NWU-taalbeleid: Só sien Kgwadi die toekoms

Prof. Dan Kgwadi, vise-kanselier van die NWU Foto: Nico Strydom, Maroela Media

As ʼn voornemende student in 2035 op die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit in ʼn BSc-rigting wil gaan studeer, sal die onderrigmedium waarin sy klasse aangebied word afhang van die taal waarin die dosent die gemaklikste voel om sy klasse aan te bied.

Die onderrigmedium in die klasse by dié universiteit sal ook bepaal word deur die taal wat die studente in die spesifieke klas verkies.

“Indien die dosent verkies om die klas in Engels aan te bied en jou seun verkies Afrikaans, sal daar wel ʼn tolkdiens vir hom beskikbaar wees. Dieselfde diens sal vir studente beskikbaar wees indien hulle Engels is en die klas in Afrikaans aangebied word,” het prof. Dan Kgwadi, vise-kanselier van die NWU, Dinsdag verduidelik.

Dit is hoe Kgwadi die toekoms van die taalaanbod in klasse aan dié universiteit sien. Hy het erken die universiteit beskik tans oor ʼn uitstekende taalbeleid en daar is eintlik min wat daaraan verander moet word. Dit blyk egter die toepassing daarvan wat die doring in sy vlees is.

Hy het in ʼn telefoniese onderhoud met Maroela Media gesels oor die uitslag van ʼn meningspeiling oor die NWU se taalbeleid wat tans hersien word. Die meningspeiling wat die vakbond Solidariteit gedoen het, het getoon dat 61 275 mense gestem het dat Afrikaans die primêre onderrigtaal op die Potchefstroom-kampus moet bly.

Kgwadi het gesê hy twyfel of mense die universiteit se taalbeleid reg verstaan. Hy het ook weer benadruk dat die Potchefstroom-kampus van die NWU lankal nie meer net Afrikaans is nie.

“Ons moet toegang tot al ons kampusse verseker – alle studente van verskillende rasse moet hier welkom voel. As ons sê die NWU is ʼn veeltalige universiteit kan daar nie iets soos ʼn primêre of sekondêre onderrigmedium wees nie, alle tale moet gelyk behandel word.”

Hy het gesê die taaldebat wat tans veral oor die NWU se Potchefstroom-kampus woed, is met paranoia en verwarring gelaai.

“Mense wil nou eis dat sekere kampusse of universiteite vir ʼn taalgroep uitgesonder word en ek sê vir jou dit sal apartheid by die agterdeur inlaat. Dan is ons weer terug by die beleid van afsonderlike ontwikkeling soos wat destyds met die tuislandstelsel afgedwing is en ek is ʼn produk van daardie stelsel – ons kan dit nie toelaat nie.”

Kgwadi het gesê hy stem egter saam dat inheemse tale tot volwaardige onderrigmediums ontwikkel moet word.

“Ek ondersteun die idee ten volle en omdat die NWU in die Noordwes-provinsie geleë is, is dit ons plig om Setswana te prioritiseer vir dié soort ontwikkeling.

“Dit kan egter nie op ʼn wyse gedoen word waar die Setswana-student aan die Mafikeng-kampus studeer omdat dit die kampus is wat nou vir dié studente toegewys is nie. Wat van die studente van die Oos-Kaap wat by die NWU landbouwetenskappe wil studeer – hulle moet dit ook steeds by die NWU se Mafikeng-kampus kan doen.

“Ons spog daarmee dat die universiteit ten volle funksioneel veeltalig is, terwyl die universiteit se taalbeleid op ʼn eentalige manier toegepas word. Ons kan nie bekostig om eentalig te wees nie, die toepassing van ons taalbeleid moet dus verbreed word.

“Daar moet ʼn omgewing en leerervaring vir studente, Afrikaanssprekend en nie-Afrikaanssprekend, geskep word waar hulle dieselfde ervaring by al die NWU se kampusse het,” het Kgwadi bygevoeg.

En wat sê hy van die aantygings dat talle ander universiteite al dieselfde paadjie as die NWU met hulle taalbeleid gestap het en nou bykans reeds heeltemal verengels het?

“Ek dink nie hulle is werklik net Engels nie. Miskien ly ons almal tans aan dieselfde sindroom as dié waaraan ʼn slagoffer van ʼn verhouding waarin hy of sy mishandel is ly. Daarom vertrou ons tans niks wat uit daardie verhouding kom nie. Alles herinner ons aan die verlede en ek dink dit is waar ons onsself tans in die land bevind.

“Ek dink mense wil by die verkeerde begrafnis huil, hierdie is nie daardie begrafnis nie.”

Op ʼn vraag watter impak hy meen Solidariteit se meningspeiling op die universiteit se taalbeleid sal hê, het Kgwadi gesê: “Almal het die reg om hulself uit te druk. Mense kan aan ʼn referendum deelneem – dit is sekerlik hoe ʼn mens die meningspeiling kan beskryf – maar as die uitslag van daardie referendum ongrondwetlik is, sal die resultate nooit daglig sien nie.

“Dit gaan vir my hier oor wat die beste vir ons studente sal wees en jy moet onthou die Afrikaanse studente is ook my studente. Ek dra ook hulle belange op die hart.

“Ons moet sien hoe ons ʼn balans vir al hierdie studente kan skep. Dit is hoe ons dit sal benader maar ons gaan nie sekere regte beskerm nie. Hierdie land is ʼn diverse land en ons is ʼn reënboognasie. Wat belangrik is, is die manier waarop ons die pad hieruit verder vorentoe inslaan en verseker dat almal hul grondwetlike reg tot onderwys kan kry.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Dinarie ·

NWU se 2035 se taalbeleid = pie in the sky.

Dit sal blyk onuitvoerbaar te wees

Selfbeskikking ·

So sien ek die toekoms: ons onderhandel met die regering en buiteland om Potch deel te maak van ons eie land. Ons land sal ekonomies skitter soos Israel, ons sal veilig wees, en nie meer onderdruk of selektief tronk toe gaan nie. Ons sal moorde op ons stop. Kom nou mense, kom ons onderhandel in hierdie rigting.

Basson ·

‘n Paar kodewoorde, ‘As die meningspeiling ongrondwetlik is’, dekmantel vir vertrapping van minderheidsregte.

‘Ek glo nie ander universiteite is totaal Engels’, verseker weet hy hulle is!

Totsiens Afrikaanse aan NWU.

Hans ·

Hoeveel afrikaanse klasse word op Mahikengkampus aangebied? Is daar tolkdienste vir afrikaanssprekende studente?

Eugene ·

Ek dink nie enige iemand wil sien dat Afrikaans verdwyn nie, maar ons moet ook tred hou met wat internasionaal aangaan. Deesdae is die voertaal in howe amper 95% Engels, omdat die meeste Landdroste Engels verkies. Is dit dan nie beter dat jou kind bv eerder sy LLB in Engels doen en daaraan gewoond raak, as om dit in Afrikaans te doen en dan in die praktyk te moet aanpas onder druk nie? 11 Amptelike landstale maak dinge baie lomp…

Willem ·

Selfs al studeer jou kind in Afrikaans, sal hy genoegsame blootstelling aan Engelse gesag en skrywers tydens sy studies kry wat hom vlot in beide tale kan laat praktiseer. Ek wonder net hoe verstaan ‘n Engelse student gesag wat in Afrikaans gerapporteer is.

Fanie ·

Eugene, by ‘n Afrikaanse universiteit leer studente ook Engels goed ken dmv internasionale handboeke, die media ens. Niemand sê hul moet werksplek- en wêreldvreemd grootword nie. Maar taal is ‘n opleidingsbeginsel, nie net ‘n taalbeginsel. Afrikaans bly die enigste skans teen Afrikanisering. Transformasie begin net by verengelsing, dit eindig nie daar. Engels maak dit moontlik om die demografie van die studente en dosente ‘radikaal’ te transformeer- soos dit by al die ander TVET- en mpy kolleges, Tegnikons en universiteite soos UJ gebeur het. Die resep werk só: eers die taal, dan (rasse) transformasie, dan toegang en tuisvoel vir Afrikaanse studente, ens. Kgwadi wil nie net minder Afrikaans hoor nie, hy wil minder Afrikaners sien! Dis hoekom hy rasteikens stel. Dit gaan oor die kaping van die Puk. Als begin by Afrikaanse taal, kultuur, studente en dosente wat moet uit, want die land se bevolkingsamestelling moet weerspieël word.

Eish ·

Neen dus kennis van wat die geleerde prof. Kgwadi aan jul sê MM en almal van ons wat vir die behoud van Afrikaans gestem het.
Hy sê dat hy hom nie gaan steur aan die meningspeiling nie. “Maar as die uitslag van daardie referendum ongrondwetlik is, sal die resultate nooit daglig sien nie. ”
Synde dit ongrondwetlik is in die meerderheid se vertolking, “Kiss Afrikaans as vertaal goodbye”
Synde dat ons 61000 plus siele by die verkeerde begrafnis huil, spaar asb die koste van hofsake en kry Akademia aan die gang as volwaardige universiteit wat ook professionele mense kan oplei asseblieftog. Ons moet nou verby die spoeg en plak kursusse kom. Kry finansiering in die buiteland by goedgesinde regerings ens.
Alternatiewelik, gebruik die oorfone vir Afrikaanse klasse.

Gerhard ·

Die probleem is Akademia is maar net volgende op die lys. Hulle gaan nie stop omdat dit privaat is nie.

Faan ·

Stem saam. Privaat universiteite het 90%+ vryheid van die staat. Vergelyk bloot privaathospitale met staatshospitale.

Pietman ·

Noordwes sal verloor indien hul Afrikaans misken. Dis hoekom vele Afrikaners die universiteit juis kies, Neem dit weg en ‘n baie groot gros betalende studente sal ‘n ander universiteit kies.

Oom Kalahari ·

@Eugene, ek hoor wat jy se, maar hoekom is 95% al verengels, omdat ons dit maar net toelaat engenoee aanvaar. Dit stuur af op jou Afrikaanse Taal identiteit verdrukking. Ja baie gaan se maar praat by jou huis Afr en in die Korporatiewe wereld is dit Engels as algehele kommunikasie middel. Waarom word my taal en kultuur tot huishouding beperk? Ons was reeds onder druk met Engels onder die Britse Koloniale tydperk. Afrikaans en die blanke Afrikaner is net ‘n doring in die vlees vir vele en moet sodoende uitgewis word. Alles wat aan die blanke Afrikaner behoort, moet hom ontneem word. Kgwadi is ‘n produk van Jonathan Jansen wat die blanke Afrikaner en sy taal haat en uit wil faseer. Waar is nou die keuse van jou menswees om in jou Taal en Kultuur te wil voortleef as dit jou ontneem word en alle ander op jou afgedwing word. Ja ek noem dit spesifiek afgedwing word, want jy word gedwing wat om te doen, te se, met wie en wat te meng, wat jy gedwonge moet aanvaar en so gaan die Kommunistiese stelsel lys net aan.

SienDeurKwagadi ·

Bla bla sal nie minderheidsregte skend bla bla apartheid se skuld bla bla engels, engels anders huil ek wat Kwagadi is en begin die rassis kaart speel bla bla.

Ek is oortuig Kwagadi is deur die regering ingedruk in PUK bestuur om hulle verwronge agendas af te dwing. Bowenal is PUK n besigheid met betalende Afrikaanse studente. Kwagadi vergeet, as hy die regte hoeveelheid Afrikaans sprekendes afsit die inkomstegeld gaan opdroog. Dan moet die staat weer subsidieer en voor hy kan keer kry PUK bestuur n salaris verlaging.

Teen 2035, Akademia hier kom ons Afrikaners met ons betalende studente…

$$$ ·

Hoekom sal dit opdroog?
Ek sien nie enige ander universiteit waar wiites < 15% is dat daar geldelike probleme is?
Tyd om te besef wit kapitaal is aan die kwyn, die wit middelklas is sowat 1/3 maar van die middelklas groepering, en krimpend.
Jammer maar daardie retoriek is nie meer geldig, BEE ens het wit welvaart al 'n geweldige knou toegedien. (Het jy al opgemerk, baie advertensies het glad nie meer wittes in? Veral banke en motormpye se reklameveldtogte, wat sê dit vir jou)

@ $$$ ·

Jy laat my lag . JA die ADVERTENSIES is meestal swart . NIE omdat die wit koopkrag verdwyn het nie maar omdat alle adverstensiemaatskappye en mense GEDWING word om swartes in hulle advertensies in te bring. TWEEDENS word meeste SWARTES soos jy dit nou wil hê met BEURSE betaal . hulle betaal nie self nie . WAAR dink jy kom die BEURSE vandaan? Jy is nie heeltemal logies nie .. Gaan kyk asb tog na FEITE voordat jy jou naam Kimberley maak . die WIT koopkrag VERDWYN allermins . die WITTE se TAKS betaal nou vir die SWART WANBETALER se krag en water en verblyf EN universiteit en medies .. VERSTAAN jy dit nou??

Martha ·

Ek hoop nie ek hoef ooit weer n toespraak by n gradeplegtigheid (wat veronderstel is om heuglike gebeurtenis te wees) soos Prof Balfour s’n by te woon nie.

Casper Labuschagne ·

Kom ons maak dit eenvoudig, wat van ‘n Afrikaanse universiteit met alle klasse in Afrikaans waar die studente ook almal Afrikaans magtig is? Aha, maar dit was presies wat die PUK was voordat Theuns Eloff dit alles verander het in die naam van transformasie, of ten minste voordat die luiperd wat Eloff uit die hok vrygelaat het, hom self by die PUK opgevreet het, juis omdat hy te wit is.

Eie skole, eie taal onderrig, universiteite wat onderig bied in jou eie taal – wat is verkeerd daarmee as ‘n basiese reg vir ‘n minderheidsgroep wat dit boonop self kan befonds?

Gemaskerde Sopbeen ·

Kom ons wees nou maar vir een maal brutaal eerlik. Dit gaan NIE oor die taal nie, dit gaan oor die taal-praters. Dit gaan oor ‘n kultuur….en die Afrikaanse kultuur is een van hardwerkendheid, samewerking, respek (vir mekaar en mekaar se eiendom), betaal vir wat jy kry, reik uit na jou eie mense wat finansieel swaar kry, en kry jou graad. ‘n Paar jaar terug se PUK en die “nuwe” PUK (met al die Engels-praters ) is net nie die dieselfde ding nie. Sodra die Engels-praters daar opdaag is daar onmin, daar is diefstal, daar is geen respek nie, daar is optogte en eise, daar is brandstigting en skade, daar is wrywing en aanmatigende arrogansie, daar is ontwrigting en skande……….en die Afrikaans-sprekendes loop. Hulle’t geloop by Maties, hulle’t geloop by RAU, hulle’t geloop by Kovsies……..en hulle sal hier ook loop. Werk hard aan Akademia, en hou dit Afrikaans…..en stel tog ‘n Vise-Kansellier aan wat Afrikaans is, Afrikaans praat, Afrikaans verstaan, Afrikaans beskerm, Afrikaans wil uitbou, Afrikaans glo en in Afrikaans bid………nie een wat se naam of van met ‘n dubbel medeklinker begin nie. Amen.

Ivan Faught ·

Uitstekende berig.

Prof. Dan Kgwadi is helderdenkend en dra almal se belange op die hart. Doe zo voort.

Moedertaal onderwys op Primêre vlak is van uiterste belang. Selfs in diverse gemeenskappe. Op Sekondêre vlak behoort kinders reeds dubbel-medium onderrig te ontvang in meer as net die moedertaal want kinders behoort blootstelling te begin kry vir wat voorlê in wat aangaan in die werklike wêreld.

Op Tersiêre vlak is moedertaal onderrig ‘n voorreg en nie meer ‘n reg nie. Veral in ‘n diverse land soos SA. Dan behoort ‘n Wêreldtaal aangeneem te word. Want dit is die taal waarin die meerderheid studente hul werkslewe in gaan deurbring. Watter beter taal is daar op Tersiêre vlak as Engels.

Minderheidstale kan steeds met tolke geakkommodeer word soos wat reeds op die PUK gebeur. Maar soos gemeenskappe evolueer so evolueer reëls ook.

Natuurlik sal daar altyd die selfsugtiges wees wat net aan hulself en hul eie regte dink, sonder om andere sin in ag te neem. Die selfsugtiges sal gelukkig met tyd uitsterf. Die wat bereid sal wees om aan te pas sal sukses beleef.

Eugene ·

Ivan, ek stem saam met jou 3de en 4de paragrawe. Moedertaal onderrig op laerskool vlak is uiters belangrik. Van hoërskool vlak af is dit makliker om in ander tale ook te leer. Op tersiere vlak behoort ‘n student al in Engels te kan studeer en gaan dit hom net in die praktyk help. Solank elkeen van ons aanhou om Afrikaans in ons huise en sosiale kringe te praat, sal dit nooit uitsterf nie. Ek sien mense is vinnig om dit ‘n kleur ding te maak, maar die meerderheid afrikaans sprekendes in SA is verseker nie wit nie.

karen ·

Ivan – ek stem saam met jou en Eugene hierbo. Grootste deel van my werkdag is in Engels al is 90% van die kantoormense Afrikaans Moedertaal-sprekend. Ek probeer my kinders soveel moontlik aan Engels blootstel want wie weet wat oor 5 jaar gaan gebeur …. noem my dan eerder bang jan as dooie jan…

Hanna ·

Blah, blah, blah… Kgwadi, ons het nie die die IK en mentaliteit van die deursnee ANC en EFF kiesers nie: ons sien regdeur jou planne! Nou gaan jy seker net “Engelse” dosente aanstel om jou plan te bereik en Afrikaans heeltemal uit te faseer. Hoop die Engelse studente brand nie jou kampus voor 2035 af nie…

Manie ·

Hierdie man is net soos Jansen geplant was op kovsies daar om die Universiteit n ander kleur te gee. En een manier is om Afrikaans te vertrap

Gerhard ·

Ek is bevrees as enigiemand dink daar is enige kans dat Afrikaans op PUK gaan oorleef droom jy.

Sonja ·

Die skrif is aan die muur: NWU gaan en sal transformeer. Dit is jammer, beide my kinders het aan Pukke studeer en dit was ‘n wonderlike ervaring. Tóg het ons gelet dat die getalle blanke studente jaarliks gekrimp het. Ek stem daarmee ook saam met wat $$$ hierbo sê, dat hul prioriteite nou by die meerderheid lê. Die verlies aan blanke studente is nie vir die bestuur ‘n kommer, daar is duisende studente van ander rasse wat die getalle met graagte sal opmaak.
Ek is van opinie dat die KWALITEIT van onderrig veel belangriker is as die taal waarin dit aangebied word. ‘n Student wat toegewyd is kan en sal uitblink ongeag die taal waarin hy studeer.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.