‘NWU mag nie oud-Pukke se stem stilmaak nie’

'n Skermskoot van die Pro Puk-webtuiste.

‘n Skermskoot van die Pro Puk-webtuiste.

Die Suid-Afrikaanse Instituut vir Intellektuele Eiendomsreg (SAIIPL) het bevind dat die Pro-Puk-groep die webtuiste-domein, www.propuk.co.za, mag gebruik. Dit volg nadat die Noordwes-Universiteit (NWU) oudstudente weens die gebruik van die naam verkla het.

Die Pro-Puk-groep, in samewerking met die Solidariteit Beweging, het hierdie webtuiste gestig kort nadat die NWU se Potchefstroomkampus in 2014 in die spervuur beland het weens berigte oor koshuis-groetgebare op die kampus wat glo herinner het aan die saluut van Nazi-Duitsland.

Die herrie het tot verskeie veranderinge en ook die bespoediging van transformasie op die Potchefstroomkampus gelei. Die oudstudente het na aanleiding hiervan die Pro-Puk-veldtog geloods om Afrikaans op die Potchefstroomkampus te beskerm en die webtuiste is terselfdertyd vir dié doel geskep.

Johan Kruger, adjunkhoof van Solidariteit, het gesê dit is ironies dat die NWU juis teen die spreekbuis vir sy alumni probeer optree het, terwyl die alumni die wese en toekoms van hul alma mater probeer beskerm het.

“Die uitspraak van die tribunaal bevestig dat die registrasie en bestaan van die Pro-Puk-domein nie in kwade trou gedoen is nie. Die uitspraak bevestig ook dat die gebruik van die naam nie beteken dat alumni onbillik voordeel trek uit die gebruik van die naam nie en dat dit ook nie tot nadeel van die NWU se regte strek nie,” het Kruger gesê.

Die Pro-Puk-groep funksioneer nou saam met die Solidariteit Beweging en het sodoende baie wyer by Afrikaans in die tersiêre sektor betrokke begin raak omdat hulle ook aansluiting vind by die nuutgestigte Afrikaanse Alumni-vereniging. Dié vereniging het die lig gesien nadat die sogenaamde “Luister”-video dieselfde gevolge op die Maties-kampus gehad het.

Sommige lede van die netwerk dien ook op die rade van die Stellenbosch Universiteit en die Universiteit van Pretoria. Verder werk hulle ook saam met personeel en studente by al die tradisioneel Afrikaanse universiteite. Hulle is ook aktief betrokke by die vestiging van Akademia, Solidariteit se nuwe Afrikaanse gemeenskapsuniversiteit.

Volgens Kruger stuur die uitspraak ʼn sterk boodskap uit dat Puk-alumni die reg het om kommentaar te lewer en toe te tree tot die debat oor die toekoms van die NWU.

“Ons is verheug dat hierdie stem nie stilgemaak is nie en ons glo dat dit verdere momentum aan die alumni se Pro-Puk-veldtog sal gee. Universiteitsowerhede in Suid-Afrika moet kennis neem daarvan dat alumni nie stilweg sal toekyk hoe vergrype deur universiteitsbesture en die regering onder die vaandel van transformasie by hul alma maters plaasvind nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Gerhardt ·

Baie kleinlik van NWU!!! Ek wonder wie moet nou pa staan vir vrugtelose mors van geld tov die regkoste! Swak bestuur. Soos hulle sê ” Pansie Kwgadi ne”

Johann Marx ·

Weet nie of dit waar is nie……en is besig om dieper te krap…..maar dit wil voorkom asof blanke Afrikaanse koshuis inwoners onder druk geplaas word om die koshuise te verlaat en “privaat verblyf” te gaan kry….om plek te maak vir swart 1ste jaar student?? Dis tyd dat ons opstaan en beswaar maak…

Rupert Ashford ·

Alumni moet ophou geld insamel vir hierdie “voorheen Afrikaanse” universiteite en die geld liewer aan Akademia skenk totdat daar van die Universiteite duidelike tekens is dat Afrikaans nie vernietig sal word nie en dat Afrikaanse studente nie as tweedeklas burgers behandel sal word aan hierdie instansies nie. Genoeg is genoeg, slaan hul waar dit seermaak…

Gerhard ·

Jy slaan die spyker op die kop. Ek is ‘n oud-Puk en ‘n oud -Kovsie, en ek was ‘n donateur van beide. Ek het my Puk donasies gestaak toe dit NWU geword het, en my Kovsies donasies toe hulle die leuse verander het om die verwysing na God daatuit te haal. Deur daardie optrede het beide my alma maters hulle onherroeplik van my vervreem.

theo ·

Skenk liewer geld Centurion Akademie. Ons lewer al vir meer as 15 jaar Afrikaanse studente af. Ons het 9 kampusse. Kom sien ons asb sodat ons julle kan inlig. Ons benodig groot befondsing vir ons uitbreiding

Breytie ·

My seun het ‘n kursus by Centurion Akademie gedoen onder die voorwendsel dat dit ‘n geregistreerde kursus is. Nadat eksamen geskryf is en alles afgehandel, toe blyk dit die kursus was nie geregistreer nie. Al die moeite vir niks!

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.