NWU in arbeidshof gedaag oor onbillike arbeidspraktyk

nwu-potch-puk

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

Solidariteit sal op 10 September in die arbeidshof in Braamfontein, Johannesburg, wees met ʼn dringende aansoek teen die Noordwes-Universiteit (NWU) oor dié instelling se onbillike optrede teenoor werknemers. Solidariteit voer die saak namens sy lede nadat die NWU onregmatige veranderings aan hul salarisooreenkomste aangebring het.

Die universiteit het sy werknemers op 24 Julie deur middel van ’n skrywe ingelig dat hulle vanaf 1 Augustus op ’n nuwe “groepslewensversekeringskema” geplaas sal word wat die huidige skema, soos uiteengesit in hul oorspronklike diensooreenkoms, sal vervang. Die nuwe skema word teen ʼn hoër premie aangebied en lewer minder voordele as die vorige skema.

“Hierdie besluit van die NWU, wat ’n direkte impak op die persoonlike finansies van elke werknemer het, is eensydig geneem en geen behoorlike konsultasieproses is gevolg waarby werknemers of hul verteenwoordigers betrek is nie,” sê Anton van der Bijl, hoof van arbeidsregsdienste by Solidariteit. “Die uiteinde hiervan is dat werknemers skielik begunstigdes van ’n nuwe lewensversekeringskema is, maar hulle moet nou meer betaal terwyl hulle minder dekking ontvang. Hierdie optrede van die NWU is niks minder as ’n skending van die NWU-werknemers se regte nie.”

Die nuwe lewensversekeringskema se hoër premie word direk van die werknemer se salaris verhaal. In die hofstukke voer Solidariteit aan dat sodanige veranderinge wat sonder ’n ooreenkoms tussen die werknemer en werkgewer aangebring word, onwettig is. Daar kan dus nie op hierdie wyse veranderinge aangebring word nie. Gevolglik vra Solidariteit dat die universiteit met ’n hofbevel verhoed sal word om met die proses voort te gaan.

“Die universiteit het wederregtelik opgetree. Solidariteit kan nie toelaat dat sy lede aan hierdie onregverdige gedrag van ’n werkgewer onderwerp word nie. Solidariteit het die hof genader om die saak dringend aan te hoor ten einde die onbillike arbeidspraktyk van die universiteit te stuit. Ons sal die saak in die hof aanvoer en die belange van ons lede op elke moontlike wyse beskerm,” sê Johan Botha adjunkhoofsekretaris van die professionele sektor by Solidariteit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.