NWU bly ʼn voorstander vir veeltaligheid

Hoofgebou-potchefstroomkampus1

Hoofgebou by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit Foto: Maryke Laas/NWU.

Die Noordwes-Universiteit (NWU) is ʼn voorstander vir veeltaligheid en die drie tale wat op die universiteit se kampusse ewe veel voorkeur sal geniet, is Afrikaans, Engels en Setswana.

Clement Manoko, uitvoerende direkteur van die NWU se afdeling korporatiewe betrekking en bemarking, het Woensdag lede van die Nasionale Persklub by Leriba Lodge in Centurion, Pretoria, toegespreek oor die universiteit se toekomsplanne.

Dié universiteit is tans besig met ʼn normaal geskeduleerde proses vir die hersiening van die NWU se taalbeleid en plan (TBP), wat na verwagting in die eerste helfte van 2018 goedgekeur moet word.

ʼn Simposium oor taal in die onderwys word volgende week by die universiteit gehou, wat deel is van dié beplanningsproses. Die inligting wat uit die simposium spruit, sal by die TBP bygewerk word.

“Ons is beslis nie een van die universiteite wat tans voorstel dat ʼn enkele taal as onderrigmedium gebruik word nie. Daar is talle dinge wat intern en in die klaskamers gebeur om te verseker al drie tale word gebruik,” het Manoko gesê.

Hy het ook gesê die universiteit spits hom tans daarop toe om te verseker dat maatskaplike geregtigheid vir alle studente op sy kampusse geskied. “Die Suid-Afrikaanse universiteitswese is tans in ʼn tydperk waar ons antwoorde soek op talle maatskaplike vrae. Daar is studente wat klas toe kom, maar hulle het nie eens geld vir kos nie.

“Ons is besig om ons eie studente te motiveer om programme te begin wat ander studente van armer families help. Hierdie studente het reeds daarin geslaag om op dié wyse R3,5 miljoen in te samel om behoeftige klasmaats uit te help.”

Manoko het ook gesê daar bestaan ʼn opvatting dat dit net swart studente is wat behoeftig is, maar dit is nie noodwendig hul ervaring van die werklikheid by die NWU nie.

Die NWU is ook die tuiste vir studente van 84 lande. “Dis verbasend hoeveel studentemotors nommerplate van Namibië het; dit lyk of dit ons tuisprovinsie is wat studentegetalle betref.

“Hierdie studente kom nie in aanmerking vir die nasionale studente-finansiële hulpskema (NFSAS) nie, maar betaal hul eie studiekoste. Ons benodig meer internasionale studente. Hierdie studente sal die geleentheid hê om Suid-Afrika te ervaar, terwyl hulle die universiteit se geldkoffers aanvul en weer ambassadeurs vir die NWU na buite kan wees.”

Die internasionale belangstelling in die universiteit is ook die rede waarom daar in die toekoms daarop gefokus sal word om die NWU se afstandsleeronderrig-geriewe uit te brei.

Volgens Manoko is ʼn dinamiese studentelewe een van die punte wat hulle aan voornemende studente van die NWU bemark. Hy het verwys na die universiteit se presterende krieket-, rugby- en sokkerspanne.

“Ons is trots daarop om te sê dat ons nie net akademiese gehalte aan studente bied nie, maar ook ʼn maatskaplik verantwoordelike universiteit is.

“Die NWU is ongelukkig nie die goedkoopste universiteit nie, maar wat ons aan studente gee, bied beslis waarde vir geld.”

Manoko het ook gesê die universiteit onderhandel tans met studenteleiers oor die heffing in universiteitsfooie vir 2018.

“Die universiteit moet ʼn begroting vir die komende jaar opstel en hoewel ons tans wag om te hoor van die voorstelle uit die verslag wat die kommissie oor universiteitsfooie saamgestel het, moet die ligte steeds in 2018 aan wees.”

Hy het egter gesê die gerugte dat die universiteit reeds sy verhoging vir klasfooie in die komende jaar vasgestel het, is onwaar.

Manoko het ook terugvoer gegee oor die NWU se sonkragmotor wat vroeër die maand aan die Wêreldsonkraguitdaging in Australië deelgeneem het. “Dit is ʼn projek waarop die universiteit baie trots is omdat ons nie net die NWU by die wedren verteenwoordig nie, maar ook die land en Afrika.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ina ·

Hoe kan iemand my probeer oortuig dat die NWU ‘n universiteit is waar veeltaligheid ‘n prioriteit is en die drie tale “ewe veel voorkeur sal geniet” en dan stuur hulle vir my ‘n skakel na die universiteit se nuwe media-platform, BUA-TV… Die eerste uitgawe was net Engels. Na klagtes het die tweede uitgawe darem een Setswana insetsel gehad. Die res was alles Engels met ‘n aankondiging of drie in Afrikaans met Engelse byskrifte.
Ek dink die bestuur onderskat die Alumni se intelligensie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.