NWU sê oor bewerings teen Kgwadi en oor plagiaat

Die NWU se ampswoning in Potchefstroom, Noordwes. Foto: Fletch54/Commons.wikimedia.org

Die Noordwes-Universiteit het Maandag gereageer op ʼn prokureursbrief waarin ʼn groep belanghebbendes hul kommer uitspreek oor die visekanselier wat glo nie sy ampswoning gebruik nie en beweerde plagiaat van senior akademici.

Maroela Media het in November berig dat die NWU in ʼn mediaverklaring erken het die universiteit se raad het ʼn brief van ʼn groep anonieme belanghebbendes ontvang.

In die brief, wat Maroela Media onder oë gehad het, het die groep onder meer beweer prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, gebruik glad nie die rektor se ampswoning in Potchefstroom nie. Die woning word glo ten duurste onderhou terwyl die universiteit vir die visekanselier se verblyf en droogskoonmaakdienste in ʼn gastehuis vir homself en sy motorbestuurder opdok.

Maroela Media het ʼn faktuur gesien wat daarop dui dat die Noordwes-Universiteit sowat R75 000 betaal het vir verblyf in ʼn gastehuis in Potchefstroom vir Kgwadi en sy motorbestuurder. Die verblyf het ook droogskoonmaakdienste ingesluit.

Die onkoste is aangegaan in ʼn tydperk van Desember tot Februarie wat die groep as die stilste tyd op die universiteit se kalender beskou.

Dr. Bismark Tyobeka, die raadsvoorsitter van die NWU, het Maandag aan Maroela Media gesê dat Kgwadi nou wel in die amptelike universiteitswoning tuisgaan wanneer hy in Potchefstroom is.

“ʼn Gedeelte van die huis is vir hom en sy bestuurder ingerig. Bewerings dat hy en sy bestuurder teen buitensporige kostes in gastehuise in Potchefstroom woon terwyl die ampswoning leeg staan, is nie waar nie.”

Volgens Tyobeka het die visekanselier na sy aanstelling in 2014 wel in ʼn gastehuis in dié dorp oorgebly omdat daar toe uitgebreide herstelwerk aan die ampswoning gedoen is. “Dit was egter ʼn hele paar jaar gelede.”

Prof. Dan Kgwadi, vise-kanselier van die NWU Foto: Nico Strydom, Maroela Media

Hy het verder gesê dit is ʼn bekende feit dat die visiekanselier verklaar het voordat hy sy aanstelling aanvaar het dat hy nie met sy gesin in dié woning sou woon nie omdat hulle in Gauteng woon. “Die universiteitsraad het die reëling na behore goedgekeur.”

Tyobeka het bygevoeg dat die NWU-kampusse in Mahikeng, Potchefstroom en Vanderbijlpark het en dat die visekanselier woon waar dit ook al gerieflik is vir hom om sake te hanteer op die kampusse.

“Benewens dat die visiekanselier in ʼn suite in die ampswoning woon wanneer hy in Potchefstroom werk, word die huis ook deur ander senior bestuurders en vir amptelike universiteitsgeleenthede en -sake gebruik. Die woning bly gevolglik ʼn NWU-bate.”

In die genoemde brief word daar ook kommer uitgespreek oor die beweerde plagiaat van senior akademici en kampusbestuur by die NWU. Die groep eis om te weet wie is almal ondersoek en watter stappe gedoen is om die onafhanklikheid van die ondersoek te bepaal.

Tyobeka het gesê wat betref die ondersoek oor die beweerde voorvalle van plagiaat, het die universiteitsraad verneem dat die eksterne oorsigpaneel sy taak voltooi het.

“ʼn Omvattende verslag is aan die visekanselier voorgelê en hy het die betrokke lynbestuurders opdrag gegee om die aangeleentheid in ooreenstemming met die toepaslike NWU-beleid en reëls te hanteer.”

ʼn Statusverslag oor hierdie aangeleentheid sal aan die eerste raadsvergadering in 2019 voorgelê word, aldus Tyobeka.

Hy het verder bevestig dat die universiteit die regsfirma wat die groep verteenwoordig binne die tydsraamwerk geantwoord het.

“Die hele aangeleentheid is nou tussen die firma en die NWU-raad en die inhoud van ons kommunikasie sal nie deur die NWU bekend gemaak word nie.”

Tyobeka het gesê die universiteit dra geen kennis van enige noodvergadering rakende die brief se inhoud nie. Hy het alle belanghebbers namens die raad aangemoedig om voort te gaan om die bestaande universiteitskanale te gebruik om sake te rapporteer waaroor hulle bekommerd is.

Tyobeka het intussen ook ten sterkste ontken dat daar enige bedekte dreigement teen die bekommerde belangegroep gemaak is wat ʼn prokureursbrief met klagtes aan die universiteitsraad gestuur het.

Maroela Media het vertroulik verneem dat daar aan die personeel van die universiteit gesê is dat hulle belange nie beskerm kan word as hulle nie die regte kanale volg om hulle klagtes te opper nie.

Volgens die bron vlieg daar tans prokureursbriewe en bedekte dreigemente agter die skerms tussen die universiteit en die prokureursfirma Moolman & Pienaar Ingelyf wat die brief namens die groep geskryf het.

Hans-Jurie Moolman, regsverteenwoordiger van die groep, het aan Maroela Media gesê hy is bewus van ʼn indringende poging van die universiteit se kant om te probeer uitvind wie aan sy firma die opdrag gegee het om die brief te skryf.

“Dit is dan ook juis waarom my kliënte aanvanklik besluit het en steeds anoniem wil bly.

“As hulle die normale kanale sou volg sou my kliënte beslis blootgestel wees uit die aard van die persone wat by die kwessies betrokke is. Dit sou in hierdie geval eintlik meer gepas wees om die kwessies te probeer aanspreek as om te probeer uitvind wie die persone is wat dit wil aanspreek.”

Moolman het benadruk dat die groep net vir deursigtigheid en eerlikheid vra. “Die NWU speel ʼn belangrike rol in dié dorp en provinsie en die groep wil seker maak dat die universiteit skoon en deursigtig is in hulle bestuur. Ek kan jou verseker die groep het ʼn lang verbintenis tot die universiteit en is lojaal aan die NWU.

NWU deur Media Club (Flickr)

“Ons wil die universiteit die geleentheid bied om te sê; ‘julle het die kat aan die stert beet en hier is die feite’. Wat is die probleem om volledige inligting te verskaf oor die besluite wat ons in die brief aanraak?”

Moolman meen die universiteit is ʼn openbare instelling en daarom is dit in openbare belang om te weet op watter gronde sekere besluite by die universiteit geneem is en wie by die besluite betrokke is.

Hy het ook benadruk dat die groep met dokumentasie en bewyse sit wat die vrae staaf wat hulle in die brief stel. “As jy die universiteit se verklaring lees ontken hulle nie die sake nie. My kliënte wil net weet presies wat die universiteit besluit het en watter inligting het hulle gebruik om hulle besluite te oorweeg? Dit is die antwoord wat hulle aan ons verskuldig is.”

Moolman het gesê hy sal voortgaan om namens die groep ʼn repliek te formuleer. “Ons wil graag ʼn formele versoek tot inligting, volgens die wet op toegang tot inligting, rig sodat ons kan sien wat is aan die raad gerapporteer en of enige persone wat geïmpliseer word by die klagtes betrokke was by die vergaderings hieroor. Ons wil sien wat gesê is en of die raad se besluite hieroor objektief oorweeg is.”

Tyobeka het weer benadruk dat die klagtes wat in die brief geopper is nie nuwe inligting is nie. “Die sake is deur die universiteitsraad hanteer en genotuleer. Daar is geen nuwe ondersoeke deur die raad in die verband aangevra nie.

“Dit word duidelik uitgespel, dat gesien in die lig daarvan dat die beweerde klaers verkies het om ʼn eksterne roete te volg om hulle besware te lug, in plaas daarvan om binne die universiteit se beleide en reëls te volg, die universiteit se beleide nie meer aan die klaers beskerming kan bied nie en anonieme en wilde aantygings deur individue kan tot optrede teen hulle lei,” het hy bygevoeg.

Die groep het in die brief verder sy kommer uitgespreek oor die aanstelling van die universiteit se direkteur vir talentbestuur. Die direkteur het net drie jaar en ses maande se ervaring gehad, en glo nie oor die toepaslike minimum kwalifikasie beskik nie terwyl die pos minstens tien jaar se ondervinding vereis het.

Die brief het ook klagtes vervat oor talle skeidingspakkette aan personeel in senior poste in Kgwadi se termyn as visekanselier. In die brief word daar beweer dat van die personeel net ʼn kort tyd gewerk het voordat hulle aansienlike skeidingspakkette ontvang het om hulle dienste te beëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Gert van Wierdapark ·

Waar daar ‘n rokie trek is daar gewoonlik ‘n vuurtjie! Die groep bekommerdes moet asb. deurdruk met hul navraag/ondersoek.

Roos ·

Waarom ‘n ampswoning en ‘n motorbestuurder? Hy is nie die president nie.
Genade, maar die universiteit het geld né! Ondersteun eerder ‘n paar behoeftige studente sou ek sê.

Hanna Hoekom ·

Alles in die naam van transformasie! Geloofwaardigheid voor kundigheid… Nog n ANC suksesverhaal.

Brens ·

Roos ek stem saam!! Die PUK en nepotisme is n ander een wat my dwars in die krop steek! dis n feit ja. Pappa en mamma en kinders en niggies en nefies, eerste voorkeur by werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.