NWU-taalbeleid: ‘Afrikaanse gemeenskap is nie meer naïef’

Hoofgebou-potchefstroomkampus

Hoofgebou by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit Foto: Maryke Laas, NWU

“Die Afrikaanse gemeenskap is nie meer naïef oor die mooi woorde van veeltaligheid wat nou by die Noordwes-Universiteit (NWU) opklink nie. Tukkies, Kovsies en Maties het ons van alle naïwiteit in dié verband gestroop.”

Dit was dr. Dirk Hermann, bedryfshoof van Solidariteit, se reaksie op prof. Dan Kgwadi, visekanselier van die NWU, se verklaring oor dié kwessie.

Kgwadi het Maandag in die verklaring gesê bespiegeling dat dié universiteit oorweeg om in die nabye toekoms te verengels is onwaar en op waninligting gegrond. Volgens hom staan die NWU se taalbeleid nog altyd veeltaligheid voor en so gaan dit bly.

Solidariteit het twee weke gelede ʼn veldtog begin waarin hulle die Afrikaanse gemeenskap vra om die taal as onderrigmedium by die NWU se Potchefstroomkampus te help beskerm. Daar het al 55 000 mense aan die veldtog deelgeneem en die absoluut oorweldigende meerderheid van hulle het nee gesê vir ʼn verandering aan die NWU se taalbeleid.

Hermann het gesê die basiese vraag oor die universiteit se nuwe taalbeleid bly steeds wat die taal van onderrig gaan wees wanneer die klasse om 08:00 soggens by die universiteit begin.

“Volgens ʼn werksdokument van prof. Robert Balfour, wat verantwoordelik is vir die ontwikkeling van die taalplan, gaan die taal Engels wees as die klas om 08:00 begin. Veeltaligheid sal daarin lê dat ander taalsprekers, onder wie Afrikaans-, Sotho- en Tswanasprekers, deur hulpmiddels ondersteun sal word en slegs in uitsonderlike gevalle in Afrikaans onderrig gaan word.”

Hermann het gesê die Afrikaanse gemeenskap se versoek vir die NWU se taalbeleid is eintlik eenvoudig: “Behou die huidige taalbeleid wat wêreldwyd erken word as een van die bestes. Moet geen taalaanbod verminder nie en ontwikkel Afrikatale as onderrigtale en nie net as hulpmiddeltale nie.”

Kgwadi het egter in sy verklaring benadruk dat die universiteit nog altyd baie duidelik meertalig was en streef daarna om sy meertalige aard te bevorder. Hy het bygevoeg die taalbeleid op die Potchefstroomkampus is in elk geval nie meer eksklusief Afrikaans nie.

“Dit is ʼn geruime tyd nie meer so nie en die meeste nagraadse programme op die kampus word in Engels aangebied. Voorgraadse programme word in ʼn verskeidenheid tale en modaliteite aangebied wat parallelmedium-onderrig, tolking en eentalige onderrig insluit.

“Om te redeneer dat Potchefstroom uitsluitlik Afrikaans is, is dus ʼn wanvoorstelling van sy akademici, sy studente en sy programme.”

Hy het ook gesê dit is nie waar dat die NWU se bestuur reeds ʼn besluit oor die taalbeleid geneem het nie.

Hermann meen egter die NWU staan voor ʼn groot toets vir die integriteit van die universiteit se konsultasieproses oor taal. “Die massareaksie van die Afrikaanse gemeenskap wys sy tande – die deelname aan die konsultasieproses oor die universiteit se taalbeleid is ongekend. Indien tienduisende nee sê, is die vraag of die NWU steeds ja sê vir Engelse onderrig.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

JA wohl ·

AG die Kgwadi ou smeer julle net heuning om die mond want hy WEET as die AFRIKAANSE kinders ophou betaal, stort die Universiteit in duie .. dis nog altyd hulle wat die Universiteite aan die gang hou en ruim skenk vir hulle Almamater . neewat .. julle sal binnekort sien dit was alles LEUENS ..

Geld ·

Is dit waar?
Ek glo nie as ek na die aantal swart sudente kyk (wie befonds word) by AL die ander universiteite.
NWU is nie verlee oor (wit) Afrikaanse studente.

Toppie ·

Dit gaan presies wees soos wat hulle met die kleure gedoen het, net wat hulle wil. Almal kan skree en te kere gaan en dit gaan niks help nie. Ek het afstudeer aan die PU vir CHO en is trots daarop. Wat nou aangaan op die eens geliefde PUK is ‘n absolute skande en ek distansieer my van die hedendaagse NWU. Ons taal, kultuur en tradisies beteken vir hulle wat aan die stuur staan net mooi niks!!! So wat my aanbetref moet hulle maar hel toe vlieg!!!

Basie ·

Ek voel presies dieselfde oor my alma mater – die Universiteit van Stellenbosch. Ek het alle finansiële steun aan die US gestaak en ondersteun Akademia nou met ‘n maandelikse bydrae.

jane ·

net gou van die os op die jas: my dogter in ‘n Afrikaanse hoërskool, kry nou-die-dag ‘n inligtingstuk van haar onderwyser in Engels. Daar sal die volgende dag ‘n toets geskryf word, en dis al wat hy nou het. ‘n Maat in ‘n ander klas kry dieselfde inligtingstuk in Afrikaans, en soos dit vandag maar gaan, kry sy dus die Afrikaanse bladsy per ‘whatsapp’ by die maat. Die oggend op pad skool toe, leer sy die Afrikaanse inligting van haar selfoon af, en merk op: “dis darem baie makliker om iets in Afrikaans te leer.” Daar het jy dit.

Stefan ·

Ek hoor al die redenasies, maar vrae wat pla ia die volgende :
Hoekom is die lektor vir die vierde jaars ( dieetkunde)….. Engels, hy is van italiaanse
afkoms en praat “Engels” met so n aksent dat niemand hom vertaan nie.
Hoekom moet die koshuis se name nou verander ?
Hoekom moet volgende jaar se inname alklaar aan n sekere kwota voldoen.

By Rhode universiteit was dit eers die taal, toe die stand beeld, nou is die naam van die universiteit!!!

WORD WAKKER

Max ·

Met die CHO reeds verwyder, help bou ons eie Christelike Afrikaanse Akademie.

Hanna ·

Why don’t, why don’t we believe you… Nice try Kgwadi! Ons is egter nie onnosel nie.

Kannaland ·

Klaar met transformasie, ons het als reeds ve rloor. Ons sal nie ons eiendom en potch verloor nie, NEE!

Selfbeskikking ·

Potch moet deel wees van die land waarvoor ons via selfbeskikking moet onderhandel. Die ANC sal nie ons eiendom waarvoor ons n paar generasies daar ook vernietig nie.

Jaco ·

PUK bestaan uit verskeie kampusse regoor die streek. Hoekom dan nie dit split in Engels by Mafikeng bv waar dit dalk nodig is nie en hou Potch hoofsaaklik Afrikaans of soos dit tans is nie. Dan sorg hulle mos vir verskeie voorkeure??

Albaster ·

Goeie idee. Hie Mafikeng kampus kan klasse in Tswana aanbied. Niemand het die reg om ons te dwing om ons taal weg te gooi nie, my taal het niks tedoene met mense met new age agenda van buite nie. Moet nie ander se taal en geloof onderdruk nie. Daar is plek vir almal by hulle onderskeie instansies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.