NWU-Raad besluit oor Van Schalkwyk se lot

Advokaat-Johan-Kruger-en-professor-Dan-Kgwadi-02

Advokaat Johan Kruger, voorsitter van die NWU-Raad en professor Dan Kgwadi, visekanselier van die universiteit, het die media na afloop van’n tweedaagse werkswinkel toegespreek. Foto: Esté Meyer Jansen.

Die publiek sal amptelik eers na Maandag weet wat Raad van die Noordwes-Universiteit besluit het oor die verlenging van prof. Herman van Schalkwyk, adjunkhoof van die NWU en rektor van die universiteit se Potchefstroom-kampus, se ampstermyn.

Volgens adv. Johan Kruger, voorsitter van die universiteit se Raad, is Van Schalkwyk reeds oor sy lot ingelig, na afloop van die Raad se tweedaagse werkswinkel wat hierdie naweek in Centurion agter geslote deure plaasgevind het.

“Gegewe die wye publisiteit rondom die moontlike verlenging van Van Schalkwyk se ampstermyn, het die raad besluit om ons beslissing op ʼn hoflike manier te hanteer,” het Kruger gesê. “Die universiteitsgemeenskap sal Maandag in kennis gestel word oor die besluit, waarna dit amptelik aan die publiek gekommunikeer sal word.”

Kruger het die media Saterdagmiddag na afloop van die Raad se werkswinkel toegespreek. Prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die universiteit, en nog twee lede van die uitvoerende bestuur van die Raad, was ook teenwoordig. Van Schalkwyk het nie die mediakonferensie bygewoon nie.

Die Raad het ook vergader om besluite rondom die hersiening van die universiteit se strategiese prosesse deur te trap in ʼn poging om ʼn nuwe bestuursmodel vir die universiteit saam te stel.

Kruger het bevestig dat die Raad nog geen finale besluite geneem het nie en dat die werkswinkel maar net ʼn eerste stap is in die proses op die besluit van ʼn nuwe model.

Op ʼn vraag van die media of daar slegs enkele fakulteite by sekere van die kampusse gaan wees, wat beteken dat studente na ander kampusse sal moet skuif om spesifieke rigtings te studeer, kon Kruger nie antwoord nie. Hy het egter gesê dit is wel een van die modelle wat voorgestel is en oorweeg word. Hy het bygevoeg die hersamestelling van fakulteite word ondersoek sowel as die volhoubaarheid en gehalte daarvan. Kruger het ook bevestig dat ʼn koste-analise op die toekomstige struktuur gedoen sal word.

Kgwadi het bevestig dat die Raad voor hulle volgende vergadering in Junie ʼn besluit oor die nuwe model sal wil neem. “Ek kan julle belowe dat die besluitnemingsproses nou baie vinniger sal vorder,” het hy gesê. Beide Kruger en Kgwadi het bevestig dat daar nog ʼn paar werkswinkels sal plaasvind voor die vergadering. Alhoewel die Raad die finale besluit oor die nuwe strategiese model sal neem, het Kgwadi gesê rolspelers soos personeel, studente en eksterne kundiges sal betrek word by die samestelling van die universiteit se nuwe bestuursmodel.

Kruger het weer ʼn beroep gedoen om kalmte tydens die Raad se hersiening van die model. “Dit is alle raadslede se verantwoordelikheid om die NWU se integriteit te beskerm terwyl die Raad alle bestaande strukture en modelle analiseer met inagneming van die bestuur en ander uitdagings.”

Volgens Kruger het die raadslede verskeie en uiteenlopende opinies gehad tydens die werkswinkel, maar die Raad het op fundamentele kwessies konsensus bereik. “Die Raad is steeds daartoe verbind om ʼn gedeelde visie vir die instelling na te streef,” het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Riaan Engelbrecht ·

Is dit die begin van die einde van Potchefstroom Kampus?

Rupert Ashford ·

Soos jy hom ken ja. There’s many ways to skin a cat.

Bruno Stef ·

My kleinkind se toekoms word nou deur n paar kommuniste in die ANC bepaal baie beslis sal my kinders nie toelaat dat sy na die ander twee hole verskuif word nie, Maw haar klasbywoning en studies kan benadeel word as die onbeheersde gepeupel besluit om op die eenbeen rond te spring af te brand en te plunder.

Bruno Stef ·

Ek voel heelwat meer gerus nadat ek sopas die Rapport gelees het dat Flip Buys ook op die Potch Universiteitsraad aangestel is.Sy betrokkenheid en menings gee n mens sommer nuwe hoop veral met sy onderhoud met Hanlie Retief.

Gwen ·

Die probleem met regslui is dat hulle hulself blind staar teen die hier en nou. Hulle het selde die vermoë om in te sien wat hul besluite in die toekoms tot gevolg kan hê. As Van Schalkwyk nie weer aangestel word nie, sal die pos tien teen een deur ’n swarte of kleurling gevul word wat effektief die einde van Afrikaans as hoëronderwystaal aan ’n staatsinstelling sal beteken. My hoop rus nou reeds op Solidariteit en Akademia (die Afrikaanse Harvard).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.