NWU-rektor uitgedaag om antwoorde te gee

Prof. Dan Kgwadi, vise-kanselier van die NWU Foto: Nico Strydom, Maroela Media

Prof. Dan Kgwadi, vise-kanselier van die NWU Foto: Nico Strydom, Maroela Media

Prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die Noordwes-universiteit (NWU), het nog nie daarin geslaag om die steun van die gemeenskap van die Puk-kampus te kry vir die beleide en strategieë wat hy nastreef nie.

Sy optrede en vaagheid rondom die brandpunte en kwessies is klaarblyklik eerder vir groter onsekerheid, bespiegeling en spekulasie op dié kampus verantwoordelik wat ook tot ’n gevoel van “marginalisering” aanleiding gee.

Prof. Francois Venter, voormalige dekaan van die fakulteit regte by die Puk wat afgetree het en tans deeltyds navorsing doen, het verlede week in ’n sterk bewoorde ope brief aan Kgwadi dit duidelik gemaak dat hy dringend antwoorde aan die universiteitsgemeenskap verskuldig is oor die rigting wat hy beoog om met die instelling in te slaan.

Venter verwys ook na die indruk wat geskep word dat Kgwadi daarop uit is om prof. Herman van Schalkwyk, rektor van die Puk-kampus, uit te skuif en deur sy optrede ook meewerk om die gerespekteerde en goed presterende bestuur van die Puk-kampus en die studenteraad te marginaliseer.

In die brief word Kgwadi se bedoeling met sogenaamde transformasie en sy uitsprake en hantering van Afrikaans as onderrigmedium ook sterk bevraagteken.

Volgens Venter lyk dit of Kgwadi se onuitgesproke logika oor die taalkwessie is dat die “probleem” van Afrikaans oor tyd opgelos sal word deur die NWU se aantreklikheid as ’n werk- en leeromgewing vir Afrikaanssprekendes te verminder.

Venter wys Kgwadi ook daarop dat sosiale kohesie en nasiebou (wat dit ook al mag beteken) nie in die naam van ’n “meer geïntegreerde universiteit” bevorder sal word deur bestuurders wat goed vaar met ’n meer gesentraliseerde en potensiaal bo-normale grootte institusionele bestuur te vervang nie. “Dit spreek vanself dat die personeel van die drie kampusse onvermydelik onder verskillende omstandighede en in verskillende omgewings werk.”

Hy het gesê indien Kgwadi “demografiese transformasie” as nodig vir die NWU beskou, kan mens maar net wonder wat volgens hom die vereistes vir “diepe transformasie” is wat tot sosiale kohesie en nasiebou moet bydra.

Kgwadi word in die brief uitgedaag om te verduidelik of sy siening van transformasie dieselfde as die van die ANC is en op die party se Nasionaal Demokratiese Revolusie-strategie geskoei is en wat eintlik daarop neerkom dat die outonomie van die universiteit in die naam van transformasie weggekalwe word.

Kgwadi word voorts versoek om te verduidelik of sy strategie en posisie daarop gemik is om die ideologie van die politieke owerhede te bevredig en die bestaande funksionele taalbeleid uit te faseer ten gunste van ’n enkelmedium leer- en onderrigomgewing.

Die universiteit het by navraag gesê hy is tans met die strategiese formulering en beplanning besig en dit sal nie in die media gedoen word nie. “Ons vertrou dat die media dit sal respekteer en ons die geleentheid sal gun om ons beplanning te doen ten einde te verseker dat ons sal voortbou op dit wat in die afgelope 10 jaar vermag is,” lui ’n verklaring.

Volgens die NWU is vordering gemaak met die strategiese beplanning en waar nodig sal die proses uitgebrei en uitgebou word. Daar sal steeds sterk gefokus word op faktore wat geïntegreerde beplanning, institusionele samewerking en konsekwentheid met betrekking tot akademiese standaarde bevorder. “Alle bydraes van die personeel van die NWU sal oorweeg word as insette vir die strategiese proses,” het die universiteit gesê.

Klik hier om prof. Venter se ope brief te lees.
Lees alle vorige berigte oor die Puk op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Oukiedoukie ·

Dan Kgwadi moet ook onomwonde en baie duidelik hulle transformasieteikens bekend stel. Geen vaaghede nie, aangesien ‘n transformasieteiken van 10% swart en 90% wit ‘n wereld verwyder is van 10% blank en 90% wit, ongeag wat die mooi gekantelde woorde is van die strategiese doelwit wat aan die publiek voorgehou word.

Oukiedoukie ·

Dan Kgwadi moet ook onomwonde en baie duidelik hulle transformasieteikens bekend stel. Geen vaaghede nie, aangesien ‘n transformasieteiken van 10% swart en 90% wit ‘n wereld verwyder is van 90% swart en 10% wit, ongeag wat die mooi gekantelde woorde is van die strategiese doelwit wat aan die publiek voorgehou word.

Willem Smith ·

Kgwadi het 10 dae na Prof. Venter se brief sy strategie gekommunikeer as hy vir die inwoners van ‘n bekende manskoshuis op PUK (NWU) “zero tolerance” aankondig, terwyl die saak nog sub judice is.

Charl ·

Alet, “beleid” is een van daardie woorde wat nie n meervoud het nie…..

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.