NWU-studenteraad verwerp ‘onwettige’ verkiesing van registrasiepersoneel

Argieffoto.

Argieffoto.

Die studenteraad van die Noordwes Universiteit (NWU) se Mafikeng-kampus het Maandag sy misnoeë teenoor die bestuur van dié kampus uitgespreek rakende die “onwettige aanstelling” van 31 mense om die registrasie- en oriëntasieproses te lei.

Die studenteraad het in ʼn verklaring gesê hy het bewus geword van die universiteit se verontagsaming van die universiteit se beleid en die wet op hoër onderwys toe hierdie 31 mense sonder rede aangestel is om die verantwoordelikheid van die studenteraad oor te neem tydens die registrasie- en oriëntasietydperk.

Rebaone Pudi, woordvoerder van die kampus se studenteraad, het gesê die bestuur het die gekose studenteraad ondermyn “net omdat hy as studenteraad daarop aandring dat alle studente registreer al het hulle uitstaande skuld”.
Die studenteraad het gesê dat hy regstappe teen die universiteit aanhangig gaan maak indien die bestuur nie met die raad saamwerk nie.

Volgens Pudi sou die studenteraad en universiteitsbestuur Maandag vergader om die kwessies te bespreek.
Koos Degenaar, woordvoerder van die NWU se Mafikeng-kampus, het egter gesê dat die universiteit die besluit geneem het om hierdie mense aan te stel omdat die studenteraad die registrasieproses ontwrig. Hy het bygevoeg dat hulle gedwing is om voort te gaan met die registrasieproses. Daar is nog geen vergadering met enige party belê nie omdat hulle desperaat is om die registrasie van studente af te handel aangesien klasse eersdaags begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johann Marx ·

Dis tyd dat studente begin fokus op die rede hoekom hulle op ‘n kampus is, en dis om eksamens te slaag en graad te kry. Die studenteraad is nie daar om die Universiteit te bestuur of besluite namens NWU te maak nie. Daarvoor is daar ‘n Universiteitsbestuurspan. Hulle job is om die studente geregistreer te kry, by hulle klasse te kry, koshuise vol te hou, rekeninge uit te stuur…en die studente te help om hulle kwalifikasies te behaal. Hou op om in mekaar se doelwitte in te meng.

Johannes Froneman, woordvoerder van prof. Dan Kgwadi ·

Die visekanselier van die NWU, prof. Dan Kgwadi, het al heelwat kritiek op hierdie platform verduur. Dit is net billik om ook hier te noem dat prof. Kgwadi persoonlik heelwat tyd op die Mafikengkampus deurgebring het en sterk leiding geneem het om die situasie op dié kampus te normaliseer. Daarom, dank aan Johann vir sy kommentaar. Dit is in die kol. Ons moet Maandag met klasse begin en doen wat universiteite en sy mense veronderstel is om te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.