NWU swyg oor HK-lede se skorsing

Die eerstejaars sluit die Amfi-sessies op 21 Januarie af met musiek deur Majozi.

Nege huiskomiteelede van ʼn manskoshuis op die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit (NWU) is geskors ná ʼn voorval op 12 Januarie toe eerstejaarstudente blykbaar “verwelkom” is op ʼn manier wat nie “aan die waardes van die NWU voldoen (sic)” het nie.

Dít is amper al wat die universiteit Woensdag by monde van sy woordvoerder Louis Jacobs bereid was om te verklap oor die voorval wat blykbaar met ʼn onaanvaarbare ontgroeningspraktyk verband hou.

Die universiteit het sowat ʼn week gelede ʼn verklaring uitgereik waarin hy sê eerstejaarstudente is op Saterdag 12 Januarie op die Potchefstroomkampus verwelkom, waarna die registrasie- en oriënteringsprogram begin het.

Wat Saterdag gebeur en tot die nege HK-lede se skorsing gelei het, wou Jacobs nie sê nie. Hy het Maroela Media na die verklaring op die universiteit se webwerf verwys.

“Van die lede van die huiskomitee het na bewering nie hulle verantwoordelikhede nagekom op ’n manier wat aan die waardes van die NWU voldoen nie,” lui die verklaring. “Hierdie lede van die huiskomitee is voorlopig geskors [uit hul amp], hangende die uitkoms van die ondersoek.

“ʼn Interim komitee sal aangestel word om hulle verpligtinge oor te neem.”

Gevra of die kampus gereeld probleme met ontgroening ervaar, het Jacobs gesê aangesien hulle ʼn “geenverdraagsaamheidsbeleid” ten opsigte van ontgroening het, “kan ons regtig nie kla nie”. Die kampus het “baie jare gelede” laas probleme gehad. “In die verlede was daar geïsoleerde gevalle, maar ek wil nie sê dat [die huidige voorval] so ernstig is nie.”

Die universiteit wil nie die koshuis se naam bekendmaak nie; nog minder dié van die nege HK-lede wat geskors is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wouter ·

Die seuntjies het seker gaan kla hulle word nie goed behandel nie. Siestog julle sussies. Julle moes liewer SAW toe gegaan het en manne geword het soos julle ouers.

Mary ·

Wouter, dis presies hierdie houding van toksiese manlikheid wat vir soveel probleme verantwoordelik is. Ons lewe in 2019 – wie is nou nog besig met simpel ontgroenings stories? Tye verander – my liggaam is my eie en nie vir ander om te misbruik vir persoonlike ego’s nie.

Wouter ·

Jammer seuns ek is verkeerd. Het nou die ware feite gehoor by iemand in Caput. Net soos die Schweizer geval het iemand weer met alles weggehol soos ek hierbo. Die HK is net vir die ontgroenings tydperk geskors.

Peter Holmes ·

Hulle sal nie rus voordat hulle hierdie universiteit ook aftrek na hulle vlak nie. Soos Universiteit van die Vrystaat. En hulle eie Afrika ideologie afdwing.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.