptelike landstale te publiseer.

Dit is ten tyde van dié besoek wat AfriForum hom versoek het om te kyk na die bevindinge in die omstrede verslag getiteld “Review of North-West University’s First Ten Years” wat vroeër vrygestel is.

In dié verslag, wat geen plaaslike of internasionale taalregtekenner ingesluit het nie, is tot die slotsom gekom dat die NWU meer moet doen om transformasie en sosiale integrasie te bevorder en sy taalbeleid moet herevalueer om voorsiening te maak vir onderrig en kommunikasie in Afrikaans en Engels.

De Varennes se reaksie op dié verslag was dat dit vreemd is dat transformasie en die wegbeweeg van onderrig in Afrikaans en die byvoeg van Engels voorgehou is sonder dat enige aandag aan die pedagogiese waarde van onderrig in die moedertaal gegee is nie.

Hy het gesê dié verslag het enige wetlike en grondwetlike verpligting om in ander tale behalwe Engels op tersiêre vlak te onderrig, geheel en al misken. Dié verslag het inderdaad die verskuiwing om een amptelike taal vir universiteitsopleiding (naamlik Engels) te gebruik, bevorder.

Dit is op grond van dié en ander subjektiewe aannames in die verslag dat AfriForum De Varennes versoek het om ’n deeglike studie te doen oor menseregte en die onderrigtaal in Suid-Afrikaanse tersiêre onderrig.

De Varennes moes vasstel of daar ’n reg, in die besonder in internasionale reg is, vir ’n instelling soos die NWU/Potchefstroom om Afrikaans as onderrigtaal te gebruik (veral ten opsigte van moedertaalsprekers).

Hy moes ook kyk of daar internasionale voorbeelde is van soortgelyke gevalle of beste praktyke waar ’n bepaalde taal gebruik word sonder om eksklusief te wees soos by die NWU/Potchefstroom met simultane tolking.

De Varennes het bevind dat dit met die eerste oogopslag lyk of daar ingevolge art. 29 van die grondwet selfs op universiteitsvlak ’n reg op onderwys in Afrikaans is. En dat die afdwing van slegs Engels op die NWU se Puk-kampus nie goeie praktyk sal wees nie soos wat in lande soos Kanada en Sri Lanka voorkom. Ingevolge internasionale reg sal dit waarskynlik neerkom op ’n skending van die reg op onderwys sonder diskriminasie op grond van taal.

Volgens De Varennes lyk dit of nog die grondwet nog menseregteverpligtinge in ag geneem word wanneer slegs Engels afgedwing word, of waar die gebruik van Afrikaans in verskillende openbare areas gehanteer word.

“Enige poging om die reg op onderwys in Afrikaans te eis, of om Afrikaans te gebruik, sal met ’n beskuldiging van rassisme begroet word. Selfs al is die meerderheid sprekers van Afrikaans nie wit nie,” het hy bevind.

Bailey het gesê AfriForum was in die lig van die skeefgetrekte verslag oor die NWU ná tien jaar genoop om die mening van die voorste kenner op die gebied van taalregte te kry. “Ons het De Varennes genader omdat hy ’n onafhanklike akademikus is wie se werk bo verdenking staan en wat hom nie deur plaaslike sentiment laat beïnvloed nie. Ons het geweet sy verslag sal akademies vas begrond wees en nasionaal en internasionaal tot die debat oor taal aan universiteite bydra.”

Bailey het gesê sy vind Venter se redenasie vreemd dat AfriForum die universiteit van die ondersoek moes in kennis stel. “Waarom het die universiteit self nog nooit moeite gedoen om ’n ware internasionale taalregtekenner te betrek nie? Waarom noudat die verslag wel bestaan, word dit nie aangegryp nie, maar eerder veroordeel nog voordat dit gelees is? Wat sê dit van die owerhede se professionaliteit en akademiese integriteit?

“Waarom die aandrang dat die NWU-owerhede betrek moes word by die opstel van die verslag? Die idee was dan juis om ’n onpartydige verslag op te stel,” het sy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Gwen ·

Die NWu moet inderdaad kennis neem van hierdie verslag. Met mense soos Theo Venter (in ’n senior bestuursposisie) en talle ander werknemers wat sy sentiment deel, is Afrikaans op tersiêre vlak in ernstige gedrang. Ek hoor dat die kampus al hoe meer verswart en verengels. Naderhand gaan daar geen meer plek vir ’n Afrikaanssprekende wees nie, wat nog te praat van ’n Afrikaner.

Ons (Afrikaners) is ernstig afhanklik van Solidariteit en sy filiale buite die politiek en die VF+ daarbinne om ons lot in hierdie land te beskerm. Moet asb. nie ophou nie.

Chris Diedericks ·

Asseblief, werk liewer saam sonder om byterig te wees. Onderlinge stryery bevorder nie Afrikaans se saak nie. Eendrag maak mag en verdeeldheid breek krag. Ek het waardering vir almal se pogings om Afrikaans te bevorder. Laat ons saamstaan en die kleinnode wat ons nog oor het beskerm. Die ANC sal nie rus voordat die blankes en afrikaans se erfenis uitgeroei is nie!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.