NWU sluit twee van sy kampusse

Die Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoek-kampus Foto: NWU

Die Noordwes-Universiteit se Vaaldriehoek-kampus Foto: NWU

Die Mafikeng- en Vaaldriehoekkampus van die Noordwes-Universiteit is Donderdag onmiddellik gesluit weens die #FeesMustFall-betogings wat universiteite landswyd lamlê.

“Aktiwiteite op die Mafikeng-kampus sal na die reses op 10 Oktober voortgaan,” het die universiteit in ʼn boodskap op sy Facebook-blad gesê. Studente sou na verwagting Donderdag teen 16:00 die kampus verlaat het. Die studente word versoek om die kampus te verlaat vir hul eie veiligheid.

Studente by die Mafikeng-kampus wat nie tevrede is met die aankondiging deur Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, nie, het Dinsdag vergader. Ná die vergadering het hulle glo van die lesinglokale en kantore bestorm, aktiwiteite ontwrig en personeellede en studente geïntimideer.

Die groep van ongeveer 200 studente het daarna by die hoofingang van die kampus bymekaargekom waar hulle hul betoging buite die universiteit se perseel voortgesit het. Hulle het ʼn straathandelaar se voorraadhouer aan die brand gesteek.

By die Vaaldriehoek-kampus het ongeveer 300 studente buite die hoofingang van die kampus betoog en die pad is afgesper met klippe. Dié kampus sal op 26 September heropen en sal dan weer vir die geskeduleerde reses sluit. Alle aktiwiteite op die kampus is intussen gestaak, maar die koshuise sal oop bly.
Geen insidente het op die Potchefstroomkampus plaasgevind nie en aktiwiteite gaan normaal voort. Die situasie op al drie kampusse word fyn dopgehou.

Nzimande het Maandag aangekondig dat universiteite in die land studentegelde in 2017 kan verhoog, maar dat dit nie hoër mag wees as 8% nie.

Lees alle vorige berigte oor studentebetogings op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

C ·

Kyk op Potch sukkel hierdie betogende studente maar ‘n biekie. My dogter is daar en selfs met die vorige betogings het hul normal gefunksioneer. Mooi so PUKKE, hou jul standaarde op en hoog en wys die ander universiteite hoe dit gedoen moet word en hoe almal in vrede kan saam werk en saam studeer vir jou eie toekoms. Go Pukke Go!!!!!!

Ahooy ·

C , Daar is n verskil in die “kultuur” van die drie Universiteite. Maklik om te verklaar.
Wat gaan aan met ons regstelsel wat nie hierdie KRIMINELE kan aanspreek nie????????

Jean ·

Straathandelaar se voorraadhouer aan die brand gesteek . nice going there .. FEESMUSTFALL deur ‘n straathandelaar se goed aan die brand te steek? Hierdie mense se (on)logika verstom my absoluut, hierdie arme handelaar probeer net ‘n eerlike inkomste verdien .. nou kom vandaliste en vernietig alles wat hy besit, nou moet hy hongerly.. .dis ‘n SKANDE en niemand sal my oortuig dit gaan oor Universiteitsgelde nie …

Jean ·

Ek het vanoggend na Winnie Mandela geluister .. luister gewoonlik nie na haar nie maar sy het uitdruklik gese die BELOFTE van die ANC dat alle EDUCATION verniet gaan wees was nie haalbaar nie, dit was ‘n onbillike verwagting wat geskep is .. Sy se die mense protesteer nie vir LAER fooie nie, hulle protesteer vir GEEN FOOIE , want dit is wat deur ‘n (onkundige) ANC destyds aan hulle belowe is. Nou dit was nie rocket science nie, ons almal weet dit, so die Universiteite kan die fooie so laag maak soos hulle wil, voordat dit nie GRATIS is nie, gaan hierdie brandstigters NIE ophou nie …

Dup du Plessis ·

…….Stem saam Johan, en ek hoop oom Dan en Froneman verstaan nou hoekom ons as ouers en die SR so baklei het om die PUK kampus se toegang nie vir die ander kampusse se studente oop te maak nie…….dit was nie akademiese wysheid nie maar net logika in ‘n Afrika land……en dan het hulle nog die voordeel van betalende studente, en geen afgebrande geboue……

Johannes Froneman, woordvoerder van prof. Dan Kgwadi ·

In hierdie tyd van onrus is die Potchefstroomkampus van die NWU inderdaad weer net oop vir studente van hierdie kampus. Prof Dan Kgwadi, visekanselier en prinsipaal, is hierin geken en stem saam. Wanneer alles weer normaliseer, sal ons ook toegang normaliseer, d.w.s. studente en personeel van die NWU sal vrye toegang tot al drie kampusse hê. Dit word gedoen in terme van die strewe om ‘n unitêre universiteit te wees, soos goedgekeur deur die Raad van die NWU.

Dup du Plessis ·

Dis baie lelik van julle Johannes, as ek hierdie studente was wat deur julle uitgesluit word sou ek baie, baie ongelukkig wees…..jy kan nie iets vir ‘n kind gee/belowe en dit dan weer wegvat nie……dis juis die belofte van gratis onderwys wat die stoker van die opstande is……dis hoekom elke kampus vir sy eie veiligheid verantwoordelik moet wees……..weereens net doodeenvoudige logika…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.