NWU-studente moes glo hoofbedekkings verwyder voor eksamen

nwu-potch-puk

Die NWU se Potchefstroomkampus. Foto: NWU Pukke/Facebook

Die Noordwes-Universiteit (NWU) het gesê hy is bewus van twee onlangse voorvalle waar twee studente glo versoek is om geloofsverwante hoofbedekkings te verwyder voordat hulle eksamen kon skryf.

Willie du Plessis, woordvoerder van die NWU, het gesê die voorvalle word tans ondersoek. “Ons wil bevestig dat die NWU daartoe verbind is om die grondwetlike beginsels van godsdiensvryheid na te kom en dat enige voorvalle aangaande geloofsverwante onsensitiwiteit ten sterkste veroordeel word.”

Die twee voorvalle het onderskeidelik op die Potchefstroom-kampus en die Vaaldriehoek-kampus plaasgevind. Die student wat by die Potchefstroom-kampus versoek is om haar hoofbedekking te verwyder, het intussen Vrydag met prof. Fika Janse van Rensburg, waarnemende rektor van die kampus, vergader. “Die student het te kenne gegee dat sy nie ʼn verskoning verwag nie solank dit net nie weer met iemand anders gebeur nie.”

Daar is intussen geen amptelike klag by die Vaaldriehoek-kampus ingedien oor die beweerde voorval nie. Daar is wel ʼn grief by dié kampus se studenteraad ingedien en dit word ondersoek.

Volgens Du Plessis het die universiteit beginsels en beleid gereed met betrekking tot studente se kulturele en godsdiensbehoeftes. Du Plessis het gesê eksamenreëls se doel is om die akademiese integriteit van die universiteit se eksamengeleenthede te beskerm. “Soos met die meeste universiteite is daar landwyd ʼn toename in akademiese oneerlikheid wat ʼn direkte impak het op die kwaliteit van die kwalifikasies van die universiteit.”

Du Plessis het gesê die NWU pas streng reëls toe en dat die dra van hoede, pette en musse in eksamenlokale nie toegelaat word nie. “Ons beklemtoon egter dat dié reël nie van toepassing is op geloofsverwante kleredrag nie. Die NWU maak gebruik van tydelike toesighouers van buite die universiteit en daar word tydens opleiding spesifiek gewys daarop dat toesighouers sensitief moet wees vir godsdienstige praktyke.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Chris ·

Waarom so bohaai maak hieroor.
Reels is reels.
Unisa eksamens is dieselfde, jy mag nie jou ore bedek nie.

Manus ·

Dit raak nou regtig belaglik, reels Bly reels wragtig kan die mense nie meer reels volg nie. Ons samelewing het so sag geraak.

m ·

Ons weet teen nou reels in die land geld net vir sekeres. As dit nou wit kind was het hulle hom seker verbied om eksamen te skryf…….

Leeukop ·

Hoe lank gaan ons nog agteroorbuig vir so n onderdrukkende geloof?

Elizabeth ·

“what’s sauce for the goose is sauce for the gander.”

Gerhardt O ·

Nou wonder ek as ‘n student aandring dat sy met ‘n oop bybel langs haar mag eksamen skryf, ook geakkomodeer gaan word, of wat as jy hardop bid tydens eksamen of dagga rook voor die eksamen of ‘n pet dra want dis jou geloof?

Lance ·

Wat as almal nou in n burka gaan eksamen skryf ….hoe gaan jy sien wie skryf deur die skreefie …asb wys jou hele gesig of moet mens nou al gaan na n ekstreem van n retina scan ….haal jou kopdoek af …dra hom op straat in jou kar in jou swembad of swem in die see met jou bedekkings

Cherokee ·

Mense kan nie gemaskerd eksamen skryf nie. Diegene wat dit nie verstaan nie het reeds die eksamen gedruip.

John ·

Nagraadse studente het al namens vriende of familie eksamen gaan geskryf. Hulle is wel uitgevang. Dit is seker hierdie tipe ding wat hulle probeer verhoed.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.