NWU vervroeg ook reses

Hoofgebou-potchefstroomkampus1

Hoofgebou by die Potchefstroom-kampus van die Noordwes-Universiteit Foto: Maryke Laas/NWU.

Die Noordwes-Universiteit het intussen besluit om sy reses te vervroeg nadat akademiese aktiwiteite aanvanklik Maandag voortgegaan het.

Talle universiteite het in die lig van die maatreëls wat pres. Cyril Ramaphosa aangekondig het, besluit om vir eers alle kontaksessies te kanselleer.

Die bestuur van die NWU het Maandagaand aangekondig dat besluit is om die reses te vervroeg. Die reses begin vandag tot 29 Maart.

Alle sportbyeenkomste, insluitend oefensessies en informele sportaktiwiteite, is gekanselleer of word uitgestel en al die universiteit se gimnasiums is onmiddellik gesluit. Alle sosiale en informele byeenkomste word verbied op die NWU se persele tensy dit via video-uitsending plaasvind.

Alle akademiese funksies soos intreeredes, openbare akademiese lesings en gradeplegtighede word tot verdere kennisgewing uitgestel.

Die Universiteit Stellenbosch (US) het ook sy reses vervroeg en alle studente in US-koshuise is versoek om hul kamers te ontruim en terug te keer huis toe vir die resestydperk.

Die Universiteit van Pretoria (UP) het ook besluit om kontakklasse, gradeplegtighede, konferensies, massabyeenkomste en geleenthede – insluitend sportaktiwiteite – aan die universiteit met onmiddellike inwerkingtreding op te skort. Koshuise word ook gesluit.

Die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) het aangekondig dat sy reses op 17 Maart sal begin tot na die Paasnaweek. Alles koshuise word ook gesluit en gradeplegtighede is vir eers gekanselleer.

Die Universiteit van Johannesburg (UJ) het ook alle klasse, toetse en praktiese opdragte met onmiddellike inwerkingtreding gestaak tot verdere kennisgewing.

Die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) het alle klasse vir Maandag opgeskort, maar nie meer inligting bekend gemaak oor of klasse van vandag (Dinsdag) af weer voortgaan nie. Wits het al verlede week sekere kontakklasse opgeskort nadat ʼn student positief vir Covid-19 getoets het.

Die Universiteit van Kaapstad (UK) het ook al sy klasse opgeskort en koshuise gesluit. Die universiteit het bevestig dat een van sy personeellede positief getoets het vir Covid-19. Die personeellid word tuis in isolasie behandel.

Die Universiteit van KwaZulu-Natal het ook sy akademiese program opgeskort en gradeplegtighede is ook vir eers van die baan.

Unisa het ook al sy gradeplegtighede opgeskort, insluitend ʼn geleentheid wat Maandagaand sou plaasvind. Unisa het om verskoning gevra vir die ongerief en gesê hy sal in ʼn latere stadium verder hieroor kommunikeer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.