NWU-visekanselier se ampstermyn hernu

Prof Dan Kgwadi. Foto: NWU

Die raad van die Noordwes-Universiteit het prof. Dan Kgwadi vir ʼn verdere vier jaar as visekanselier heraangestel.

Kgwadi se eerste termyn as visekanselier verstryk in Mei 2020 nadat dit op 1 April 2014 begin het. Hy is Donderdag tydens die raad se vergadering heraangestel.

Die raad het prof. Kgwadi bedank vir sy diens gedurende sy eerste termyn en hom gelukgewens met sy herbenoeming.

“Ek is baie dankbaar oor die mosie van vertroue – nie net in my nie – maar ook in die bestuurspan onder my leiding,” het prof. Kgwadi gesê.

“Voorts wil ek graag my dank uitspreek teenoor die breër NWU-gemeenskap, insluitende gewaardeerde belanghebbers soos ouers, alumni en ons sakevennote, vir hul volgehoue ondersteuning in ons strewe om ʼn internasionaal erkende universiteit in Afrika te wees wat bekend is vir sy wetenskapsbeoefening, maatskaplike responsiwiteit en ʼn sorgsaamheidsetiek.

“Ek sien uit na my volgende ampstermyn en sáám is ons vasbeslote om die NWU vorentoe te neem op sy trajek van sukses.”

Kgwadi se heraanstelling volg kort nadat dr. Anna Mokgokong, bekende sakeleier en entrepreneur, as kanselier aangestel is. Sy sal as titulêre hoof van die NWU dien. Alle kwalifikasies wat deur die universiteit toegeken word, word formeel deur die kanselier toegeken.

Kgwadi, Mokgokong en Tyobeka. Foto: NWU

Dr. Mokgokong, wat aan die stuur is van Community Investment Holdings (Edms) Bpk, waarvan sy ook die stigtersvoorsitter is, is ’n senior direkteur van vyf maatskappye wat op die Johannesburgse aandelebeurs genoteer is en voorsitter van drie van hulle.

Haar ander prestasies sluit in dat sy in 1999 die gesogte SA Sakevrou van die Jaar-toekenning gewen het. In 2015 het die departement van handel en nywerheid, in vennootskap met Trots Suid-Afrikaans en Brand South Africa, dr. Mokgokong met ’n leeftydprestasietoekenning by die Suid-Afrikaanse Premier-besigheidstoekenningseremonie vereer.

Sy sê sy voel dat om as kanselier te dien ’n roeping is. “My mantra is: ‘Steek jou hand op, word raakgesien en erken.’ Dit is vir my ’n roeping tot gemeenskapsdiens waaraan ek my lewe gewy het.

“Ek kan nie aan ’n toepasliker instelling dink waarmee ek geassosieer wil word nie, en een wie se geografiese voetspoor met die reis van my loopbaan ooreenstem. Die universiteit strek oor twee provinsies, en sluit halfplattelandse asook stedelike omgewings in, en dit verteenwoordig ook ’n mikrokosmos van ons uiteenlopende samelewing en kultuur.”

Dr. Bismark Tyobeka, voorsitter van die NWU-Raad, sê dat die instelling van dr. Mokgokong as die heel eerste vroulike kanselier van die universiteit hulle verbintenis tot proaktiewe transformasie bevestig. “Dit vestig ons ook as ’n bastion van gelykheid.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jimmy ·

Die ou Puk moet eerder afstig en ‘n private universiteit word.

Feite ·

N bastion van gelykheid onderdruk nie ander rasse se ideologiee, tale, kulture en gelowe tot een rasgedrewe ideologie en beleid nie. Die NWU se transformasiebeleid is ANC rasgebaseerde transformasiebeleid wat ongelykheid en rassisme bevorder en wat ondemokraties en ongrondwetlik is!

Tant Anna ·

gelukkig, was ek bevoorreg om n trots PUK te gewees het, aan n puik universiteit ini vroeg 80’s… hartseer dat DIT nou gebeur daar, wat gebeur… aaaai tog!

Kallie ·

Stap dieselfde pad as Kovsies. Een van die dae net Engels.

Duiwelsadvokaat ·

…” bastion van gelykheid??”. Dis seker die gelykheid van animal farm waar almal gelyk is, maar sekere engelsprekendes is meer gelyk as afrikaans sprekendes. Stil stil is al die afrikaanse borde op die Puk vervang met engels en tswana. Nes die maroon met pers. Een van die dae is die ou Puk ook nes die ander “proaktiewe” getransformeerde kampusse ‘n baken van engelse middelmatigheid en afguns vir alles afrikaans. RIV Pukke.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.