NWU ontken dat SAID-hoof se MBA nagegaan word

Makheke-Mokhuane tydens haar verskyning voor die Nugent-kommissie. Foto: Brenda Masilela/ANA

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het ontken dat sy sakeskool Mmamathe Makhekhe-Mokhuane, inligtingshoof by die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), se MBA-kwalifikasie laat hersien.

Louis Jacobs, woordvoerder van die universiteit, het gesê mediaberigte dat die NWU skarrel om seker te maak dat haar kwalifikasie op peil is, is onwaar.

Jacobs verduidelik dat Makhekhe-Mokhuane haar MBA einde 2003 aan die Universiteit van Noordwes (voorheen die Universiteit van Bophuthatswana) verwerf het.

“Ek het dit met die direkteur van die sakeskool bespreek en daar is geen sprake daarvan [van die hersiening] nie,” het Jacobs gesê.

Maroela Media het vroeër berig Makhekhe-Mokhuane het Saterdag in ʼn verklaring om verskoning gevra vir haar onsamehangende onderhoud op die SAUK se Morning Live-program, asook haar getuienis voor die kommissie Woensdag.

“My gedrag, liggaamstaal en houding kon die indruk gewek het van arrogansie, ongeërgdheid en onprofessionele gedrag, en het my bevoegdheid en kennis in twyfel getrek,” lui die verklaring.

“Dit is jammer en betreurenswaardig. Hiervoor neem ek ten volle verantwoordelikheid. Ek vra om verskoning aan almal wat ek teleurgestel of aanstoot gegee het deur hoe ek albei situasies hanteer het. Daar is geen verskoning of regverdiging hiervoor nie.”

Makhekhe-Mokhuane het die verklaring afgesluit deur te sê sy is jammer dat sy nie voldoen het aan die hoë standaarde van professionaliteit en bevoegdheid “waaraan my kollegas en portuurgroep my ken nie”.

Makhekhe-Mokhuane het verlede week ʼn huishoudelike naam geword nadat ʼn bisarre TV-onderhoud wat sy met die SAUK gevoer het soos ʼn veldbrand op sosiale media versprei het.

Makheke-Mokhuane het later dieselfde dag voor regter Robert Nugent verskyn waar sy onder meer moes getuig oor die SAID se infrastruktuur, maar het hier nie veel beter gevaar nie.

Sy het op ʼn vraag oor wat sy bedoel het in haar voorlegging toe sy verwys het na die lang ampstermyne van SAID-werknemers, oor die Drakensberg Seunskoor begin praat. “Die Drakensberg Seunskoor is in 1867 op die been gebring en in 2018 word meisies steeds nie toegelaat om te sing nie.”

Tydens die SAUK-onderhoud het sy in ʼn stadium vir die onderhoudvoerder gevra: “Mevrou, kan jy my beskerming bied teen jouself?” Dié vreemde uitlating is só wyd op sosiale media versprei dat dit intussen in talle grappe gebruik en selfs in ʼn spottende liedjie omskep is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

koos1 ·

Ek is seker die NWU moet dit doen, of anders spreek dit boekdele van die MBA graad en die mense (lees kaders) wat dit daar verwerf.
Ek ‘n basiese begrip vir Engels word benodig om die graad te verwerf, nie waar nie!!

Justice ·

Sommer terselfdetyd haar matrieksertifikaat ook laat nagaan.

Ben ·

Behalwe die ligaams gedrag will dit voorkom asof die gebrek aan IT kennis die sondebok is.

Rene ·

Die vraag is, HOEKOM sy so ge antwoord het. Is sy rerig onbevoegd, of het sy n kalmeerpil of 2 ingehad… sy moet heerself verduidelik. Ek gee nie om vir n verduideliking nie. Ek wil weet hoekom!

Diefie ·

Sy het net weereens bewys dat die regering ook maar “confused” is en in vreemde tale praat, want ons gewone mense op straat verstaan die regering glad nie.

SjN ·

Mnr Jacobs, dan raak ek bekommerd namens julle instelling dat geen verdere ondersoek gedoen word nie, was dit dalk hul standaard by die vorige plek in 2003 ? tyd was dagga nie Iewers is daar fout.

Nelia van Zyl ·

Is dit dan die kwaliteit van die NWU se graad? Gelukkig dat ons dit nou weet nè. Geen verdere studente vir julle nie!

Afrikaanse Knaap ·

In daai jare het ‘n dame van haar demografie haar graad gekry deur net op te daag. #meritmustrise

Zelda ·

Ek dink hulle moet weer n onderhoud voer met haar. As haar antwoorde weer so skreeu snaaks is. Dan weet ons sy het nie die jammer briefie geskryf nie. Maar iemand anders wat dit gedoen het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.