NWU reageer binnekort op naamlose klaers

“Belanghebbendes” van die Noordwes-Universiteit het ’n regsfirma gevra om hul vier vernaamste klagtes aan die universiteit se raad voor te lê. Foto: Wikipedia

Die Noordwes-Universiteit (NWU) sê hy kan eers nadere besonderhede oor klagtes van ʼn groep anonieme “belanghebbendes” bekendmaak nadat die NWU-raad op hul besware gereageer het.

Louis Jacobs, universiteitswoordvoerder, sê hulle het geen benul hoeveel “direkte en indirekte belanghebbendes” die klagskrif aan ʼn regsfirma gerig het wat die raad Donderdag op sy gewone vergadering bespreek het nie.

Die beswaardes is onder meer ontevrede oor die gebruik van die amptelike visekanselierswoning in Potchefstroom, maar Jacobs sê oor wat dié of die ander drie klagtes behels, kan nie in die media uitgewei word nie. “Ons moet eers die regsfirma antwoord, wat binnekort sal geskied.”

Gevra waarom hulle ʼn mediaverklaring uitgereik het as die universiteit nie nadere besonderhede bekend kan maak nie, het Jacobs gesê hulle het besluit om “proaktief” op te tree voor die besware op ʼn ander manier aan die lig kom. “Daarom het ons die besluit geneem om dit wel te kommunikeer.”

Die orige drie klagtes handel oor die aanstelling van senior personeellede, skeidingspakette wat aan senior bestuurders betaal is en vordering van die ondersoek na beweerde plagiaat.

Dit is nie nuwe inligting nie en die meeste daarvan is reeds deur die raad gehanteer en ooreenkomstig genoteer.

Op Donderdag se raadsvergadering is die brief van die regsfirma ter tafel gelê en bespreek. Luidens die universiteit se verklaring bevat dit “sekere beweringe wat geopper is deur kliënte van die firma wat blykbaar almal direkte en indirekte belanghebbers van die universiteit is”. Die klaers verkies om “vir eers” anoniem te bly.

Die raad sê hy is bewus van die kwessies wat in die brief uitgestippel word. “Dit is nie nuwe inligting nie en die meeste daarvan is reeds deur die raad gehanteer en ooreenkomstig genoteer.

“Ná deeglike bespreking het die Raad ʼn besluit geneem oor die hantering van die aangeleentheid en sal hulle dienooreenkomstig ʼn antwoord aan die regsfirma verskaf.”

Die raad sê hy wil alle belanghebbers aanmoedig “om voort te gaan om die bestaande universiteitskanale te gebruik om aangeleenthede aan te meld waaroor hulle bekommerd is, en om van alle moontlike interne kanale gebruik te maak in ooreenstemming met die universiteit se korporatiewebestuursraamwerk”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jewel ·

Waarvoor word die “amptelike kanselierswoning” gebruik? Ek is nuuskierig!

John ·

Ons het nou die gulde geleentheid om te reageer op dit wat ons nie weet nie weens proaktiewe aksies van NWU om ons in te lig dat hulle ons nie gaan inlig nie. Ons weet nou genoeg oor dit wat ons nie weet nie om slapelose nagte he omdat ons nie weet waaroor ons ons moet bekommer nie… ‘n ware en egte nagmerrie… om te weet dat ons nie weet nie… brrrr!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.