‘Nxasana was geregtig op sy goue handdruk’

Mxolisi Nxasana. Foto: ANA.

Die konstitusionele hof het Woensdag gehoor Mxolisi Nxasana, voormalige hoof van die nasionale vervolgingsgesag (NVG), was geregtig op die R17 miljoen goue handdruk wat hy van oudpres. Jacob Zuma ontvang het om sy pos te verlaat.

Adv. Michelle Le Roux, vir Nxasana, het aangevoer dat haar kliënt in ʼn onuithoudbare situasie was waar senior NVG-beamptes soos Nomgcobo Jiba na bewering teen hom saamgesweer het deur direk met Zuma te skakel.

“Hy [Nxasana] het die NVG bo homself gestel vir die land en vir stabiliteit in die NVG. Dit is hoekom hy uiteindelik besluit het om dit te doen – miskien is dit makliker vir ons om hier te sit en te bevraagteken hoekom het hy nie uitgehou en die betaling geweier nie,” het Le Roux gesê.

“Hy het elke moontlike oplossing om die situasie beter te maak ondersoek, met geen resultate nie. Hy het afgetrede regter Zak Yacoob ingebring in die hoop dat die president na hulle sou luister. Hy het agbare lede van die NVG gekry om dit aan die minister te stel dat dinge moet verander.”

Regter Johan Froneman het ingetree en gevra: “Ek aanvaar dit alles en ek het simpatie met hom… Was dit nie vir hom moontlik om nie te weier om te skik nie?”

Le Roux het gesê sy is nie seker hoeveel mense daardie twee jaar sou kon deurstaan en dan homself beskikbaar stel vir nog agt jaar nie.

Volgens haar het Nxasana talle uitdagings in die gesig gestaar, insluitend ʼn kommissie van ondersoek, litigasie in die hooggeregshof en ʼn veldtog teen hom waar die polisie gestuur is om iets te kry om hom te beswadder.

“Kon hy dit alles regtig vir nog agt jaar verduur?”

Sy het bygevoeg dat die minister van justisie en Zuma Nxasana gefaal het.

“Dit het tot ʼn punt gekom waar hy gesê het: ‘Ek is hier ingevolge my kontrak. Ek word weerhou om my werk te doen deur die eerste burger van die land (Zuma).’ So uiteindelik was hy geregtig op sy kontraktuele waarde. Sy posisie was, as julle my wil uit hê, dan is ek geregtig op my kontraktuele waarde.”

Le Roux het ook aangevoer dat Nxasana ingestem het om die R17 miljoen terug te betaal en hy het verskeie partye bygestaan om agter die kap van die byl te kom van wat in dié uitgerekte saak plaasgevind het.

Die hooggeregshof in Pretoria het in Desember verlede jaar beslis dat Shaun Abrahams se aanstelling as nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) ter syde gestel word, dat pres. Cyril Ramaphosa ʼn nuwe NDOV moet aanstel, en dat Nxasana die goue handdruk moet terugbetaal.

Nxasana se beëdigde verklaring waarin Le Roux gesê het daar bewyse van kommunikasie tussen Nxasana en Zuma was, is deur die hof verwerp omdat dit te laat ingehandig is.

Nxasa appelleer nou teen die hof se weiering van sy verklaring.

Le Roux meen dit is onregverdig van die hof om sy kliënt as “ʼn man met ʼn prys” te bestempel en het beklemtoon Nxasana het ingestem om die geld terug te betaal.

Hiton Epstein, vir die NVG, het egter aangevoer dat Nxasana ná hy die geld ontvang het en die NVG in Junie 2015 verlaat het, nooit probeer terugkeer het nie.

Hy het gevra waar die R17 miljoen is wat Nxasana sou terugbetaal.

“Hy het die eerste keer in Augustus 2017 aangedui hy wil terugkeer. Hy het agteroorgesit vir twee jaar – tevrede om die geld te hou. Die staat moet sê ‘wys my die geld’. Waar is die geld wat hy gekry het? Hy hou aan sê dat hy dit gaan terugbetaal, maar hier is hy steeds, besig om te praat oor die terugbetaling daarvan,” het Epstein gesê.

Epstein het ook gesê die hof moet daarvan kennis neem dat hy nie net die R17 miljoen ontvang het nie, maar ook sy pensioen en verlofvoordele.

Epstein het gesê sy kliënt stem saam die goue handdruk was onwettig.

“Dit is irrasioneel om openbare fondse te gebruik om iemand te betaal om te loop – insluitend sy pensioen. Dit is ʼn absolute misbruik van mag. Hy kon op die meeste net sy pensioen gekry het.”

Die NVG en Abrahams appelleer by die hooggeregshof oor die besluit om Abrahams se aanstelling ter syde te stel en voer aan dat sy aanstelling geldig was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

christa ·

ek sou verseker die goue handdruk van miljoene gevat het… hoekom moes hy weier. Zuma wil hom uit gehad het. Eintlik moet die geld van Zuma verhaal word.

marous ·

Heeltemal korrek . Verdere aanklag van intimidasie en bedrog van 17m waardeur die belasting betaler skade gely het.

Askies ·

JANEE alles wat die ANC doen word goedgekeur tot in die Grondwethof . . jy wen al jou sake as jy ANC is, as jy enige ander party is is jy gedoem. Uit wie se sak kom daardie geld? O ja die SKAPE in SA wat alles maar net gedwee aanvaar met koppe gebuk wat steeds askies vra …

SjN ·

Hoeveel was sy jaarlikse salaris gewees om dit te regverdig, korrupte spul

Manna ·

R17 miljoen geen wonder daar is nie geld vir belasting betalers se behoefdes. Dis absurt dat die mense in staats diens sulke groot pensioene kry vir kort tydperk van diens. Hulle is daar om te dien. Nie om hulle self te veryk.

Johann Marx ·

Ek wil ook R17 miljoen vir twee jaar in my rekening hê, en sal dit dan terug gee. Enige iemand?

lee ·

Ek het OOK ‘n goue handdruk nodig – asb Meneer.
Maar ek het nog nooit een korrupte daad gedoen nie, werk net my alie af en betaal JanTax met ‘n swaar hart.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.