NWU Mafikeng-kampus heropen vandag

Die skade wat deur betogers op 24 Februarie 2016 aangerig is op die NWU se Mafikeng-kampus. Foto: Facebook

Die skade wat deur betogers op 24 Februarie 2016 aangerig is op die NWU se Mafikeng-kampus. Foto: Facebook

Die Noordwes Universiteit (NWU) se Mafikeng-kampus het Dinsdag weer heropen, nadat dit meer as ʼn maand gesluit was nadat betogers miljoene rande se skade aan geboue en voertuie aangerig het.

Koos Degenaar, woordvoerder van die kampus, het aan Maroela Media gesê alles is reg vir klasse om van vandag af weer volstoom voort te gaan. “Die koshuisstudente het gister [Maandag] weer teruggetrek na die koshuise en klasse gaan vandag voort,” het hy gesê.

Maroela Media het vroeër berig die skade wat tydens die studentebetogings op die NWU se Mafikeng-kampus aangerig is, beloop ʼn astronomiese R151 miljoen. Die omvang van die skade is nie net beperk tot skade aan geboue en ander bates nie, maar miljoene moes ook bestee word aan bykomende personeel en die vervanging van navorsing wat verwoes is.

Degenaar het Dinsdag gesê alle skade op die kampus is nog nie herstel nie, maar tydelike maatreëls is in plek om te verseker alle kampusdienste is beskikbaar. Hy het gesê die personeel wie se kantore in die administrasiegebou was wat heeltemal verwoes is toe betogers dit aan die brand gesteek het, gebruik tydelik ander kantore.

Die NWU het twee weke gelede in ʼn verklaring gesê die Maart/April vakansie is met een week verkort om op te maak vir die tyd wat verlore gegaan het terwyl die kampus gesluit was. Toetse sal ook gedurende normale klastye afgelê word in plaas van tydens ʼn spesiale toetsweek en studente sal op Saterdae klasloop. “Enige verdere ontwrigting van hierdie reeds beperkte skedule, sal die gehalte [van onderrig] in gedrang bring en ons met geen ander opsie laat as om die hele eerste semester en gevolglik die hele jaar te verloor nie.”

Volgens Degenaar is die polisie steeds besig met hul ondersoek na die onrus op die kampus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Veritas ·

Die afbrand van universiteitsgeboue is niks anders as sabotasie van die jeug se geleentheid om hulself te skool vir hulle en die land se toekoms nie. Indien die skuldiges ooit opgespoor word behoort hulle van sabotasie aangekla te word en nie van opsetlike saakbeskadiging nie. Dit behoort ‘n waarskuwing uit te stuur aan ander wat dieselfde gedagtes koester.

Pieter.v ·

Los die fasiliteite wat die studente afgebrand het net so ,laat hulle klas loop soos dit is, of verhoog studie gelde om te betaal vir die skade, studente wat onskuldig is sal vinnig na vore kom en die skuldiges uitwys, dan is dit nie nodig vir n ondersoek , want van n polisie ondersoek sal vere kom,die belhamels moet geskors word en by geen universiteit weer toe gelaat word nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.