’n Eerstejaarstudent van Oosterhof-dameskoshuis op die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus, is Maandagmiddag tragies weens die aansteeklike meningokokkale meningitis (breinvliesontsteking) oorlede.
Prof Herman van Schalkwyk, kampusrektor en prof Dan Kgwadi, vise-kanselier van die NWU, wil beide hul medelye teenoor haar familie en vriende uitspreek.
Beraders van die kampus se Ingryp-ondersteuningsdienste staan studente van Oosterhof by. As voorkomende maatreël het alle inwoners van die koshuis ook ’n enkeldosis voorkomende medikasie, 500 mg Ciprofloxacin, ontvang. Hulle is ook ingelig oor hoe die siekte versprei en hoe om voorkomend op te tree.
“Dit is ongelooflik hartseer om so ʼn pragtige jongmens te verloor en ons harte gaan na haar vriende en familie uit, het dr. Emile Kotzé, kampusgeneesheer, gesê. “Ons wil wel ieder en elk verseker dat hierdie ʼn geïsoleerde geval is, dat alles moontlik gedoen is om die siekte te bekamp en dat die Potchefstroomkampus nie ʼn breinvliesontsteking-krisis beleef nie.”
Die Universiteit versoek dat die familie en vriende van die student se privaatheid gerespekteer word. In die onwaarskynlike gebeurtenis van nog gevalle sal die studente, hul ouers en die publiek onmiddellik ingelig word. Die Universiteit sal Dinsdagoggend en -laatmiddag die universiteitsgemeenskap op hoogte hou.
Die simptome van breinvliesontsteking is op die Potchefstroomkampus se webblad beskikbaar en indien enige van dié simptome ervaar word, word persone aangeraai om dadelik hul huisdokter te kontak.
Die Universiteit wil weereens benadruk dat daar nie ʼn krisis op kampus is nie en dat eksamens voortgaan soos normaal. Indien die situasie verander sal dit onmiddellik gekommunikeer word.
Dis verskriklik! Baie sterkte aan haar familie en vriende. Dis vreemd dat die media nie die publiek in kennis stel dat daar wel n voorkomende immunisasie teen meningokokkale meningitis beskikbaar is nie. Die produk se naam is Menactra en kan aan enige persoon ouer as 9 maande toegedien word.
Eintlik die regering Anelle is duidelik aanspreeklik soos in die grondwet (vir wat dit werd is) uitgespel. Jy is egter volkome reg dat die media maar daardie rol sal moet vervul.
Die ergste is dat dit voorkomend is en ek voel dat Maroela hier ‘n byvoeging kan maak oor die simptome.
Sterkte aan haar familie .