NWU-personeellid, man steeds in aanhouding ná ‘moord-dreigemente’

Hoofgebou-potchefstroomkampus1

Hoofgebou by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit Foto: Maryke Laas/NWU.

ʼn Vroulike personeellid van die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus en ʼn manlike verdagte is steeds in polisieaanhouding nadat hulle vroeër vandeesmaand in hegtenis geneem is vir onder meer sameswering tot moord en verkragting.

Dít kom nadat die twee vroeër vandeesmaand saam met ʼn derde verdagte, ʼn man in sy 50’s, in Potchefstroom vasgetrek is.

Kol. Adele Myburgh, provinsiale woordvoerder van die polisie, sê aan Maroela Media dié inhegtenisnemings volg nadat ʼn 65-jarige man benewens die aanklagte van sameswering tot moord en verkragting ook aanklagte van intimidasie en aanranding teen die drie verdagtes aanhangig gemaak het.

Die vroulike personeellid is vroeër vandeesmaand op die universiteitskampus in hegtenis geneem.

Louis Jacobs, woordvoerder van die NWU, het op navraag aan Maroela Media bevestig dat sy hangende die ondersoek tydelik geskors is.

Die twee mans, onderskeidelik 58 en 52 jaar oud, is dieselfde dag in hegtenis geneem.

“Al drie verdagtes het alreeds drie keer vandeesmaand in die hof verskyn,” sê Myburgh. “Die 58-jarige man is die enigste van die drie verdagtes wat tydens die laaste hofverskyning borgtog toegestaan is. Die ander twee verdagtes is steeds in aanhouding.”

Myburgh sê daar word in dié stadium beweer dat die vrou en die 58-jarige man die ander verdagte opdrag gegee het om die 65-jarige klaer te intimideer. “Hulle het onder meer gedreig om hom dood te maak, hom onder die indruk geplaas dat hulle hom dophou en agtervolg, hom gedreig om geld aan hulle oor te betaal en ook gesê dat hulle sy dogter gaan verkrag. Al dié bewerings sal eers in die hof bewys moet word; die polisie kan nie onmiddellik meer inligting bekend maak nie.”

Myburgh wou nie in dié stadium bekend maak presies hoekom die familie gedreig is nie, aangesien ʼn ondersoek na die voorval steeds voortduur. Die vroulike verdagte het glo aangedui dat sy gaan appelleer teen die weiering van borgtog, maar Myburgh sê daar is in dié stadium geen hofdatum vir ʼn appèlaansoek bekend nie.

Die verdagtes verskyn weer op 13 Julie in die hof.

Weens die seksuele aard van een van die aanklagte teen die beskuldigdes mag hul name nie bekendgemaak word alvorens hulle gepleit het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

zoom zoom ·

Mag ons weet wie die skuldiges is of is dit ‘n geheim????/

Antiestabliesment ·

Ja, wat is die ding dag name agv seksuele klagtes nie bekend mag wees nie? Wat maak verkragting erger as moord?

Ai ·

Weens die seksuele aard van een van die aanklagtes teen die beskuldigdes, mag hulle name nie bekend gemaak word voor hulle gepleit het nie

nico k ·

Zoom zoom, gebruik liewer die term beskuldiges. Onskuldig tot skuldig bewys.

johan brits ·

Gaan hulle saam met malema sit wat freig om alle witmense te bermoor of is jy bo die wet.

wilma ·

My geheue mag my dalk in die steek gelaat het, maar ek is seker die drie “beskuldigdes” se name is vroeër in dié berig genoem, maar nou verwyder.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.