NWU sê oor ondersoek na plagiaat

NWU deur Media Club (Flickr)

Die raad van die Noordwes-Universiteit (NWU) het sy registrateur opdrag gegee om die nasionale hoëronderwysstrukture te vra om ʼn platform te skep waar universiteite inligting kan deel oor sake soos plagiaat.

Dit volg nadat die NWU Woensdag terugvoer verskaf het oor ʼn uitgebreide ondersoek na plagiaat waarby 21 huidige en voormalige personeellede betrek is.

Maroela Media het verlede jaar berig oor ʼn ondersoek nadat daar aanvanklik 12 akademici van die NWU van plagiaat in hul navorsing beskuldig is. Die Raad op Hoër Onderwys (RHO) het die aantygings teen akademici in Mei 2017 onder die NWU se aandag gebring.

Volgens Louis Jacobs, woordvoerder van die universiteit, is ʼn streng proses gevolg wat ʼn tegniese ondersoek deur ʼn plagiaatkundige ingesluit het. ʼn Paneel van kundiges op die vakgebied het die tegniese verslag oorweeg en ʼn eksterne oorsigpaneel onder onafhanklike voorsitterskap van ʼn voormalige waarnemende regter was ook betrokke by die ondersoek. ʼn Onafhanklike regskundige het ook ondersteuning tydens die ondersoek verskaf.

Jacobs sê daar kon geen prima facie-bewyse gevind word wat op plagiaat dui teen tien personeellede wat tans nog in diens van die universiteit is nie.

Nog twee persone, wat nog in die diens van die NWU is, is egter skuldig bevind aan wanvoorstelling en plagiaat.

“Met inagneming van alle bewyse en omstandighede, is hulle berispe en opdrag gegee om die NWU terug te betaal vir bladsygeld wat vir die publikasie van die betrokke artikel betaal is,” sê Jacobs.

Voldoende bewyse het getoon ʼn verdere vyf ander personeellede wat ook nog steeds in diens van die NWU is, was skuldig aan wangedrag.

“Feite in die tegniese verslag dui op beweerde netwerke van moontlike akademiese samewerking tussen groepe navorsers. Die paneel het aanbeveel dat die tegniese ondersoek in hierdie geval verleng moet word. Die opvolg-tegniese ondersoek is intussen ook afgehandel en sal aan ʼn span kundiges op die vakgebied beskikbaar gestel word sodat hulle aan die eksterne oorsigpaneel hieroor kan rapporteer.”

Jacobs sê prima facie-bewyse van plagiaat en vervalsing is ook gevind teen ʼn ander personeellid wat betrek is en in die diens van die NWU is. “Dit was ʼn artikel wat geskryf is in die tydperk voordat die persoon by die NWU aangesluit het. Teen die agtergrond van voorgaande, het die paneel die visekanselier aangeraai om van die bevinding kennis te neem.”

Daar is ook bewyse gevind dat ʼn verdere drie ander individue wat intussen die diens van die universiteit verlaat het, skuldig is op akademiese wangedrag, insluitende plagiaat.

ʼn Groep belanghebbendes het in November ʼn prokureursbrief aan die NWU gerig waarin hulle onder meer hulle kommer uitgespreek oor die beweerde plagiaat van senior akademici. Die groep het toe geëis om te weet wie almal ondersoek word en watter stappe gedoen is om die onafhanklikheid van die ondersoek te bepaal.

Op ʼn vraag of die NWU nou enigsins sal oorweeg om die name bekend te maak het Jacobs gesê die universiteit sal dit beslis nie doen nie. Hy het egter benadruk dit is waarom daar nou ʼn versoek is om ʼn platform te skep waar universiteite inligting oor plagiaat met mekaar kan uitruil.

“Dit is om te verhoed dat personeel maklik van een universiteit na ʼn ander skuif sonder dat die betrokke universiteit weet van ondersoeke teen so ʼn persoon,” sê hy.

“Die Raad veroordeel enige optrede van iemand wat met die universiteit geassosieer word en akademiese integriteit skend en indien daar bewyse is, sal die universiteit in ooreenstemming met ons dissiplinêre maatreëls teen die betrokke partye optree.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

jaco ·

So lyk regstellende aksie. Ek skat egter dat dit uitgegooi sal word, want die regstellende aksie aangestelde mense wat die saak nou ondersoek, het seker maar ook die regstellende aksie mense wat nou plagiaat pleeg, in hulle jobs aangestel.

Zombie ·

Kan iemand asseblief verduidelik wat “netwerke van akademiese samewerking” behels? Ek het al gewonder hoe dit vir sommige akademici moontlik is om meer as 10 artikels per jaar in sogenaamde vakwetenskaplike tydskrifte te publiseer, terwyl dit vir ander onmoontlik is.
Daar word genoem dat van die sogenaamde akademici die bladsygelde moet terugbetaal, maar wat van die vervalste inligting wat die wêreld ingestuur is. Kan ‘n lys me die titels van die artikels nie êrens verkry word nie? Help asseblief MM.

DC ·

Dis n jammerlike besluit om nie diegene wie betrokke is, se name en die betrokke navorsing bekend te maak nie. Dit plaas alle akademici by NWU nou onder verdenking. En dit skep n probleem om akademici te gebruik v navorsingswerk. Oud Puk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.