Nxasana verwelkom uitspraak in grondwethof

Mxolisi Nxasana, voormalige hoof van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) (Foto: Getrude Makhafola/ANA)

Mxolisi Nxasana, die voormalige hoof van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), het gesê hy is tevrede met die uitspraak in die grondwethof wat Shaun Abrahams se aanstelling in 2015 tersyde gestel het.

Nxasana, wat ʼn goue handdruk van oudpres. Jacob Zuma van R17 miljoen ontvang het om die NVG te verlaat, het gesê hy is gereed om die geld terug te betaal, soos die konstitusionele hof beslis het. “Ek is tevrede met die uitspraak. Dit kom ná die hooggeregshof my aansoek verwerp het. Ek voel vandag geregverdig. Die hof het na my weergawe geluister en dit aanvaar. Ek is bereid om die geld terug te betaal soos wat die konstitusionele hof beslis het,” het hy aan verslaggewers gesê.

“Dit is nou meer as drie jaar [sedert hy die NVG verlaat het] en ek is onderwerp aan vernedering. Ek het aanvaar wat gebeur het, soos wat julle gehoor het regter [Mbuyiseli “Russel”] Madlanga het gesê hy voel jammer vir my oor die manier hoe ek behandel is.”

Die Pretoriase hooggeregshof het geweier dat Nxasana ʼn verklaring met sy weergawe van die gebeure, wat daartoe gelei het dat hy die NVG moet verlaat, indien. Die verklaring is baie laat ingedien, lank ná Freedom Under Law (FUL), Corruption Watch en die Council for the Advancement of the South African Constitution (Casac) dokumente ingedien het om te versoek dat Abrahams se aanstelling tersyde gestel moet word.

Regter Madlanga het beslis dat Nxasana nie na die NVG mag terugkeer nie.

Nxasana het die volgende advies vir aanklaers van die NVG aangebied: “Gaan ywerig en getrou voort met julle werk. Beamptes moet ʼn bladsy uit dié uitspraak haal oor die hele scenario. Vermy agendas, kampe… mense moet sonder vrees of voordeel kan werk. Hulle moet almal gelyk behandel en nooit bang wees om enigiemand te vervolg nie. Hulle moet nooit toelaat dat enigiemand met hul werk inmeng nie.”

Casac en Corruption Watch het ook die uitspraak verwelkom. Lawson Naidoo, direkteur van Casac, het gesê pres. Cyril Ramaphosa moet nou ʼn nuwe hoof vir die NVG aanstel. “Ons hoop dat hy vinnig sal optree. Die konstitusionele hof het hom 90 dae gegee om ʼn nasionale direkteur van openbare vervolging aan te stel. Ons hoop dat dié aanstelling selfs vroeër sal plaasvind, sodat die proses, om die NVG skoon te maak, so vinnig as moontlik kan plaasvind.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Joshua ·

Abrahams moet dadelik afgedank word-hy gaan die oorsaak wees dat Zuma, die Guptas en vele ander Zuma korrupte ANC kriminele in Eskom, Transnet,Prasa, Treasury, PIC, SAL en vele meer gaan vryloop.

Sjoe ·

Hierdie mense kry darem enorme hoeveelhede geld, in ‘n kort tydjie .. kan nie glo dat ons wat meer as 30 jaar al ‘n ou spaargeldjie bymekaar gemaak het sukkel om een ou miljoentjie bymekaar te kry terwyl hierdie goue handdrukke nooit onder R10 miljoen is nie .. Ek dink die gaping tussen die rykes en armes het NOG groter geword en dit is NIE op kleur gebaseer nie ..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.